26 OKTOBER
October 26, 2015
28 OKTOBER
October 28, 2015

Gebeure

1899 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Lombardskop, Ladysmith

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Rensburgdrif, Parys

1901 – Anglo-Boereoorlog: Emily Hobhouse word onder militêre arres geplaas

Emily Hobhouse is op hierdie dag in militêre arres geplaas by haar aankoms met die Avondale Castle in Tafelbaai. Hierdie arbitrêre stap het gevolg op die verklaring van krygswet in die Kaapkolonie, maar vir mej. Hobhouse was dit ’n bittere vernedering en maar net nog ’n tasbare voorbeeld van oorlogsonreg. Nadat ’n deportasiebevel aan haar beteken is, is sy met geweld deur Britse soldate na die Roslyn Castle oorgeplaas en na Engeland teruggestuur. Haar gesondheid is as gevolg van hierdie voorval ernstig benadeel en haar vertroue in “Britsh fairplay” blywend geskok.

1932 – Eerste hofsaak in Afrikaans

Die eerste hofsaak in Afrikaans word deur regter FW Beyers in die Bloemfontein-appèlhof gelewer.

1937 – Instelling van ’n Afrikaanse radiodiens

Enkele brokkies Afrikaans is vir die eerste keer in 1924 oor die radio gehoor. In daardie jaar het die radio in Suid-Afrika as drie afsonderlike private ondernemings in Johannesburg. Kaapstad en Durban begin. Die uitsendingsterkte van hierdie drie streekstasietjies was uiters beperk, en die Afrikaanse bydraes sporadies en heel gering. In 1927 het die regering ’n konsessie aan die Schlesinger-organisasie toegeken om die uitsaaiwese in die land te beheer en is die African Broadcasting Company gestig. Daar het nog ’n paar senders bygekom maar die uitsendings was steeds op ’n streekbasis. Afrikaans het op sy beste in een streek slegs 45 minute per week vir programme gehad. Hierbenewens was daar ook enkele praatjies en nuusbulletins. Op 1 Augustus 1936 is die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie by wyse van Parlementêre Statuut ingestel met die opdrag om uitsendings te voer met inagneming van die belange van die Afrikaanse, Engelse en swart taalgroepe van die land. Aan die begin is hoofsaaklik in Engels uitgesaai, maar op 27 Oktober is die Afrikaanse Diens van die SAUK ingestel.

In 1938 is ’n besluit geneem wat die Afrikaanse Diens in ’n besondere sin tot die hart van sy mense laat spreek het. Daar is naamlik beplan om die eerste paar skofte van die Simboliese Ossewatrek uit te saai. Ten spyte daarvan dat die uitsendings oor tegnies swak telefoonlyne plaasgevind het, was die reaksie van luisteraars so oorweldigend dat besluit is om die hele trek uit te saai. Die volgehoue reaksie op die uitsendings het die behoefte van die Afrikaanse luisteraar onderstreep om meer in sy eie taal te verneem van wat sy eie is. En toe kom die Tweede Wêreldoorlog. Die radio en ook die Afrikaanse Diens is deur die regering van die dag bygehaal om ’n rol in die oorlogspoging te speel. In die jare veertig en ook die begin jare vyftig het die Afrikaanse Diens die taak gehad om die kruitdampe van die oorlog wat tussen baie Afrikaanse luisteraars en hulle radio ingeskuif en lank in die eter bly hang het, in die niet te laat verdwyn. ’n Resep moes gevind word wat die Afrikaanse Diens weer tot die hele volk sou laat spreek. Eintlik kan die basiese resep in een volsin saamgevat word: die volk self, sy geloof, die seggingskrag van sy taal, sy musiek, sy letterkunde, sy humor, sy sport, sy geskiedenis, is soos nog nooit tevore nie ingespan om die vroeëre glorie te laat herleef en selfs te oortref.

Wat die gelykberegtiging van die Afrikaanse Diens betref, was die uitsendingsterkte van die Afrikaanse Diens in 1946, tien jaar na die totstandkoming van die SAUK, nog in daardie stadium 11 kilowatt teenoor die 33 van die Engelse Diens. Met beslistheid en toewyding is hierdie dinge geleidelik reggestel. Met die uitbouing van die Afrikaanse Diens tot ’n volwaardige diens naas die Engelse Diens, is ’n bydrae gelewer tot die uitbouing en verryking van die Afrikaanse kultuur op ’n wyse wat ons selfs vandag nog nie volledig en reg kan beoordeel nie. Die radio het veral die Afrikaanse letterkunde verryk met nuwe kunsvorme – ons dink hier veral aan die hoorspel en die hoorbeeld. ’n Groot verskeidenheid van radiorubrieke het tot stand gekom waarin die Afrikaanse kultuurproduk bespreek en oor die eter bekend gestel is. Ook die vertaalkuns, vertalings van klassieke en hoogstaande kunswerke is bevorder en tot verryking van die Afrikaanse kultuurlewe aangebied. En wat die Afrikaanse taalgebruik betref, het die SAUK altyd daarop aangedring dat hierdie taalgebruik suiwer, tekenend en nuut moet wees, en dat dit presies sal sê wat die spreker bedoel. Nuwe woorde, radio- en televisiewoorde by die honderde, het die Afrikaanse taalbesit uitgebrei en verryk. ’n Spesiale deskundige komitee vir taaladvies het ’n wakende oog oor ons Afrikaanse radio- en televisietaal gehou.

2006 – Lughawe herdoop

Die Johannesburg Internasionale Lughawe word herdoop na die O.R. Tambo Internasionale Lughawe.

 

Geboortes

1913 – Hendrik Johannes Jan Matthys (HJJM) van der Merwe, Afrikaanse taalkundige († 25 Februarie 1974)

Hendrik Johannes Jan Matthys van der Merwe, alombekende taalkundige, is op Morgenzon in Oos-Transvaal gebore. In 1954 word hy professor in Afrikaans, Nederlands en Germaans by Unisa. Die pos beklee hy tot met sy dood op 25 Februarie 1974. Prof. Van der Merwe het hom veral beywer vir die Afrikaanse taalkunde. Hy het onder meer ’n kursus vir nie-Afrikaanstaliges geskryf, An intruduction to Afrikaans (1951) en ook Taalfunksie en Spellingvorm (1955), Die korrekte woord (1965), en Lees- en Skryftekens (1969). Verder het hy ’n aantal vroeë Afrikaanse geskrifte uitgegee. Hy was redakteur van ’n hele aantal bundels taalkundige opstelle. In 1962 reis hy deur Afrika en publiseer hy na aanleiding van sy reise werke soos Segregeer of sterf! (1961) en Swart Afrika – Waarheen? (1964). Deur sy toedoen word die Linguistiese Vereniging van Suid-Afrika in 1965 gestig, en tot met sy dood was hy redakteur van die vereniging se tydskrif Taalfasette. Sy werk, ook sy artikels, koerant- en radiorubrieke, is ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse taalkunde.

1915 – Hermien Dommisse, aktrise en regisseur († 24 Maart 2010)

 

Sterftes

1939 – Elizabeth Johanna Möller (Bettie) Conradie, letterkundige en kulltuurstryder (* 10 Augustus 1903)

Bettie Conradie was ’n Afrikaanse lektor wat haar kort lewe aan die uitbouing van die Afrikaanse kultuur gewy het. Sy is veral bekend vir haar gesaghebbende navorsing oor Hollandse skrywers in Suid-Afrika. Prof. PJ Nienaber het eenmaal vertel dat hy die woord “Africana” die eerste keer by Bettie Conradie gehoor het.

2010 – Gideon Joubert, verslaggewer en skrywer (* 4 September 1923)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/