26 SEPTEMBER
September 26, 2015
28 SEPTEMBER
September 28, 2015

Gebeure

1666 – Cornelis van Quaelb word kommandeur

Zacharias Wagenaer word deur Cornelis van Quaelbergen opgevolg as kommandeur van die Kaap van Goeie Hoop.

1900 – Bekragtig oprigting van konsentrasiekampe

Lord Frederick Sleigh Roberts bekragtig die oprigting van konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog.

 

Geboortes

1830 – Hendrina Johanna Susanna Joubert (geb. Botha), die vrou van Piet Joubert († 8 September 1916)

Hendrina Johanna Susanna Joubert (geb. Botha) is op Richmond in Kaapland gebore. Haar moeder is met haar geboorte oorlede, en sy het by haar grootouers Botha grootgeword. Toe sy ses jaar oud was, het die Bothas hulle by die Groot Trek aangesluit. Hendrina Botha het die vernaamste Trekgebeurtenisse tot in Natal meegemaak, en na die inbesitneming van Natal deur die Engelse het die Bothas na Transvaal verhuis. Hulle het hulle op Potchefstroom gevestig, waar Hendrina Botha op 2 April 1851 met Piet Joubert, die latere krygsheld en kommandant-generaal van die ZAR, getroud is. Tien kinders is uit die huwelik gebore. Anders as ander vroue, het Hendrina Joubert haar man gereeld op sy vele politieke en krygsekspedisies vergesel. Sy het altyd net buite die gevegslinies kamp opgeslaan en telkens gewondes verpleeg soos met die Slag by Amajuba. In haar laaste jare het hierdie dapper Boerevrou steeds die belange van haar volk op die hart gedra en lei sy die optog in 1914 in verband met die vrystelling van die Rebelle. Sy is twee jaar later op 8 September 1916 in Pretoria oorlede.

1862 – Louis Botha, Boeregeneraal en eerste minister van die Unie van Suid-Afrika († 27 Augustus 1919)

Louis Botha, een van 13 kinders wat na sy geboorte op hierdie dag, op die plaas Hartebeesvlakte naby Greytown in Natal gewoon het, het slegs 57 jaar oud geword. Treffend in voorkoms, met sy donker hare en potblou oë, was hy ’n vooruitstrewende boer, ywerige politikus, een van ons grootste generaals, staatsman en volksleier. As jong man het Botha in die Transvaalse politieke lewe betrokke geraak en in Pretoria, asook op sy spogplaas Waterval naby Vryheid, gewoon. Hy het gedurig sy kennis van boerdery aangevul en sou ’n baie welgestelde man word. In die Volksraad van die ZAR was hy ondersteuner van genl. Piet Joubert. Dié ou man was baie lief vir die skrander Louis en dit was Joubert se begeerte dat Botha hom na die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sou opvolg as kommandant-generaal van Transvaal, iets wat toe ook so gebeur het. Voordat dit egter geskied het, was hy ’n veldkornet, ’n vrederegter, en het hy ’n rol gespeel in die Nuwe Republiek wat later by Transvaal ingelyf is. Hy het ook die getroue vriendskap van die invloedryke Lucas Meyer gewen, hy was kontrakteur, maar bowenal aktiewe Volksraadslid, boer en krygsman. Natal was sy wêreld, en die Natallers het nog lank na sy dood sy nagedagtenis vereer. Teen 1900 was genl. Louis Botha een van die beroemdste mense in die wêreld, die held van Colenso en Spioenkop. Hy was ’n natuurlike strateeg, maar het ook heelwat van sy vriend genl. De la Rey geleer. Met pres. Kruger se vertrek na Europa was Botha die wesenlike leier van Transvaal, een van ’n luisterryke driemanskap saam met genls. De la Rey en De Wet. Dit was ook hulle wat saam Europa toe gegaan het om geld in te samel vir hul geteisterde volk.

Sy eerste politieke party het dan ook Het Volk geheet. Botha was instrumenteel saam met Jan Smuts, om selfregering vir Transvaal en die Vrystaat te verkry, en Botha het outomaties Eerste Minister van Transvaal geword. Hy, Smuts en ander lede het toe begin werk vir die federasie of unifikasie van die kolonies en protektorate wat Suid-Afrika uitgemaak het. In 1910 het ’n Unie tot stand gekom en genl. Louis Botha is, tot wêreldwye verbasing, verkies tot Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika – ‘n Boer! Baie het gewonder waarom daar ooit oorlog was. Botha was dus die eerste premier wat in Cecil Rhodes se herehuis, Groote Schuur ingetrek het. Botha se politieke party het destyds die Suid-Afrikaanse Party geheet. Hy en Smuts het geglo aan ’n beleid wat as konsiliasie tussen die volksgroepe geformuleer is. Hulle geneentheid jeens Engeland het egter geleidelik baie van hul mense begin vervreem en in genls. Hertzog en De Wet sou hul gedugte teenstanders kry. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het Botha en sy party besluit om Brittanje by te staan en Duitswes-Afrika en Oos-Afrika, beide Duitse kolonies, te verower. Hierdie besluit onder Smuts was Botha se grootste oordeelsfout en die gevolg was ’n tragiese Rebellie. Botha het Duitswes sonder moeite verower, maar sy gesondheid was aan die versleg en hy het tydelik op die agtergrond getree. Nadat hy die Vredeskonferensie in Europa bygewoon en na Suid-Afrika teruggekeer het, het Botha sy politieke bedrywighede hervat, net om skielik op 27 Augustus 1919 op Standerton te sterf. Die hele volk, selfs sy vyande, was geskok, en geleidelik het een na die ander standbeeld van hierdie man verrys. Te midde van sy oordeelsfout om saam met genl. Smuts en Brittanje teen Duitsland te veg, het hy ’n sleutelfiguur in ons wordingsgeskiedenis geword.

1893 – Johannes Jacobus Scheepers, stigterslid van FAK

Johannes Jacobus Scheepers is op Witklip Middelburg (Transvaal), gebore. Hy was ’n stigterslid van die FAK en het twee jaar lank op ’n deeltydse basis as hulpsekretaris diens gedoen. In die jare 1930-1933 het hy as Persgeneraal van die Handhawersbond opgetree, en was daarna 14 jaar lank sekretaris van die Sentrale Volksmonumentekomitee. Hy was organiserende sekretaris van die Eeufeesviering met die Simboliese Ossewatrek in 1938. ’n Bekende jeugboek, Jannie Springkaanbeentjies, het in 1941 uit sy pen verskyn.

 

Sterftes

1973 – Johannes Frederikus van Wyk, onderwyser (* 23 Julie 1885)

Johannes Frederikus van Wyk is op die plaas Leeuwfontein, in die distrik Wolmaransstad, gebore en ontvang sy skoolopleiding daar. Op 14-jarige ouderdom lê hy sy eindeksamen af en in dieselfde jaar (1899) breek die ABO uit. As 15-jarige penkop sluit hy hom by die Boeremagte aan, neem aan minstens agt veldslae deel, word ’n maand voor die vredesluiting by Roodewal gevang en na Indië gestuur, waar hy sy naskoolse studie voortsit. Na sy terugkeer in 1903 sit hy sy studies veral in Engels en Geskiedenis voort en bekwaam hom as onderwyser aan die Pretoriase Normaalkollege. In 1919 is hy na Arusha, in Oos-Afrika, as die eerste Afrikaanssprekende onderwyser, wie se ywer vir die sosio-kulturele en akademiese opheffing van die Afrikanerkind nooit geëwenaar is nie. Meer as 15 jaar gee hy gratis onderwys en bou hy skole – dikwels in ongunstige en vernederende omstandighede. Later was hy in diens van die grondboontjie maatskappy in Tanzanië, en daarna het hy verskeie goudkonsessies gehou. In 1963 het hy en sy eggenote, agterkleinkind van Louis Trichardt, na Suid-Afrika teruggekeer. Sy herinneringe aan die ABO is gepubliseer in Die Mauser Knal, waarin hy ’n lewendige voorstelling gee van die kommandolewe en krygsgevangeneskap. 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/