27 APRIL
November 1, 2016
29 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1805 – Die Strooidakkerk is ingewy

’n Klein, swakgeboude kerkie wat uit 1718 dateer, was teen die einde van die 18de eeu onvoldoende vir die NG Gemeente in die Paarl. Die pragtige orrelgalery ontwerp deur die beeldhouer, Anton Anreith, is nie behou toe die kerk tien jaar later afgebreek is nie.

Toe daar besluit is om ’n nuwe kerk op te rig, kon Louis Michel Thibault se ontwerp nie aanvaar word nie, weens ’n tekort aan fondse. Thibault was baie ontevrede hieroor en het die kerk gedagvaar vir sy argitekfooie, wat hy gedeeltelik ontvang het. Die ontwerp van George Conrad Kuchler, ’n militêre ingenieur, is aanvaar. Die herboude kerk is op 28 April 1805 ingewy.

Die kerk is in die vorm van ’n Griekse kruis waarvan die arms almal in Kaaps-Hollandse holbolgewels eindig. Die gewels is in boogvorm en die hoofingang neem dieselfde vorm aan met ’n boogvormige bolig. Howel die dak met riet gedek is, staan die kerk algemeen bekend as die “Strooidakkerk”. Ten spyte van veranderinge en aanbouings het die kerk deur die jare basies dieselfde voorkoms behou. Teen 1828 is ’n plafon onder die rietdak aangebring en twee ekstra galerye ingebou. Nog tien jaar later is ’n pragtige preekstoel deur me. MM Krynauw geskenk. Die kloktoring is in 1811 gebou. Die klok is wel ’n oorblyfsel van die ou kerkie en is gegraveer: “Amsterdam 1714”.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Swartlapberg, Thaba ‘Nchu

1900 – Anglo-Boereoorlog: Berig in The Times

’n Britse verslaggewer skryf ’n berig in die The Times-koerant. Hy meld dat Britse soldate by die dosyne sterf omrede weinig mediese behandeling beskikbaar is. Volgens hom het die soldate elk slegs een kombers en ’n grondseil gehad. Geen medisyne, beddens, ensovoorts was beskikbaar gewees nie.

1945 – Die CNO-Bewaarskool open in Pietermaritzburg

Die beperking op moedertaalonderrig het groot ontevredenheid onder die Afrikaners van Natal ontketen. Uit protes teen hierdie beperking van Afrikaans as taalmedium vir onderrig, is daar op 7 Februarie 1944 in die stadsaal van Pietermaritzburg onder luide applous eenparig besluit om ’n eie CNO-Bewaarskool in die stad te stig. Kragte is gekoördineer, en die Nasionale Instituut vir Onderwys en Opvoeding van die FAK het in samewerking met die Natalse Aksiekomitee besluit om oor te gaan tot die aankoop van ’n geskikte perseel in Pietermaritzburg waar die CNO-Bewaarskool opgerig sou word. Daar is daadwerklik oorgegaan tot die insameling van geld, en die nodige bedrag is spoedig ingesamel. ’n Gebou is vir die bedrag van £5 500 aangekoop, en op 28 April 1945 is die CNO-Voortrekker-Bewaarskool amptelik deur prof. JC van Rooy en dr. E Greyling geopen.

Geboortes

1889 – Hendrika (Rikie) Postma, Afrikaanse skrywer († 21 November 1938)

Sy was die oudste kind van Stephanus Postma en Johanna Slijkhuis. Sy erf haar kunssin van albei haar ouers en ontvang haar skoolonderrig op Burgersdorp en Middelburg (Kaap). Nadat sy in die eksamen vir kwekelingonderwyseresse geslaag het, gee sy ’n kort rukkie onderwys. Koorssiekte dwing haar om dit te laat vaar, en sy sit haar studie tuis voort. Van Mei tot November 1937 besoek sy as reisgesellin van prof. JD du Toit en sy eggenote die Heilige Land. Sy toon ’n lewendige belangstelling in die Ossewa-trek van 1938. Sy het die voorstel gedoen dat die waens na Voortrekkerheldinne genoem word, dat die spore van die osse en van die wawiele by die feesterreine in sementafdrukke vasgelê word, en dat op die dorpe langs die trekpad gemesselde klipstapels met brons plaatjies opgerig word. Dit was haar begeerte as skryfster om kinders bewus te maak van die skoonheid van die Bybel, soos gesien kan word in Lig uit die Ooste. Sy vertel van oudhede in Kaapstad in Ou dae en dinge en skryf ook drie toneelstukkies en onder meer ’n kinderverhaal, Elsie, die veldkindjie, waarin sy daarin slaag om die kinderverbeelding aan te gryp. ’n Aantal hoorspele en talle populêre artikels in dagblaaie en tydskrifte het uit haar pen verskyn.

Sterftes

1960 – Dr. Josias Hendrik Otto du Plessis, administrateur van die Kaap (* 23 Februarie 1906)

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/