27 JULIE
January 10, 2017
30 SEPTEMBER
January 13, 2017

Gebeure

1652 – Tafelberg word bestyg

Die eerste groep blankes aan die Kaap bestyg Tafelberg met die Khoi-kaptein Herrie as gids.

1761 – ’n Ekspedisie uit die Kaap steek die Oranjerivier oor

1858 – Vrede tussen Moshoeshoe en Oranje-Vrystaat

Die Kaapse goewerneur, sir George Grey, bewerkstellig op Aliwal-Noord vrede tussen opperhoof Moshoeshoe van die Basoeto en die Oranje-Vrystaat.

1944 – Opening van die FAK se Volkskongres oor die rassebeleid

Op 29 en 30 September het ’n Volkskongres onder leiding van die FAK in Bloemfontein plaasgevind, met as doel die vasstelling van ’n rassebeleid vir die Afrikaner. Hierdie Volkskongres is deur ’n tweedaagse konferensie voorafgegaan, waarby deskundiges die verskillende aspekte van die rassevraagstuk noukeurig ondersoek en bespreek het. Die beleid wat deur hierdie konferensie geformuleer is, is met enkele wysiginge later deur die Volkskongres aanvaar. In die huidige tydsbestek word die breë riglyne wat deur hierdie Volkskongres aangegee is, steeds getrou deur die Afrikanervolk nagevolg.

1969 – Aardskudding op Tulbagh

’n Aardskudding van 6,5 op die Richterskaal tref die Wes-Kaap, en nege mense sterf toe Tulbagh die kwaaiste getref is.

1978 – John Vorster word Staatspresident

Op hierdie dag is adv. Balthazar Johannes Vorster, gebore 13 Desember 1915 en sedert 1953 LV van die Nasionale Party vir die kiesafdeling Nigel, tot Staatspresident verkies. Op 13 September 1966 is hy deur die parlementêre koukus van sy party gekies tot hoofleier en het hy gevolglik Eerste Minister in die plek van dr. HF Verwoerd geword. Hy het egter slegs agt maande as Staatspresident gedien, voordat hy die amp op 4 Junie 1979 neergelê het.

 

Geboortes

1750 – Louis Thibault, argitek van verskeie bekende huise in die Wes-Kaap († 1815 – 15 November)

Louis Michel Thibault, die eerste erkende argitek aan die Kaap, is in 1750 op Picquigny, naby Amiens, in Frankryk, gebore en het aan die Koninklike Akademie in Parys gestudeer. Daarna is hy in die militêre diens as ingenieur opgelei en in 1782 met sy regiment na die Kaap gestuur. Daar was hy vir dosyne militêre planne, opmetings en ontwerpe van geboue verantwoordelik. Toe hy in Kaapstad oorlede is, was hy Rooymeester of Stadsargitek van Kaapstad. Hy het die plaaslike, onontwikkelde boustyl geklee in die klassisisme waarin hy opgelei is en ’n onuitwisbare stempel op die ontwikkeling van die Kaaps-Hollandse argitektuur afgedruk. Van die bekendste geboue wat aan hom toegeskryf word, is die Koopmans-De Wet-huis, Saasveld in Franschhoek, die wynkelder by Groot Constantia en die balkon van die Kat in die Kasteel.

1881 – Jochem van Bruggen, skrywer († 22 Mei 1957)

Jochem van Bruggen was vir baie jare een van die belangrikste en toonaangewendste prosaïste in Afrikaans. Daarom is onder andere die Hertzogprys vier maal aan hom toegeken. Hy is op hierdie dag in Nederland gebore en het op negejarige leeftyd saam met sy ouers na Suid-Afrika verhuis waar hy onder meer aan die Staatsgimnasium in Pretoria onderwys ontvang het. Tydens die Anglo-Boereoorlog was hy ’n tydlank op kommando, en nadat vrede gesluit is gaan woon hy op die plaas Steenkoppies by Magaliesburg waar hy op 22 Mei 1957 oorlede is. Hy het in 1914 begin om Afrikaanse prosa te skryf en verwerf toe met Die Praatmasjien die tweede prys in ’n opstelwedstryd van Die Brandwag. Van 1916 tot 1957 by sy afsterwe het daar dertien romans en twee bundels kortverhale en novelles uit sy pen verskyn, asook drie kortverhale in die versameling van ML du Toit. Volgens sy beste werke: die Ampie-trilogie, Die Sprinkaanbeampte van Sluis, Bywoners, Org Basson, kan hy as ’n idealistiese realis bestempel word wat met diepe deernis oor die verarmde Afrikaner, kleinboer en bywoner, begaan was.

1897 – Dirk Mostert, onderwyser en skrywer

Dirk Johannes Jacobus Mostert is op Middelburg, Transvaal, gebore. Hy was aanvanklik onderwyser, maar het besef dat sy arbeidsveld verder as die klaskamer moes strek. Hy het in 1939 hoofsekretaris geword van die ATKV (SAS & H), wat die Simboliese Ossewatrek georganiseer het, en in 1948 is hy as lid van die Volksraad vir die kiesafdeling Witbank gekies. Dirk Mostert het hom besonder gelukkig geag om aan die ou Grey-Universiteitskollege waar hy Letterkunde en Ekonomie vir die BA-graad bestudeer het, aan die voete van manne soos prof. DF Malherbe en prof. A Francken te kon sit. As skrywer het Dirk Mostert veral om sy luimige verhale met “Oom Bart” as middelpunt, bekendheid verwerf, soos met Petaljes van Oom Bart (1934). Die karakters van die “Oom Bart-reeks” het kostelike radiovermaak verskaf en gehelp om aan Afrikaans ’n radioplek te verseker. Romans en kortverhale uit sy pen was: Uit my ou Vrystaat (1938) en Jou dag sal kom (1942). Sy eerste werk was ’n bundel gedigte Elker siele (1925). Op geskiedkundige terrein het hy daarin geslaag om, op taamlik objektief-wetenskaplike wyse, die oorlogsherinneringe van Slegtkamp van Spioenkop (1935) te verwerk.

1914 – Diederik Johannes (DJ) Opperman, digter, dramaturg en literator († 22 September 1985)

DJ Opperman was ’n professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. As Afrikaanse digter en dramaturg verower hy die Hertzogprys vir beide poësie en drama.

 

Sterftes

1983 – Willem Hermanus (WH) Coetzer, skilder (* 9 November 1900)

Willem Hermanus Coetzer is op Tarkastad gebore. Vanaf sy 17de jaar is hy in Johannesburg as koetsbouer opgelei. Sy kunsopleiding het hy hoofsaaklik in Londen ontvang. Ná verskeie oorsese reise het hy in 1930 na Suid-Afrika, waar hy reeds bekendheid verwerf het, teruggekeer. Hy het van 1934 intens bewus geword van sy Afrikaanse kultuurerfenis en het begin om navorsing te doen, veral oor die Voortrekkers. Hy het verskeie Africana versamel en al dié elemente in sy kuns na vore gebring. Die Simboliese Ossewatrek van 1938 het vir Coetzer gulde geleenthede in dié verband gebied. Hy het talle voorwerpe wat in die feesjaar gebruik is, soos gedenkseëls, eetgerei en boeke, ontwerp. Van veel groter belang is egter sy ontwerpe vir die marmerfriese en tapisserieë in die Voortrekkermonument. Die vyftien panele in die monument bied nie alleen ’n breë oorsig van die geskiedenis van die Groot Trek nie, maar toon ook Coetzer se besondere kennis van die Voortrekkers, hul gewoontes, gebruiksvoorwerpe, kleredrag, waens en trekgewoontes. In die dramatiese samestelling van tonele soos die Bloukransmoord en die tog oor die Drakensberge kom Coetzer se geskiedkundig-monumentale styl – soos ook in ’n hele aantal skilderye – duidelik na vore. In 1965 is ’n spesiale erepenning deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy kunswerke oor die geskiedenis aan hom oorhandig. Coetzer is veral bekend vir sy landskapskilderye en etswerke.

1998 – Nic Swanepoel, radio-uitsaaier en TV-nuusleser (* 20 April 1940)

1999 – Gerhard (Gé) Korsten, sanger (* 6 Desember 1927)

Gé Korsten was ’n legendariese Suid-Afrikaanse sanger wat ’n groot stempel op die Afrikaanse kultuur afgedruk het. Vandag nog word sy lied “Liefling” by rugbywedstryde in Bloemfontein en Pretoria gespeel.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/