28 NOVEMBER
November 27, 2015
30 NOVEMBER
November 30, 2015

Gebeure

1789 – Anton Anreith se preekstoel in die Groote Kerk, Kaapstad, in gebruik geneem

Die kerkraad van die Groote Kerk in Kaapstad het in 1788 opdrag aan die bekende beeldhouer Anton Anreith gegee om ’n nuwe kansel vir die kerkgebou te maak. Volgens oorlewering, is die eerste ontwerp met drie skrapsgeklede vrouefigure, wat “Geloof, Hoop en Liefde” sou voorstel, afgekeur, waarna die ontwerp van die huidige preekstoel goedgekeur is. Op 29 November 1789 het die heuglike dag van die inwyding aangebreek. Bo teen die kap van die preekstoel is die volgende opskrif aangebring: “Deeze Predikstoel is onder het opzicht van den burger Ouderling Johan Coenraad Gie gemaakt en daar van de eerste Predicatie gedaan door den Outste Leeraar d Eerwaarde Heer Jan Petrus Serrurier den 29 November ANNO MDCCLXXXIX.” Die kansel rus op twee massiewe leeus, wat elk met een klou ’n lowerkrans omhoog hou, terwyl die ander voorpoot op die boekrol van die Waarheid tussen hulle rus. Die anker wat voor die lessenaar hang, simboliseer die begrip “Hoop”. Die kansel, met sy pragtige houtsneewerk en sinnebeeldige voorstelling, dwing vandag nog die bewondering van elke besoeker aan die Groote Kerk af.

1869 – Opening van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk op Burgersdorp

Die ontstaan van die Gereformeerde Kerk in SA in 1859 was die vrug van ’n krisis op kulturele, politieke, sosiale en godsdienstige gebied wat die geskiedenis teen die middel van die vorige eeu oorheers het. Tot 1864 is die hoop gekoester dat predikante uit die konserwatiewe Christelike Gereformeerde Kerk van Nederland, self die vrug van ’n krisis in 1834, bekom sou word. Toe slegs twee predikante na herhaalde beroepe gehoor gegee het, het die herderlose kerkraad van Burgersdorp by die Sinodes van 1866 en 1869 daarop aangedring dat daar ’n skool opgerig moet word waar predikante en onderwysers opgelei kan word. Destyds was weinig plattelandse Afrikaanse kinders op skool of langer as ses maande deur rondgaande onderwysers onderrig. Daar was weerstand teen die verengelsende en neutrale Koloniale staatskole. In die Republieke was feitlik nog geen skole nie. Ter wille van die behoud van die Gereformeerde en Afrikaanse identiteit, het die Sinode van 1869 die voorstel van Burgersdorp aanvaar waarin hulle beloof het om ’n tweede predikant (ds. Jan Lion Cachet), naas dominee D Postma, te beroep en te bekostig, sodat ’n teologiese skool vir die opleiding van predikante en onderwysers opgerig kan word. So het onder belangstelling van afgevaardigdes uit die Republieke die skool feestelik van 26 tot 29 November sonder enige staatsteun tot stand gekom. Die mense het uit hulle karige bronne, met feitlik geen “studente” wat enige vooropleiding geniet het nie, die hand aan die ploeg geslaan vir die behoud van die Afrikaanse godsdiens en kultuur. Die geloofsdaad is dan ook geseën, sodat die Teologiese Skool van 1869 tot 1905 ’n magtige faktor was in die Afrikaanse volkswording, omdat dit reeds besit was van en ’n band tussen Afrikaners in drie afsonderlike state gelê het. Die roepingsbewustheid en wil om self te voorsien onder eenvoudige mense soos die kerkraad van Burgersdorp, het verseker dat die ontwikkeling van die gereformeerde Kerk in SA nie op die weg van “verhollandsing” nie, maar van “verafrikaansing”, sou voortgaan, soos net die toonaangewende rol wat studente en dosente van die skool in die Eerste en Tweede Afrikaanse Taalbeweging gespeel het, toon.

1899 – Anglo-Boereoorlog: Kanadese kontingent bereik Kaapstad

Die eerste Kanadese kontingent bereik Kaapstad om saam met die Britse mag aan die Anglo-Boereoorlog deel te neem.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Die Slag van Renosterkop 

1970 – Rapport ontstaan

Die Sondagblad Rapport word begin ná die samesmelting van Dagbreek, Sondagnuus en Die Beeld.

 

Geboortes

1838 – Jan Lion Cachet, teoloog, skrywer en digter († 21 September 1912)

Jan Lion Cachet is in Amsterdam, Nederland, op 29 November 1838 gebore. Nadat hy sy teologiese opleiding in Nederland voltooi het, lê hy ook die onderwyseksamen af en kom in Januarie 1861 na Suid-Afrika. Hy word onderwyser in Kaapstad. Daarna word hy as oefenaar en katkisasiemeester op Ladysmith aangestel, maar verhuis in 1865 na Rustenburg om hom onder ds. D Postma as predikant te bekwaam. Hy bekwaam hom as predikant van die Gereformeerde Kerk, bedien verskeie gemeentes en word in 1894 die enigste professor aan die teologiese skool van die Gereformeerde Kerk op Burgersdorp. Hierdie merkwaardige bekeerde Jood word ‘n Afrikaanse nasionale figuur vanweë sy vereenselwiging met kerk, volk en taal en sy bydraes tot Die Afrikaanse Patriot, as kampvegter vir die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. In die Tweede Afrikaanse Taalbeweging word hy in 1909 ’n stigterslid van De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst. As prosaskrywer lewe hy Sewe duiwels en wat hulle gedoen het en twee historiese romans in Nederlands. In die Anglo-Boereoorlog word hy in die gevangenis op Burgersdorp aangehou op aanklag van hoogverraad. Ses weker later word hy vrygelaat en die klag word later teruggetrek. Hy is op Potchefstroom oorlede.

1894 – Toon van den Heever, digter, regter en Hertzogprys-wenner († 29 Januarie 1956)

Francois Petrus van den Heever is gebore in die distrik Heidelberg. In sy lewe het hy hom veral onderskei as digter en as taalman van besondere belang. Hy het baie gedoen om Afrikaans in die regswese tot sy reg ta laat kom en was onder meer advokaat in Windhoek, regsadviseur vir die Departement van Justisie en Buitelandse Sake, regter-president en appèlregter. In 1951 is hy met die Hertzogprys vir poësie bekroon. Toon van den Heever se regstreekse bydrae tot die Afrikaanse letterkunde is taamlik beskeie: twee bundels poësie, Eugéne en ander gedigte (1919 as Gedigte uitgegee) en Die speelman van Dorestad (1949), en ’n bundel kortverhale en vertellings, Gerwe uit die erfpag van Skoppensboer (1948). Slegs enkele van sy gedigte is besonder goeie poësie (die beste is In die Hoëveld) maar hy het ’n tematiese vernuwing en verruiming in die Afrikaanse letterkunde gebring wat die begin was van ’n nuwe tradisie. Hy het die Griekse mitologie in Afrikaanse poësie bruikbaar gemaak, so ook in sy liefdespoësie die Middeleeue en die Renaissance. Hy het hom tot groter lewensproblematiek gewend en ’n wyer perspektief op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gehad as sy voorgangers. Hy is as ’n “duister” digter bestempel en moes fel kritiek verduur vanweë sy individualistiese lewenshouding. Daarmee het hy egter die grondslag gelê vir die Dertigers. Hy is op 29 Januarie 1956 in Bloemfontein oorlede.

1931 – Koos Human, uitgewer, rubriekskrywer en musiekkenner († 10 Augustus 2018)

Koos Human het in 1959 die uitgewersmaatskappy Human & Rousseau saam met Leon Rousseau gestig. Die maatskappy het gegroei en ‘n beduidende bydrae tot die bevordering van die boekebedryf in Suid-Afrika gelewer. Human & Rousseau is in 1977 aan Nasionale Pers verkoop en het in Februarie 2009 hul 50ste verjaarsdag gevier.

 

Sterftes

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/