28 OKTOBER
October 28, 2015
30 OKTOBER
October 30, 2015

Gebeure

1914 – Die protesskrif van genls. CF Beyers en CR de Wet, opgestel by Steenbokfontein

Nadat genl. Christiaan Beyers op 19 Oktober 1914 Pretoria verlaat en na Damhoek verskuif het, is hy op 22 Oktober op ’n volksvergadering as leier van die protesterende burgers in Transvaal aangewys. Op 27 Oktober het ’n regeringsmag sy manne by Commissiedrift uiteengejaag, en ’n dag later het hy genl. JCG Kemp op Steenbokfontein ontmoet. Met die hulp van ds. HD van Broekhuizen is ’n ‘kennisgewing’ opgestel waarin misnoeë uitgespreek word omdat die regering besluit het om Duits-Suidwes-Afrika te verower sonder raadpleging van die volk. Die regering het op grond van onjuiste berigte en bewerings van Parlementslede van die Suid-Afrikaanse Party besluit om ’n volk aan te val wat Suid-Afrika nog nooit leed aangedoen het nie, en het boonop die publiek deur middel van krygswet belet om te protesteer. Die protesskrif waarsku teen onnodige vergieting van broederbloed maar versoek die burgers om alles in hulle vermoë te doen om die veldtog teë te werk en ook te weier om vir die regering te gaan veg aangesien “… ons enige doel is de eers van God en het heil van volk en vaderland”. Die kennisgewing is gedateer 29 Oktober 1914 en is geteken deur CR de Wet en CF Beyers as generaals van die protesterende burgers, hoewel genl. De Wet waarskynlik nie ’n aandeel in die opstel van die geskrif gehad het nie.

1944 – Die eerste Psalm- en Gesangboek in Afrikaans verskyn

Reeds vanaf die middel van die 19de eeu het daar stemme in die Hollandse Kerk in Suid-Afrika begin opgaan om vernuwing van die kerkliedere. Die Psalms was die Nederlandse beryming van 1775 met die Geneefse melodieë uit die 16de eeu, en die Gesange was die 192 Envangelische Gezangen, saamgestel vir die Hervormde Kerk in Nederland tussen 1803 en 1805, en hier by ons in gebruik geneem in 1814. Aanvanklik het dit gegaan om die ou melodieë waarvan baie vreemd geval het op die oor en vir baie lidmate ‘onsigbaar’ geword het. Met die opkoms van Afrikaans, en veral sedert sy verowering van een vesting na die ander in ons volkslewe ná 1915, was dit onvermydelik dat die kerk ook aan die beurt sou kom. Ná 1920 word al meer in Afrikaans gepreek; in 1933 kry ons die volledige Psalm- en Gesangboek in Afrikaans. By die Afrikaanse Psalms word die mooiste Geneefse melodieë behou, en heelwat nuwe melodieë – baie daarvan deur Afrikaanse komponiste – verskyn. Die 193 Gesange was grotendeels ’n verwerking van die Evangelische Gezangen. ’n Aantal minder bekende en minder gebruikte liedere is geskrap en vervang deur verwerkinge uit die Vervolgbundel op de Evangelische Gezangen van 1866. Om leerstellige en letterkundige redes is enkele verse van baie van die ou Gesange weggelaat. Oral deur die land is die Afrikaanse Gesangboek met luisterryke feeste op Hervormingsdag, 29 Oktober 1944, verwelkom. Daar is natuurlik met ’n tikkie weemoed afskeid geneem van die singboek wat die bron van troos en bemoediging was vir ons voorgeslagte, veral in ’n veelbewoë deel van ons geskiedenis, die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog. Maar die dankbaarheid en vreugde dat ons volk voortaan in die kerk in ons Moedertaal sou sing, het oorheers. Dit sou onrealisties wees om te verwag dat die Afrikaanse Gesangboek van 1944 bo alle kritiek verhewe sou wees. Van die begin is daarop gewys dat sekere rubrieke, onder andere Kersfees en Pinkster, skraal verteenwoordig is. Ook is bevind dat onder die nuwe musiek in die bundel daar ’n aantal melodieë is wat die erediens nie waardig is nie. Ook sou die snelle ontwikkeling van die Afrikaanse taal uitdrukkings en segswyses in die boek gou laat verander. Vandaar die hersiene Gesangboek wat in 1978 verskyn het. Wat die Gesange betref, het hierdie hersiening uiteindelik ook ’n aansienlik uitbreiding en verryking gebring.

1998 – Die Waarheids-en-versoeningskommissie bied sy verslag oor gebeure onder apartheid in Suid-Afrika aan

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1902 – Genl. Christiaan Botha, jonger broer van genl. Louis Botha (* 6 Oktober 1864)

Christiaan Botha is ’n jonger broer van Louis Botha en was ook ‘n generaal tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy is gebore te Greytown, KwaZulu-Natal. Sy ouers is Louis en Salomina Botha. Hulle was van die eerste inwoners van die Nuwe republiek van Vryheid. Toe dié republiek by die ZAR ingelyf word, word hulle outomaties burgers.

1905 – Hendrik Witbooi, leier van die Witbooi-Nama in Namibië (* 1830)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/