2 AUGUSTUS
August 2, 2015
’n Beroemde vader en sy seun
August 3, 2015

Gebeure

1853 – Eerste Algemene Kerkvergadering op Rustenburg

Op hierdie dag is die eerste Algemene Kerkvergadering van die onafhanklike Voortrekkerkerk op Rustenburg geopen. Hierdie vergadering met ouderling FG Wolmarans as voorsitter en ds. Dirk van der Hoff as skriba, is gevorm deur al die kerkraadslede van die gemeentes Potchefstroom, Rustenburg en Soutpansberg. Lydenburg was nie teenwoordig nie. Byeengeroep deur die gesamentlike Krygsraad, moes die vergadering sy verhouding tot die NG Kerk van die Kaapkolonie bepaal. Met die koms van ds. Van der Hoff na Transvaal, was dit ’n saak van dringende belang. In Oktober 1852 het die Kaapse Sinode ’n voorstel om die Transvaalse gemeentes in sy kerklike organisasie op te neem, goedgekeur. Na uitvoerige bespreking en op aandrang van die kerkraadslede, is besluit om die “inlywing” by die Kaapse NG Kerk nie te aanvaar nie. Die hoofargument was: “burgerlijk vrij en onafhankelijk, wenschen wij dit ook in het kerkelijke.” Die kultureel-politieke argument wat verwys het na die mate van seggenskap van die Engelse goewerneur in Kaapse kerklike aangeleenthede, het by die republikeinse Afrikaner die deurslag gegee. Op die volgende Algemene Kerkvergadering van November 1853, waar die Lydenburg-gemeente ook teenwoordig was, in samesitting met die Volksraad, is die besluit eenparig bekragtig. So is die organisatories onafhanklike voortbestaan van die Voortrekkerkerk bestendig. Terselfdertyd is beklemtoon dat die band van die geloof wat die kerke aan mekaar verbind, onverminderd gehandhaaf moet bly.  As selfstandige kerk het die Ned. Hervormde Kerk onder die leiding van ds. D van der Hoff, ’n belangrike rol gespeel in die handhawing en uitbouing van die Voortrekkers se vryheidsideaal. Op hierdie vergadering is ook die eerste tekens waargeneem van die afwykende houding oor die Evangeliese Gesange en hulle plek in die kerk. Dit lei uiteindelik in Februarie 1859 tot die stigting van die Gereformeerde Kerk op Rustenburg.

1881 – Konvensie van Pretoria onderteken

Die Zuid-Afrikaanche Republiek is in April 1877 deur Brittanje geannekseer. Verskeie samesprekings is tussen die Boere en die Britte gehou om die sak te besleg – juis ook in Engeland, maar dit het niks opgelewer nie. Daarna het die Transvaalse Vryheidsoorlog van 1880 tot 1881, gevolg. Hieruit het talle verder onderhandelings gespruit wat tot die Konvensie van Pretoria in 1881 gelei het. Dit het bepaal dat van 8 Augustus af die ZAR weer in elke opsig selfbestuur sal geniet, maar nie volle onafhanklikheid nie, want hy was aan Britse soewereiniteit en sekere ander voorwaardes onderworpe. Namens Boerekant het S.J.P. Kruger, M.W. Pretorius en P.J. Joubert geteken. Hercules Robinson het as Britse Hoë Kommissaris geteken, Evelyn Wood as Britse hoofamptenaar in Transvaal en sir Henry de Villiers as Kaapse Hoofregter. Pres. Brand het as vriend en raadgewer vir albei partye opgetree. Veral Wood was, seder die onderhandelings tussen die Boere en die Koninklike Kommissie in April begin het, uiters onverdraagsaam en ontoeskietlik. Die Konvensie was toe ook baie ongunstiger as wat verwag is, en as wat Transvaal na sy Amajuba-oorwinning verdien het. Onder meer is bepaal dat die ZAR heelwat grond aan sy wesgrens moet afstaan, dat hy in binnelandse sake grootliks vry is, maar met buitelandse sake telkens op die goedkeuring van Engeland moet wag. Swaziland is onafhanklik van Transvaal verklaar. ‘n Beledigende bepaling aangaande slawerny is ook opgeneem – beledigend, omdat die indruk gewek is dat slawerny in Transvaal bestaan het en nou danksy Brittanje verbied word. Verder is ‘n vast Kommissie van Naturelle lokasies en ook ‘n Britse Resident in Pretoria benoem. Naturelle is voorts vryheid van beweging en hulle reg op grondbesit en toegang tot die Resident aangaande klagtes gewaarborg. Engeland kon ook in oorlogstyd Britse troepe ongehinderd deur die gebied laat trek. Alle ooreenkomste deur Transvaal met naturelle gesluit, sou deur die Resident nagegaan en goedgekeur moet word. Oor en weer sou kompensasie vir skade tussen 1877 en 1881 gely, nagegaan en uitbetaal word. Transvaal moes ‘n hoë skuldelas teenoor Engeland betaal. Vryheid van godsdiens en volle geleentheid tot regspraak sou voortbestaan. Grenslyne is behoorlik vasgestel, behalwe die suidwes-grens. Op 8 Augustus is die land toe formeel en amptelik aan die Boere as die Transvaal-staat oorhandig en nie as die ZAR nie. Honderde gewapende burgers was op Kerkplein teenwoordig. Paul Kruger is deur ‘n berede erewag ontmoet. Die vierkleur is onder groot toejuiging gehys. Staatsekretaris Bok het ‘n vryheid dokument voorgelees. Amptenare is later beëdig. Die Konvensie het Kruger as leier van die Transvaalse Boere laat uittroon, maar tegelyk sy ywer geprikkel om op meer regte en vryhede wat in 1877 verlore gegaan het, aan te dring. Kruger en ander het dadelik om volle herstel van die vryheid gepleit. Hieruit het die Konvensie van Londen van 1884 gevolg.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Insident by Holfonteinstasie

1993 – Suid-Afrika en Namibië

Suid-Afrika teken ’n ooreenkoms met Namibië oor die voorsiening van tegniese en administratiewe personeel deur die regering van Suid-Afrika aan die regering van Namibië.

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1823 – Jacob Abraham Uitenhage de Mist, kommissaris-generaal van die Kaapkolonie (* 30 April 1749)

As regsgeleerde en lid van die Asiatiese Raad, het hy op 1 Maart 1803 as Kommissaris-generaal die bewind van Kaap die Goeie Hoop oorgeneem. Liberale hervorming wat hy geproklameer het, sluit o.m. in: ’n sentrale regering beliggaam in die Politieke Raad, ’n Rekenkamer, Boedelkamer en Raad van Justisie; leningsbanke is georganiseer; vryhandel is bevorder; ’n gemeenteraad (stadsraad) vir Kaapstad is ingestel; die Kerkorde van 25.7.1804 het Kerk en Staat geskei, maar die oppergesag van die Staat is gehandhaaf; met die Skoolorde van 11.9.1804 is die regstreekse invloed van die Kerk uitgeskakel en is sekulêre onderwys onder staatsbeheer geplaas; nasionaal-gerigte onderwys is bevorder; die buitedistrikte se geregtelike en politieke bestuur is ingrypend en doeltreffend gewysig: die landdrosdistrikte Uitenhage en Tulbagh is gestig, die landdroste en heemrade se funksies is omskrywe, die finansiële administrasie is doeltreffender gereël, grondbesit en die leningsplaasstelsel is verbeter, veldkornette se gesag is uitgebrei en elke Drostdy het kommissarisse vir huweliksake gekry; die afskaffing van die Hottentotkorps is oorweeg omdat dit ondoeltreffend was; ’n stelsel van vrye arbeidskontrakte vir Hottentotte by koloniste is ingestel; goedgekeurde sendinggenootskappe is toegelaat om met die ondersteuning en onder toesig van die owerheid te arbei; koloniste en nie-blanke stamme aan die Oosgrens is geskei; nie-blanke kapteins se seuns sou elementêre landbouonderrig ontvang om die beskawing onder die nie-blanke stamme te bevorder. De Mist het in Februarie 1805 die Kaap verlaat en na Nederland teruggekeer, waar hy op 3 Augustus 1823 oorlede is. 

1863 – Eerwaarde Erasmus Smit, eerste predikant van die Voortrekkers (* 2 Augustus 1778)

Erasmus Smit was die eerste predikant van die Voortrekkers. Hy is op 2 Augustus 1778 in Buiksloot bij Amsterdam gebore. Hy was die seun van ’n stuurman op ’n skip wat met Wes-Indië handel gedryf het. Hy bring van sy jeugjare in ’n weeshuis deur. Hy word ’n sendeling in Amerika in 1801 en kom in 1804 aan die Kaap aan. Hy werk saam met dr. JT van der Kemp op Bethelsdorp. Nadat die NG Kerk geweier het om hom te orden, word hy ’n onderwyser. Hy trou met die suster van die Voortrekkerleier Gerrit Maritz en sluit hom in 1836 by die Voortrekkers aan. Hy word hulle nie-amptelike predikant, hou gereeld dienste, voltrek huwelike en vergesel die Trek na KwaZulu-Natal. Sy dagboek is ’n belangrike dokument van die Trek. Hy vestig hom op Pietermaritzburg waar hy in 1863 oorlede is.

1986 – Jean van der Poel, Suid-Afrikaanse historikus (* 1904)

2014 – Hennie van Loggerenberg, ’n bekende TV- en radio-persoonlikheid en ’n boereorkeslegende (* 1938)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/