27 MAART
November 1, 2016
29 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1658 – Die eerste slawe kom in Kaapstad aan

1899 – Lord Milner stuur die uitlanders in die ZAR se klagskrif na Engeland

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Veertienstrome-brug, Warrenton

1918 – Santam word geregistreer as maatskappy

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1825 – Frans Rynhard Bresler, beampte van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie en landdros van Graaff-Reinet (* 27 Julie 1766)

1875 – Dr. Abraham Faure, die vader van die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch (* 29 Augustus 1795)

Abraham Faure is op 29 Augustus 1795 uit ’n gesiene Stellenbosse familie gebore. Hy ontvang sy skoolopleiding op Stellenbosch en in die Latynse skool te Kaapstad. Vir verdere studie gaan hy na Gosport in Engeland, waar hy as sendeling van die London Missionary Society opgelei word. Daarna gaan na die Universiteit van Utrecht, waar hy sy teologiese studie afhandel. Hy was van 1818 tot 1822 predikant van Graaff-Reinet en van 1822 tot sy aftrede in Kaapstad. Hy het ’n leidende rol gespeel in die sameroeping van die eerste Sinode van die NG Kerk in 1824. Baie jare was hy lid van die moderatuur as aktuarius en skriba. Hy het hom veral daarop toegelê om tydskrifte uit te gee en so inligting en kennis deur te gee aan die Hollandse bevolking aan die Kaap, wat maar min geleentheid daartoe gehad het. In 1824 stig hy Het Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Tijdschrift waarin kennis en nuus meegedeel is sonder om in politieke vaarwaters te beland. Dit bly voortbestaan tot 1843. In 1838 stig hy die eerste kerkblad in Suid-Afrika, De Honingby. Dit word op 13 Januarie 1849 die spreekbuis van die NG Kerk in Kaapland met die naam De Gereformeerde Kerkbode. Dr. Faure bly hiervan redakteur tot 1869. In 1910 word dit die amptelike orgaan van die Gefedereerde NG Kerke en dit bestaan vandag nog onder die naam Die Kerkbode. Met hierdie tydskrifte het dr. Faure ’n groot bydrae tot die bevordering van die Hollands-Afrikaanse kultuur in Suid-Afrika gelewer. Maar hy was ook in die onderwys geïnteresseerd. Hy was stigter van die Z.A. Athenaeum in 1829, waaruit later die Universiteit van Kaapstad ontwikkel het. Hy het hom beywer vir die uitbreiding van kennis deur boeke. Hy was voorsitter van die Zuid-Afrikaansche Christlijke Boekvereniging en het gesorg dat die Von Dessen-versameling wat die kerkraad in bruikleen aan die Suid-Afrikaanse Biblioteek gegee het, gereeld met boeke aangevul is. Hierdie versameling is een van die kosbaarste kulturele besittings wat ons in Suid-Afrika het.

1900 – Piet Joubert, Boerekryger en generaal (* 20 Januarie 1834)

Kommandant-generaal Piet Joubert het die Britse mag byDundee in Noord-Natal gestuit, maar daarna het die Boeremagte ’n nederlaag by Elandslaagte gely. Daarna het die burgers weer reuse suksesse behaal by Modderspruit en Nicholsnek, ten spyte van genl. White se pogings om hulle te stop. Joubert het Ladysmith beleër, wat ’n fout was omdat te veel manskappe vir hierdie doel gebruik was. By Estcourt het die Britte weer eens op hul herrie gekry, maar die burgers moes terug tot by die Tugela-rivier. Ná die siekte van genl. Joubert, wat hom op 28 Maart 1900 sy dood gekos het, het genl. Louis Botha bevel van die Transvaalse magte oorgeneem. Die Britte het hierna drie groot nederlae gely wat hul moraal tot op die laagste vlak sou laat daal. Die eerste was by Colenso, die tweede by Spioenkop en die laaste by Vaalkrans.

1935 – Tielman Johannes de Villiers (Tielman) Roos, advokaat, regter, politikus en minister van justisie vanaf 1924 tot 1929 (* 18 Mei 1879)

Tielman Johannes de Villiers Roos is op 8 Mei 1879 in Kaapstad gebore en het in 1902 na Transvaal verhuis. Hy het belangrike aanvoorwerk vir die totstandkoming van die Nasionale Party gedoen en daarna ook ’n vurige kampvegter vir die republikeinse ideaal geword. Sy onderhandelinge agter die skerms met Arbeiderleiers na die Randse staking (1922) het gelei tot die bewindsoorname van die Pakt in 1924. In die nuwe kabinet was hy Minister van Justisie, maar ’n omstrede figuur weens sy inmenging in kollegas se terreine. Swak gesondheid het hom in 1929 uit die politiek laat tree, waarna hy appèlregter geword het. Sy hertoetrede tot die politiek teen die einde van 1932 het ’n enorme ekonomiese en politieke omwenteling tot gevolg gehad. Pogings om met genl. JC Smuts ’n koalisieooreenkoms te sluit, het misluk en in Mei 1934 het Roos die Sentrale Party gestig – ’n party met suiwer ekonomiese oogmerke en met ’n kortstondige bestaan. 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/