28 APRIL
November 1, 2016
30 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1875 – Die Tweede Dorslandtrek begin

Teen die tyd het ’n aantal Transvaalse Boere begin om Transvaal te verlaat op soek na ’n beter tuiste iewers in die onbekende binneland. Die eerste trekgroep het onder leiding van Gert Alberts gestaan en was deeglik georganiseer. Die elf families wat die voortou geneem het en wat later as ’n rampspoedige onderneming sou blyk, het daarin geslaag om met redelike sukses tot by die Ngamimeer te trek. Dit was egter die groep wat hierna onder leiding van Jan Greyling en Louw du Plessis langs die Krokodilrivier versamel het, wat die grootste teëspoed sou ervaar. Na veel oponthoud het 480 blankes en ’n aantal bediendes met 128 waens en 1058 trekosse in April 1877 die Kalahari aangedurf. Van die begin was daar al onderlinge tweespalt. Boonop was die trek geheel en al te groot vir ’n roete waar water uiters skaars was. Op plekke moes die water lepelsgewys uitgedeel word, of modder deur handdoeke en hemde gedruk word vir vogtigheid. Die meeste van die vee is in die proses verloor en 37 mense het die eerste twee maande hul lewens gelaat. Vele sou nog later sterf. ’n Derde, dog kleiner trek het kort hierna die Kalahari veilig deurgedring. Maar die Trek as sodanig is eers grootliks beëindig toe grondgebied teen 1881 in Angola van die Portugese owerheid verkry is. 

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Tobaberg (Houtnek, Thaba ‘Nchu begin en duur tot 1 Mei 1900

1936 – Jonker-diamant

Die Jonker-diamant, vierde grootste klip op rekord, word ná drie maande se intensiewe studie in drie gedeel. Dit is gevind deur ’n delwer met die naam Jacobus Jonker op die plaas Elandsfontein naby Pretoria.

1961 – Doodkry is min, rolprent, bekend gestel

Na die FAK se reeks Wonder van Afrikaans-feestelikhede in 1959 het hy sy rolprent oor Afrikaans, Doodkry is min, bekend gestel by ’n première op 19 April 1961 by die Amfiteater van die Voortrekkermonument in Pretoria, waar 40 000 mense – die grootste rolprentgehoor nog ooit in Suid-Afrika – saamgetrek was. In daardie jaar is die rolprent by haas elke inrybioskoop in die land vertoon en is dit na raming deur ruim ’n miljoen mense gesien. Daarna is dit nog ongeveer 600 keer vertoon, ook in ander lande in Afrika en Europa, wat die kykertal tot in 1978 op minstens twee miljoen te staan gebring het. Doodkry is min gee ’n historiese uitbeelding van die ontstaan, die ontwikkeling en stryd om voortbestaan van die Afrikaanse taal sedert die volksplanting in 1652.

Toneel uit Doodkry is min

Geboortes

1868 – Regter Frederik Edward Traugott Krause, aanklaer in die ZAR, wat later genl. Christiaan de Wet tydens sy rebellieverhoor verdedig het († 23 Augustus 1959)

 

Sterftes

1961 – Hendrik Lodewyk (Hennie) Roux, Afrikaanse kulturele leier en medestigter van die Rapportryersbeweging (* 15 Augustus 1901)

1966 – Genl. Johannes Jacobus Pienaar, administrateur van Transvaal (* 16 April 1877)

Johannes Jacobus Pienaar is op Ladybrand gebore. Hy speel ’n belangrike rol in die Afrikaner-volkslewe as staatsamptenaar, militêre bevelvoerder, politikus en tussen 1938 en 1948 as Administrateur van Transvaal. Hy is op 29 April 1966 oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/