28 JANUARIE
January 28, 2016
30 JANUARIE
January 30, 2016

Gebeure

1901 – Anglo-Boereoorlog: Slag by Modderfontein, Transvaal

1901 – Anglo-Boereoorlog

Meyer de Kock, vredesafgevaardigde van die Britse magte word ter dood veroordeel.

1901 – Anglo-Boereoorlog

Generaal Knox en kol. Pilcher val genl. De Wet by Tabaksberg aan. De Wet hou hul op ’n afstand met kort, kragtige agterhoedegevegte. Toe die son sak, slaan De Wet vinnig en onverwags terug. Hy vang ’n Britse pom-pom en 43 Britse soldate sneuwel.

1902 – Anglo-Boereoorlog: Fraansie Kruger gefusilleer te Frankfort

S.F. (Fraansie) Kruger was saam met sy pa deel van die Frankfort-kommando. ’n Vliegkolonne van die sg. “Kitchener’s scouts” oorval ’n Republikeinse voorpos. Veldkornet Strydom en enkele ander word die dag gevang. Fraansie se kommando hoor van die aanval en sit die “Scouts” agterna. Die geveg was kort en kragtig. Agt Britse soldate het gesneuwel en 170 is gevang.

Omrede die Burgers se klere feitlik net toiings was, is die Britse magte uitgeskud. Daarna is vertrek en kamp teen die Vaalrivier opgeslaan. Skaars was daar afgesaal toe ’n vliegkolonne van genl. French die burgers oorval. Fraansie het epileptiese aanvalle gekry, en van die skrik juis toe ’n aanval gehad. Oral het burgers uitgebreek, maar nie Fraansie nie. Sy pa kon wegkom, maar het by sy kind gebly. Fraansie is nog dieselfde dag gefusilleer omrede hy ’n Britse uniform met kentekens gedra het. Dit is nie bekend waar hy begrawe is nie.

1934 – Oos-Londen se Afrikaanse gemeenskap kry sy eie hoërskool, die Hoërskool Grens

1936 – Voortrekkerpers Bpk. gestig

In die politieke woelingsjare van die Afrikaner, die jare der­tig, is die behoefte aan ’n eie Nasionale dagblad in Transvaal baie sterk besef. Op 30 September 1935 het Nasionale leiers onder voorsitterskap van mnr. WA Hofmeyr op Stellen­bosch besluit om ’n Transvaalse Nasionale dagblad te begin. Mnr. Pieter Neethling, bekend as die vader van die Voortrekkerpers, het die eerste £5 000 geskenk en daar is besluit om ’n maatskappy – Voortrekkerpers Bpk. – met ’n kapitaal van £150 000 op te rig. Ná ’n besielende oproep deur dr. DF Malan in Die Burger en Die Volksblad het die Afrikaners se bydraes ingestroom en die kapitaaldoelwit is oorskry. In Julie 1936 is ’n perseel in Johannesburg gekoop, ’n gebou opgerig en op 1 Oktober 1937 het die eerste uitgawe van die dagblad Die Transvaler onder die redakteurskap van dr. HF Ver­woerd verskyn – ’n mylpaal wat op ’n kritieke tydstip in die Nasionale Afrikanerdom van Transvaal, en in die hartjie van die verstedelikte Afrikanerdom bereik is.

1940 – Die Herenigde Nasionale Party of Volksparty gestig

Nadat genl. Hertzog se neutraliteitsmosie op 4 September 1939 verwerp is en hy as Eerste Minister moes bedank, was die eenheidsdrang by die Nasionale Afrikaners baie sterk. Die Hertzog-groep en die Nasionaliste onder dr. DF Malan was aanvanklik haaks oor die republikeinse strewe en die naam van die nuwe party. Uiteindelik is besluit tot die naam die Herenigde Nasionale Party of Volksparty. Op hierdie dag is ’n ooreenkoms tussen die twee groepe in die pers aangekondig. Hierkragtens sou die party hom beywer vir ’n republikeinse staatsvorm, afgeskei van die Britse Kroon – en met inagneming van die gelyke taal- en kultuurregte van albei blanke volksgroepe. Die eenheid sou egter kortstondig blyk te wees.

1957 – Die Durbanse Onderwyskollege gestig

In die agterplaas van die Durban Girls’ High School, in ’n opslaangebou, word ’n Engelse tak van die Natal Training College op 29 Januarie 1957 gestig. Uit die agterplaasverlede van die Durbanse Onderwyskollege, wat ’n sprokiesverlede vir die Dokkies was, het die Aspoestertjie van die Natalse Onderwys sommer onmiddellik en onbeskeie haar voet vir ’n glaspantoffeltjie uitgehou en nie gerus voordat albei voete stewig en onbeweeglik ’n vastrapplek op die Natalse bodem verkry het nie. In 1958 is daar voorsiening gemaak vir Afri­kaansmedium, en in 1959 word ’n eie, volwaardige kampus betree. Die tak was toe nie weer ’n tak nie, maar die Dur­banse Onderwyskollege, wat ’n eie septer swaai en weldra uniek sou word. In 1972 is die Engelse studente van die Durbanse Onderwyskollege na ’n eie kampus verskuif, en die Durbanse Onderwyskollege was suiwer Afrikaans en die enigste Afrikaanse tersiêre inrigting in Natal. Die Dur­banse Onderwyskollege was die troetelkind van die Natalse Afrikanerkultuur, wat trots sy eie vlag gehys het en in sy eie kollege­lied sy eie identiteit bevestig het.

 

Geboortes

1757 – Johanna Margaretha Duminy, bekende Kaapse dagboekskrywer († 25 Februarie 1807)

1878 – Pieter Willem Adriaan Mulder, Boerekryger, kommandant in die Rebellie van 1914 en toegewyde kampvegter vir Afrikaans († 7 Julie 1943)

Pieter Willem Adriaan Mulder is op Muldersdrif, Transvaal, gebore. Sy vurige idealisme vir die Afrikanersaak het daartoe gelei dat hy ’n dapper vegter in die Engelse Oorlog (1899 tot 1902) was, tronkstraf as kommandant in die Rebellie (1914) opgelê is en ’n toegewyde kampvegter vir Afrikaans as landstaal geword het. Hy sterf op 7 Julie 1943 in Pretoria.

 

Sterftes

1954 – Helena Barry-Hofmeyr, lid van die Vrystaatse Provinsiale Raad (* 28 Maart 1887)

1956 – Toon van den Heever, digter, regter en Hertzogprys-wenner (* 29 November 1894)

Francois Petrus van den Heever is gebore in die distrik Heidelberg. In sy lewe het hy hom veral onderskei as digter en as taalman van besondere belang. Hy het baie gedoen om Afrikaans in die regswese tot sy reg ta laat kom en was onder meer advokaat in Windhoek, regsadviseur vir die Departement van Justisie en Buitelandse Sake, regter-president en appèlregter. In 1951 is hy met die Hertzogprys vir poësie bekroon. Toon van den Heever se regstreekse bydrae tot die Afrikaanse letterkunde is taamlik beskeie: twee bundels poësie, Eugéne en ander gedigte (1919 as Gedigte uitgegee) en Die speelman van Dorestad (1949), en ’n bundel kortverhale en vertellings, Gerwe uit die erfpag van Skoppensboer (1948). Slegs enkele van sy gedigte is besonder goeie poësie (die beste is In die Hoëveld) maar hy het ’n tematiese vernuwing en verruiming in die Afrikaanse letterkunde gebring wat die begin was van ’n nuwe tradisie. Hy het die Griekse mitologie in Afrikaanse poësie bruikbaar gemaak, so ook in sy liefdespoësie die Middeleeue en die Renaissance. Hy het hom tot groter lewensproblematiek gewend en ’n wyer perspektief op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gehad as sy voorgangers. Hy is as ’n “duister” digter bestempel en moes fel kritiek verduur vanweë sy individualistiese lewenshouding. Daarmee het hy egter die grondslag gelê vir die Dertigers. Hy is op 29 Januarie 1956 in Bloemfontein oorlede.

1959 – Pauline Janet Smith, skryfster (* 2 April 1882)

1966 – Wim Hartman, skrywer (* 3 Desember1909)

Wim Hartman was ’n Afrikaanse skrywer wat onder sy eie naam, asook skuilname soos Tant Salie, Forona Bosman, Louwrens de Kock en Selma le Roux geskryf het.

1980 – Petrus Jacobus (Pietie) le Roux, stigter van die Stellenbosch Boerorkes (* 17 Oktober 1882)

Petrus Jacobus le Roux, op Moorreesburg gebore, was vanaf 1911 vennoot in ’n algemene handelsaak op Stellenbosch totdat hy in 1928 weens swak gesondheid moes aftree. In die jare 1929-30 het die vrouetak van die Nasionale Party op Stellenbosch gevra om ’n klein orkessie om die party se byeenkomste op te luister. Oom Pietie het voorgestel dat dit ’n Boereorkes moet wees en het een op die been gebring. Die orkes het uit 12 lede bestaan, en dit het in 1933 met groter getalle gegroei tot die Stellenbosch-Boerorkes (let op die spelling Boerorkes). Hierdie orkes het in vakansies toere deur die land onderneem om fondse in te samel vir goeie sake, soos die Voortrekkermonument, Die Reddingsdaadbond, die Universiteit van Stellenbosch ens. Tot 1956, met die laaste toer deur die Noordweste, is net oor die R100 000 bymekaar gemaak. Oud-orkeslede het nog by twee ander latere geleenthede ’n orkes gevorm, nl. met die Uniefees van 1960 en die eeufees van die Universiteit van Stellenbosch in 1966. Behalwe fondsinsameling, was die doel van die orkes om by die publiek waardering te skep vir ons eie Afrikaanse volksmusiek. So is daar gekonsentreer op outydse Boeremusiek, waarin konsertinaspel ’n belangrike rol gespeel het, en op Afrikaanse volksliedjies. Hierdeur is voor groot gehore dwarsoor ons land ’n nuwe begrip en geesdrif gebore vir ons eie musiek. Hy is op 29 Januarie 1980 oorlede.

1996 – Jamie Uys, rolprentmaker (* 30 Mei 1921)

Johannes Jacobus Uys, meer bekend as Jamie Uys, was ’n internasionaal bekroonde Suid-Afrikaanse filmregisseur wat 24 films vervaardig het. Pryse vir sy werk was onder meer die Grand Prix van 1981 op die Festival International du Film de Comedy Vevey vir The Gods Must be Crazy en die Hollywood Foreign Press Association-prys vir beste dokumentêr in 1974 vir Beautiful People. The Gods Must Be Crazy het drie jaar van ononderbroke vertoning in die Verenigde State van Amerika geniet. Jamie Uys is op 29 Januarie 1996, Johannesburg, Suid-Afrika aan ’n hartaanval oorlede.

2011 – Fanus Rautenbach, radio-omroeper, skrywer en mediapersoonlikheid (* 23 September 1928)

Fanus Rautenbach, ook bekend as Umfaanus, was ’n bekende radio-omroeper, skrywer en mediapersoonlikheid. Hy het ’n ARTES-toekenning en verskeie ATKV-toekennings ontvang en is in 2007 as RSG se radiolegende van die voorafgaande 70 jaar aangewys. Hy het ook onder die skuilnaam Mot geskryf.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/