28 AUGUSTUS
August 28, 2015
30 AUGUSTUS
August 30, 2015

Gebeure

1848 – Geveg by Boomplaats

Die republikeinsgesinde Trekkers tussen die Oranje- en Vaalrivier was gekant teen die anneksasie van die gebied deur sir Harry Smith vroeg in 1848. Op versoek van die Winburgers het Andries Pretorius met ’n mag wat later tot 1 000 aangegroei het, in die Oranjerivier-Soewereiniteit aangekom en die Britse Resident versoek om die land te verlaat. Toe hy verneem dat ’n Britse mag onder Smith die Oranjerivier nader, het hy teruggeval in die rigting van Bloemfontein, en by Boomplaats (distrik Trompsburg) het die botsing plaasgevind tussen Pretorius se ongeveer 300 man (baie het hom intussen in die steek gelaat) en Smith se 1 200 man. Pretorius se voorneme was om Smith in ’n hinderlaag te lei, maar Smith was gewaarsku en het die Boere se posisie in die rantjies met die grootste versigtigheid genader. Die Britse kanonne is in aksie gestel en hoewel die Boere hardnekkig weerstand gebied het, moes hulle retireer. Die opstandelinge is ’n boete van R20 000 opgelê om die koste van die ekspedisie te delg. Hierdie roemlose nederlaag het die Vrystaters wel tot onderdanigheid verplig, maar hulle republikeinse hartstogte versterk.

1900 – Hoeksteen van Johannesburgse stadshuis gelê

Thomas Ball, burgemeester van Kaapstad, lê die hoeksteen van die stadshuis wat deur die Johannesburgse argitekte, Reid en Green, ontwerp is.

1917: Oom Japie Helpmekaar se brief

Op 3 September 1917 publiseer De Burger ’n brief gedateer 29 Augustus 1917, onderteken deur JE de Villiers. Hierdie brief en sy ondertekenaar was bestem om ’n unieke rol te speel in die Helpmekaarbeweging, wat gestig is om rebelleskuld en -boete te delg na die Rebellie van 1914. Jakob Elisa de Villiers (later oom Japie Helpmekaar genoem) is op 31 Desember 1835 op die plaas Waterval, Groot Drakenstein, gebore. Hy was in 1917 ’n welgestelde boer uit die Paarl, ’n godsman en ’n volksman. In sy brief aan De Burger bied hy aan om £500 aan die Helpmekaarbeweging te skenk, mits 500 ander persone bereid sou wees om elk £100 tot die fonds by te dra. Hy het geglo dat die volk verplig is om te voorkom dat vooruitstrewende landbouers tot die bedelstaf gedwing word en die armblankes vermeerder. Japie de Villiers het sy volk geken en in sy mense geglo; hy het verwag dat daar reaksie sal wees; maar die reaksie wat gevolg het, kon niemand voorsien het nie. Die Afrikaner het sy ereskuld gedelg, en meer as twee maal die verwagte bedrag is ingesamel, sodat die oorskot beskikbaar gestel kon word vir volksake, soos die toekenning van studiebeurse. Uit die besieling en onselfsugtigheid van een man het ’n volksbeweging ontstaan; ’n gevoel van samehorigheid en die begeerte om mekaar in nood by te staan, het by die Afrikaner posgevat. En soos by alle ware, besielde volksbewegings, was die resultaat oorweldigend. Oom Japie Helpmekaar is op 6 Julie 1921 in die Paarl oorlede.

 

Geboortes

1795 – Abraham Faure, die vader van die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch († 28 Maart 1875)

Abraham Faure is op 29 Augustus 1795 uit ’n gesiene Stellenbosse familie gebore. Hy ontvang sy skoolopleiding op Stellenbosch en in die Latynse skool te Kaapstad. Vir verdere studie gaan hy na Gosport in Engeland, waar hy as sendeling van die London Missionary Society opgelei word. Daarna gaan na die Universiteit van Utrecht, waar hy sy teologiese studie afhandel. Hy was van 1818 tot 1822 predikant van Graaff-Reinet en van 1822 tot sy aftrede in Kaapstad. Hy het ’n leidende rol gespeel in die sameroeping van die eerste Sinode van die NG Kerk in 1824. Baie jare was hy lid van die moderatuur as aktuarius en skriba. Hy het hom veral daarop toegelê om tydskrifte uit te gee en so inligting en kennis deur te gee aan die Hollandse bevolking aan die Kaap, wat maar min geleentheid daartoe gehad het. In 1824 stig hy Het Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Tijdschrift waarin kennis en nuus meegedeel is sonder om in politieke vaarwaters te beland. Dit bly voortbestaan tot 1843. In 1838 stig hy die eerste kerkblad in Suid-Afrika, De Honingby. Dit word op 13 Januarie 1849 die spreekbuis van die NG Kerk in Kaapland met die naam De Gereformeerde Kerkbode. Dr. Faure bly hiervan redakteur tot 1869. In 1910 word dit die amptelike orgaan van die Gefedereerde NG Kerke en dit bestaan vandag nog onder die naam Die Kerkbode. Met hierdie tydskrifte het dr. Faure ’n groot bydrae tot die bevordering van die Hollands-Afrikaanse kultuur in Suid-Afrika gelewer. Maar hy was ook in die onderwys geïnteresseerd. Hy was stigter van die Z.A. Athenaeum in 1829, waaruit later die Universiteit van Kaapstad ontwikkel het. Hy het hom beywer vir die uitbreiding van kennis deur boeke. Hy was voorsitter van die Zuid-Afrikaansche Christlijke Boekvereniging en het gesorg dat die Von Dessen-versameling wat die kerkraad in bruikleen aan die Suid-Afrikaanse Biblioteek gegee het, gereeld met boeke aangevul is. Hierdie versameling is een van die kosbaarste kulturele besittings wat ons in Suid-Afrika het.

1842 – Albert Henry Hime, ’n Eerste Minister van Natal († 13 September 1919)

 

Sterftes

1954 – Johannes Cornelis van Rooy, volksman en kultuurleier (* 9 Julie 1890)

Johannes Cornelis van Rooy is op Steynsburg gebore. Hy studeer aan die Teologiese Skool op Potchefstroom en die Vrije Universiteit van Amsterdam. Hy word in 1919 ‘n dosent in die filosofie aan die Universiteit van Potchefstroom en is in 1912 tot hoogleraar bevorder. Hy was ook later dekaan, registrateur, sekretaris van die senaat en raad, en rektor en kanselier van dieselfde universiteit. Prof. Van Rooy was van 1941 tot 1951 voorsitter van die FAK en het in die oorlogsjare aan die stryd om moedertaal-onderwys deelgeneem. Onder sy leiding word die CNO-skool in Pietermaritzburg opgerig en geld ingesamel om die Krugerhuis in Clarens, Switserland, aan te koop en aan die staat oor te dra. Hy is op 29 Augustus 1954 oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/