27 DESEMBER
December 27, 2016
29 DESEMBER
December 29, 2016

Gebeure

1850 – Die Heerengracht in Kaapstad is tot Adderleystraat herdoop

1912 – “Mishoop”-vergadering van die Hertzog-waaksaamheidskomitee

Met die samestelling van die eerste Unie-kabinet wou die aangewese premier, genl. Louis Botha, nie graag sy vroeëre medegeneraal van die Anglo-Boereoorlog, genl. JBM Hertzog, insluit nie. Dit was polities egter onvermydelik. Van die begin af het Hertzog, die Afrikaner in Suid-Afrika, en Botha, die konsilialis in Britse skaduwee, die toekomspad gesoek. In 1912 het die politieke bom ná Hertzog se De Wildt-toespraak gebars. Die gevolg was dat hy uit genl. Botha se nuwe Kabinet gelaat is. Maar die getroue Afrikaners het hulle om Hertzog geskaar en hom hulle persoonlike steun, voorbidding en politieke hulp aangebied. Tielman Roos het landwyd ’n volksprotes teen Hertzog se weglating gereël. Ongeveer 5000 Afrikaners het op hierdie dag in Pruisepark, Pretoria, regoor die standbeeld van pres. Paul Kruger, byeengekom. Die platform was ’n hoop verrotte gras wat vir bemesting in die park gebruik sou word. Adv. Roos het as voorsitter opgetree en genl. CR de Wet het as spreker opgetree. Hy het gesê dat hy trots is om daar te wees want die geskiedenis het reeds bewys dat geen volk verhoog sal word voordat hulle verneder is nie, “… daarom wil ek mij liever op een mesthoop onder mijn volk bevinden, dan op een schitterend platform onder vreemdelingen.” Daarna het die skare na Hertzog se woning gegaan, hom op ’n tafel gelig en toegejuig. Volksliedere is gesing en Hertzog is na sy toespraak waarin hy die slagspreuk “Zuid-Afrika eerste” vir die eerste keer uitroep, skouerhoog sy woning ingedra. ’n Waaksaamheidskomitee het hierna sake verder gevoer – dit was die begin van ’n politiek-kulturele Afrikaner-gebondenheid wat op elke lewensterrein Afrikanerheil bevorder het.

 

Geboortes

1880 – Christiaan Frederik Louis Leipoldt, joernalis, skrywer en digter († 12 April 1947)

Christiaan Frederik Louis Leipoldt is op 28 Desember 1880 op Worcester gebore. Hy was sowel digter as skrywer, joernalis en geneesheer. Afgesien van sy boek, Kos vir die Kenner het hy verskeie literêre werke in Afrikaans en Engels geskryf. Onder die bekendstes is Oom Gert vertel en ander gedigte, Dingaansdag, Die Bergtragedie en Skoonheidstroos. Vir laasgenoemde werk is hy bekroon met die Hertzogprys vir poësie in 1934. In 1944 is die Hertzogprys vir drama aan hom toegeken vir sy werke Die Heks en Die laaste aand. Saam met Jan FE Celliers en Totius vorm hy die bekende Driemanskap tydens die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Leipoldt is op 12 April 1947 oorlede.

1926 – Francois Frederik Odendal, taalkundige en leksikograaf († 6 April 2013)

 

Sterftes

1890 – Prof. Dirk Postma, Nederlandse en Suid-Afrikaanse teoloog en grondlegger van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika († 10 Januarie 1818)

Dirk Postma is op hierdie dag in Dokkum, Friesland, gebore uit die huwelik van Pieter Pieters Postma en Lolkje Arjens Boekhout. Die gesin het die Gereformeerde geloof van harte liefgehad en vreemd gestaan teen die opkomende liberalisme en modernisme ná die Franse Revolusie. Hy kon weinig skoolgaan en moes reeds op 15-jarige ouderdom as loodgieterskneg sy weduwee-moeder help onderhou. In dieselfde jaar verskyn die geskrif Verdediging van de ware Gereformeerde leer … van ds. Hendrik de Kock in Ulrum, wat lei tot die kerklike Afskeiding van 1834 en die stigting van die Christelike Gereformeerde Kerk van Nederland. Die Postma-gesin het ook met die protes teen die gees van die 19de eeu meegegaan. Hierdie mense wou buig onder die algehele gesag van die Bybel en die Belydenis van die Hervorming in die 16de eeu onverswak handhaaf. Terwyl die Nederlandse Regering die Afskeiding hardhandig onderdruk het, het Postma die roeping gevoel om predikant te word. Ná een jaar studie by die huis van die Semitikus, ds. TF de Haan, word hy op 19 Junie 1840 as predikant toegelaat en bekwaam hy hom verder deur selfstudie. Hy het vier gemeentes in Nederland bedien en ’n leidende rol ten opsigte van die opleiding van predikante, die Christelike onderwys en kerklike aktiwiteite gespeel. Die Sinode van 1857 het gevolglik vir ds. Postma, toe ’n wewenaar, afgevaardig om aan die Transvaalse Regering in hulle nood aan predikante en onderwysers hulp namens die Sinode te gaan aanbied en tegelyk ook sendingmoontlikhede te ondersoek. Hy het moeite gedoen om ’n kerklik skeuring te verhoed en het hartlike verhoudinge met die enigste predikant in Transvaal, ds. D van der Hoff, onderhou. Die Algemene Kerkvergadering het hom op 11 Januarie 1859 kragtens die grondwet ondersoek of hy Gereformeerd is en verder oor aan sy standpunt oor die sing van Gesange uitgevra. Postma wou dit aan die vryheid van predikante oorlaat. Die vergadering het die gebruik daarvan egter verpligtend gestel. Postma het hom bereid verklaar om predikant van die te stigte Gereformeerde Kerk op Rustenburg op 11 Februarie 1859 te word. Hy het as enigste predikant tot 1862 uit Rustenburg-kerke in Transvaal, die Vrystaat en Noordoostelike Kaapkolonie bedien. Vanaf 1863 het hy kragdadig aan die onderwys van die jeug en oprigting van skole aandag gegee. Vanaf 1864 het hy begin om aanhuis-uitgesoekte manne, onder andere ’n onderwyser soos Jan Lion Cachet, opleiding as predikante te verskaf. In 1866 het hy met die oog daarop ’n beroep na Burgersdorp aangeneem en saam met Cachet in 1869 die predikante-opleiding aan die pas gestigte Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika behartig. Hy het feitlik in die tuig op 28 Desember 1890 gesterf. Postma se groot bydrae was nie beperk tot die opleiding van roepingsbewuste predikante, besiel met liefde vir die gereformeerde geloof nie; hy was ook vurige pleitbesorger vir die regte van Hollands in die Engelse Kaapkolonie. Dit is veelseggend dat die Taalmonument ter herdenking van die verkreë reg om Hollands in die Kaapse Parlement te besig, in Burgersdorp opgerig is. Hy was ook ’n voorstander van plaaslike sending en het in 1870 daarvoor ’n breë beleid uitgewerk. Sy grootste betekenis na buite lê egter in sy onvermoeide ywer en volharding om vrye Christelike skole vir Christelik-nasionale Onderwys op die plase en dorpe op te rig en toe te sien dat daar oortuigde Calviniste en Afrikaners voor die kinders staan. Sodoende het hy ’n bydrae tot die Afrikaanse volkswording en kultuur gelewer wat van onskatbare waarde was.

2003 – Rykie van Reenen, Afrikaanse joernalis (* 31 Desember 1923)

Rykie van Reenen was een van die grootste Afrikaanse joernaliste van die tweede helfte van die twintigste eeu.

2009 – Dirk de Villiers, rolprentmaker en akteur (* 26 Julie 1924)

2015 – Christian Johan (Chris) Barnard, befaamde Afrikaanse skrywer en rolprentmaker (* 15 Julie 1939)

Chris Barnard was ’n outeur wat groot beroemdheid verwerf het met sy talle Afrikaanse romans, novelles, kortverhale, toneelspele, hoorspele, draaiboeke en televisiedramas. Barnard was deel van die sogenaamde Sestigers-beweging en in 1975 ’n medestigter van die Afrikaanse Skrywersgilde. Hy was met die aktrise en rolprentregisseur Katinka Heyns getroud.

2016 – Judith Mason, Suid-Afrikaanse kunstenaar (* 1938)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/