2 APRIL
November 1, 2016
4 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1702 – Merestijn strand

’n Skip, die Meresteijn, strand aan die Kaapse weskus. ’n Deel van die vrag silwer en goud wat aan boord was, is gedurende 1972 herwin.

1860 – Pretoria word hoofstad van die ZAR

1866 – Die Vrede van Thaba Bosigo word onderteken

1900 – Anglo-Boereoorlog: Krygsgevangenes seil na St. Helena

Genl. PA Cronjé en sy vrou, saam met kolonel Adolf Schiel en ongeveer 1 000 Republikeinse krygsgevangenes, seil van Kaapstad na St. Helena.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Mostertshoek

 

Geboortes

1866 – James Barry Munnik Hertzog, Suid-Afrikaanse politikus en staatsman, Eerste Minister van Suid-Afrika († 21 November 1942)

James Barry Munnik Hertzog is op Soetendal, distrik Wellington, gebore. Sy hoërskoolopleiding ontvang hy op Stellenbosch, waar hy in 1889 die graad BA behaal. Hy kies die regte as studierigting en studeer verder aan die Universiteit van Amsterdam, waar hy in 1892 sy doktorsgraad verwerf. Terug in Suid-Afrika, vestig hy hom in Pretoria as advokaat, maar toe hy in 1895 regter word, verhuis hy na Bloemfontein, waar hy baie jare lank woon. Die Anglo-Boereoorlog het ’n ingrypende verandering in sy lewe veroorsaak, want hy verlaat die regsbank om krygsman te word, aanvanklik as regsadviseur in die veld, maar later as krygsman, en teen die einde van die oorlog was hy tweede in bevel in die hele Vrystaat. Hy was ’n groot voorstander van die bewegingstrategie van klemkrygtaktiek, wat so doeltreffend toegepas is dat die oorlog na die oorgawe van Bloemfontein en Pretoria nog twee jaar geduur het. As een van die verteenwoordigers by die vredesonderhandelings, stel hy ’n standpunt wat in sy latere loopbaan die grondslag van sy strewe sou vorm. Hy het daar o.m. gepleit vir die gebruik van Hollands in staatskole en in die regspleging in die verowerde gebiede. Omdat hy vroeg reeds voorsien het dat Afrikaans die plek van Hollands sou inneem, het hy as logies-denkende, selfrespekterende Afrikaanse kultuurmens nie net volstaan met sy beskouings oor taal- en kultuursake nie, maar het hy sy volksgenote van vroeg tot laat aangespoor om hulle eie te ag en so hul selfrespek te behou. Hy het as voorsitter opgetree by die stigtingsvergadering van die Afrikaanse taalgenootskap wat in 1906 in Bloemfontein gehou is, en hy was die persoon wat sy taal en kultuurgenote gelei, aangespoor en gehelp het om die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns in 1909 tot stand te bring. Die Suid-Afrikaanse Akademie is voorwaar ’n blywende monument vir hierdie groot, selfrespekterende Afrikaner. Dit alles het sy grootste prestasie ten grondslag gelê om langs staatkundige weg deur die Vrystaatse Onderwyswet van 1908 moedertaalonderwys vir die Afrikanerkind te verseker, ’n kultuurdaad waarsonder die Afrikaanse taal en kultuur ongetwyfeld langsaam maar seker aan bloedarmoede sou gesterf het. En voeg hierby sy onverbiddelike stryd om die gelykberegtiging van Hollands, en later Afrikaans, naas die ekonomies- en kultuurkragtiger Engels af te dwing deur Artikel 137 in die Grondwet van die Unie van Suid-Afrika in 1910 ingeskryf te kry: van volkstaal tot staatstaal. ’n Ander belangrike lewenstaak waaraan genl. Hertzog hom met oorgawe gewy het, was ’n doeltreffende oplossing vir die naturellevraagstuk. Sy siening kan inderdaad beskou word as die begin van die segregasiebeleid. Sy aanvoorwerk het gelei tot die aanvaarding van die Naturellegrondwet van 1913, waarvolgens die land in blanke en nie-blanke gebiede verdeel word met ’n verbod op koop van grond in nie-blanke gebied deur ’n blanke en andersom. Ook in later jare het genl. Hertzog hom onvermoeid aan hierdie lewenstaak gewy en veral twee oogmerke vooropgestel, nl. die verwydering van Kaaplandse swartmense van die gemeenskaplike kieserslys en die aankoop van meer grond vir die swartmense, sodat die beleid van gebiedskeiding deurgevoer kon word. Politieke omwentelinge tussen die jare 1911 en 1914 het ’n groot rol in die Afrikaner se wordingsgeskiedenis gespeel, en genl. Hertzog het daarin ’n leeue-aandeel gehad. Sy tweestroombeleid, waarvolgens die Afrikaanse taal- en kultuurgroep met volkome gelykberegtiging naas die Engelssprekendes sou kan ontwikkel, is teenoor die eenstroombeleid van Louis Botha, wat ineenvloeiing van die twee taalgroepe voorgestaan het, gestel. Bittere botsings het gevolg, wat tot genl. Hertzog se uitsetting uit die Kabinet gelei het. Met Hertzog in die politieke woestyn, was daar een uitweg, die stigting van ’n nuwe party – die Nasionale Party – in 1914. In 1924 het die NP aan bewind gekom en daarmee saam kom die derde lewenstaak van genl. Hertzog, nl. die verkryging van konstitusionele onafhanklikheid. Die Balfour-verklaring van 1926 en die daaropvolgende Statuut van Westminister (1931) verleen konstitusionele onafhanklikheid binne die Britse Ryk. Hierdie welslae, wat as eerste besliste stap tot Republiekwording beskou kan word, is in ’n groot mate aan Hertzog te danke. Ernstige ekonomiese probleme vanweë wêrelddepressie, die instorting van die New Yorkse-aandelebeurs, ens. lei daartoe dat Hertzog swig onder voortdurende oproepe, ook uit sy eie party, om met die opposisie saam te smelt. Dit word in 1933 werklikheid, en hoewel genl. Hertzog nog tot 1939 Premier bly, voel hy veral ongelukkig omdat daar verdeeldheid onder sy mense heers. In die strydvraag oor deelname aan die Tweede Wêreldoorlog word Hertzog se standpunt dat SA neutraal moet bly, verslaan en bedank hy as Eerste Minister. Ondanks pogings van die kant van die NP om hom tot die politiek te laat terugkeer, tree hy af en vestig hom op sy plaas Waterval naby Witbank. Hy sterf op 21 November 1942 in Pretoria.

 

Sterftes

2010 – Eugène Terre’Blanche, politieke aktivis, leier van die AWB (* 31 Januarie 1941)

Eugene Ney Terre’Blanche is op 31 Januarie 194 in Ventersdorp gebore uit ywerige Afrikanernasionalistiese ouers. Na matrikulasie het hy by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangesluit en vyf jaar gedien voordat hy boer geword het. Op 3 Julie 1973, saam met ses ander, stig hy die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) in ’n motorhuis in Heidelberg, in die destydse Transvaal (nou Gauteng). Die bedoeling van die AWB was om ’n vaderland vir die Boerevolk te vestig. Die AWB het vyf jaar lank as ’n semi-geheime organisasie gefunksioneer voordat dit openbaar geword het. Terre’Blanche beskou die einde van apartheid in 1990 as die begin van kommunisme en dreig die destydse president FW de Klerk met ’n burgeroorlog. Na die einde van apartheid het Terre’Blanche en sy ondersteuners amnestie by die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) gesoek vir die stormloop van die Wêreldhandelsentrum (waar onderhandelinge tussen verskillende politieke partye vir ’n nuwe demokratiese grondwet plaasgevind het), die “Slag van Ventersdorp” en ander handelinge. Die WVK het hom amnestie hiervoor verleen. In 2008 het hy die AWB herroep en ’n “vrye Afrikaner-republiek” gevra. Op 3 April 2010 is hy deur een van sy werkers op sy plaas vermoor.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/