26 NOVEMBER
November 26, 2015
28 NOVEMBER
November 27, 2015

Gebeure

1838 – Die strafkommando trek teen Dingaan uit

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Helvetia, Dewetsdorp/ Smithfield en Sanddrif, Aliwal-Noord-gebied

 

Geboortes

1798 – Andries Wilhelmus Jacobus (Andries) Pretorius, Voortrekkerleier en held van die Slag van Bloedrivier († 23 Julie 1853)

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius, groot Voortrekkerleier, is op die plaas Driekoppen, distrik Graaff-Reinet gebore. As Oosgrensboer speel hy ’n belangrike rol in die gebeurtenisvolle jare voor die Groot Trek. Gedurende die Sesde Oosgrensoorlog (1834–1835) voer hy ’n kommando van 800 burgers aan. Toe die eerste Voortrekkers in 1836 uit Graaff-Reinet vertrek, gaan hy nie saam nie, maar besoek in 1837 die Voortrekkers in die Vrystaat en Natal en koop selfs ’n plaas in Natal. Daarom is hy die vanselfsprekende keuse om na Pieter Retief se dood, leier van die herderlose Voortrekkers te word. Op 22 November 1838 sluit hy hom by die hooflaer, aan die Klein-Tugela aan en begin hom dadelik voorberei vir die stryd teen Dingaan. As hoofkommandant van die strafkommando trek hy op 24 November met 470 man en 64 waens uit. Hy dissiplineer die pioniere met takt en deeglikheid en is die stukrag agter die aflegging van die Gelofte deur Sarel Cilliers op Sondag 9 Desember 1838 by Wasbank. Die Gelofte word elke aand hierna herhaal. Op 15 Desember organiseer hy met besondere krygsvernuf ’n laer op die wesoewer van die latere Bloedrivier. Kort na dagbreek op Sondag 16 Desember bars die geveg los toe 10 000 Zoeloekrygers die laer keer op keer aanval. Na twee uur van woeste aanvalle bestorm Pretorius en sy perderuiters die Zoeloe-impies. Twee keer word hulle teruggedryf voordat hulle deurbreek en die Zoeloes op die vlug slaan. Die Slag by Bloedrivier het Dingaan se mag ’n knou toegedien waarvan hy nie maklik sou herstel nie, want 3000 van sy impie het gesneuwel terwyl net drie Voortrekkers, waaronder Pretorius, lig gewond is. Hierna verslaan Pretorius die Zoeloes se mag finaal en annekseer op 14 Februarie 1840 die landstreek tussen die Tugela en Swart-Umfolozi. Hy neem die leiding in die vereniging van die Winburg-Potchefstroom-Pietermaritzburg Voortrekkers in een politieke eenheid. Na die Britse anneksasie van Natal het hy nog vyf jaar lank in Natal volgehou. Totdat die volkerebeleid van die Britse owerheid hom uitgedryf het. Tevergeefs het hy aangedring op territoriale segregasie en gewys op die gevaar wat meegebring word wanneer wit en swart deurmekaar woon. Hy het swaar van Natal afskeid geneem. Voor sy vertrek het sir Harry Smith hom aan die voet van die Drakensberge ontmoet en by hom aangedring om te bly. Hy sou al die griewe uit die weg ruim en het Pretorius persoonlik ’n ruim beloning aangebied. Pretorius het egter by sy besluit gebly: alleen as Natal aan die Voortrekkers teruggegee word, sou hy bly. “Ik nam mij toen volstrek voor om mij nooit onder Britsch gezag te onderwerpen,” skryf hy later. Met hierdie besluit het daar ’n nuwe periode in Pretorius se lewe aangebreek. Toe oorreding nutteloos blyk, het sir Harry Smith die Voortrekkerleier ’n proklamasie getoon waardeur hy die hele gebied deur die Emigrante bewoon, vir Engeland wou annekseer en dat die meeste Emigrante anneksasie begeer. Pretorius was so erg teleurgestel toe hy dit van sir Harry Smith verneem, dat hy hom voorgeneem het om hom op sy plaas aan die Magaliesberg terug te trek en daar stil te gaan woon. Die noodkrete van sy landgenote het hom egter byna onmiddellik weer na die Vrystaat laat terugkeer. By Boomplaats is vir die tweede maal die stryd met wapengeweld ten gunste van Engeland beslis, en as voëlvryverklaarde, met ’n prys van £2 000 op sy hoof, het Pretorius na sy plaas teruggekeer. Ondanks verskille met Andries Hendrik Potgieter, speel Pretorius weer eens ’n leidende rol om ’n sentrale regering noord van die Vaalrivier tot stand te bring. Na Boomplaats het ’n vasbeslote en onwrikbare Pretorius volgens ’n vaste plan te werk gegaan. Hy sou hom nou stap vir stap daarvoor ywer om die onafhanklikheid van die gebiede wat deur die Emigrante bewoon is, erken te kry. In sy strewe om die onafhanklikheid te verkry, is hy egter gedwarsboom deur die gebrek aan eenheid onder die Emigrante. Hy speel egter ’n leidende rol by die totstandkoming van die Verenigde Bond in Transvaal by Derdepoort in 1849. Kort voor die erkenning van die onafhanklikheid en selfs daarna was daar weer gebrek aan eensgesindheid. Deur sy takt en oorredingsvermoë het Pretorius daarin geslaag om dit alles te bowe te kom. Hy was ’n bekwame diplomaat en het geweet hoe om sy tyd af te wag. Toe omstandighede in Engeland sowel as in Suid-Afrika gunstig was vir sy doel, het hy daarvan gebruik gemaak, nieteenstaande teenstand in Transvaal, om die onafhanklikheid te verkry. Toe die Volksraad nie vergader om die nodige opdrag te gee nie, het hy dit van die krygsraad en van die publiek verkry. Eindelik was die Volksraad verplig om saam te werk in ’n saak wat hy nie kon verhoed nie, en hy moes maar die stappe wat Pretorius reeds gedoen het, goedkeur. Die Sandrivier-traktaat was die kroon op sy arbeid. Maar een ding het hom nog leed veroorsaak: sy landgenote wat in die Oranjerivier-Soewereiniteit gewoon het, het nog onder Britse bestuur gestaan en kon dus nie die vryheid van hul bure noord van die Vaalrivier deelagtig word nie. Die erkenning van hul onafhanklikheid het hy egter nie beleef nie, hoewel hy onteenseglik die weg daartoe voorberei het. Hy is op 23 Julie 1853 na ’n swaar lyding oorlede. In 1891 is sy stoflike oorskot in die Ou Kerkhof in Pretoria herbegrawe.

1820 – John Thomas Baines, kunsskilder en ontdekkingsreisiger († 8 Mei 1875)

Sy ouers was albei skilders en Thomas leer die sierskilderkuns in Engeland. In 1842 kom hy na die Kaap en word skilder van beroep. In 1851 versoek sir Henry Somerset hom om gebeurtenisse en plekke van die Agste Grensoorlog te skilder. Hy word dus die eerste amptelike oorlog-kunstenaar van Suid-Afrika. Baie van sy oorlogsketse is artisties en histories van belang. Op sy togte het hy talle olieverfskilderye gemaak. Hy illustreer ook publikasies van sy tyd en skryf selfs sy ondervindings op. Van 1853 tot 1855 gaan hy na Brittanje, daarna na Australië en in 1857 terug na Brittanje. In 1869 en 1872 onderneem hy twee ekspedisies na Matebeleland, waarvan sy dagboeke later gepubliseer is. In 1861-1862 beskryf en skets hy sy besoek aan die Victoria-waterval saam met Chapman. Met fyn waarneming van mense en plekke in die nog onbewoonde binneland toe die kamera nog nie ’n rol gespeel het nie, het Baines daartoe bygedra om ook die Afrikaner histories bewus te maak en ’n oog vir die natuurskoon te ontwikkel. Tientalle van sy sketse en skilderye word in Suid-Afrikaanse museums gehuisves. 

1887 – Dr. Colin Steyn, Suid-Afrikaanse regsgeleerde, kabinetsminister en laaste Vrystaatse Volksraadslid van die Verenigde Party († 23 April 1959)

Dr. Colin Steyn was ’n politikus, kabinetsminister en regsgeleerde.

1915 – Hendrik van Blerk, Afrikaanse skrywer en digter († 25 Desember 2010)

Hendrik van Blerk, ook wel oom Hendrik genoem, was ‘n Afrikaanse skrywer en digter. Sy eerste boek, Dit blom tussen bantoms, is in 1949 uitgegee. Hy het honderde romans, jeugverhale, kortverhale, asook feiteboeke oor die geskiedenis van die Afrikaner die lig laat sien. Hy het ook onder die skuilnaam Melt Froneman geskryf.

1935 – Dr. Berna Ackerman, skrywer en musiekdosent († 10 Augustus 2015)

Dr. Berna Ackerman was ’n Suid-Afrikaanse skrywer en musiekdosent. Sy het die ATKV-Prosaprys en M-Net-boekprys vir haar semi-outobiografiese boek, Liesbet Delport se oorlogboek, ontvang. Die boek handel oor haar as Bloemfonteinse kind ten tye van die Tweede Wêreldoorlog. Ackerman was jare lank ’n musiekonderwyser aan die Hoërskool Sentraal, Hoërskool Eunice, Hoër Meisieskool Oranje en die Bloemfonteinse Onderwyskollege. Daarna het sy tot haar aftrede in 1995 musiek aan die Universiteit van die Vrystaat doseer. Sy is op 10 Augustus 2015 weens lewerkanker oorlede.

 

Sterftes

1860 – Jacobus Groenendaal, politikus van Nederlandse herkoms (* 1 November 1805)

Jacobus Groenendaal is in Heerwaarden, Nederland, gebore. In 1849 kom hy op vry gevorderde leeftyd na Suid-Afrika en vestig hom as onderwyser in die distrik Fauresmith. Hy lewer goeie diens en help in 1854 om die Vrystaatse Grondwet op te stel. Hy word ook die eerste staatsekretaris, neem selfs as president waar en tree as tesourier-generaal op. In 1856 verplig swak gesondheid hom om al sy betrekkings neer te lê. In 1858 word hy weer Volksraadslid en probeer die Vrystaat eerder met Kaapland as met Transvaal laat federeer. Hy het die jong Vrystaatse Republiek na binne en buite sterk help grondves, buitelands opgeleide amptenare gewerf, om eie staatsimbole gepleit, die invloed van Nederlands en Nederlandse handel en Nederlandse immigrante bo ander elemente gesteun, want dan kon die Vrystaat vinniger ‘n eie Afrikaanse karakter ontwikkel. Groenendaal was een van talle immigrante wat die Afrikanerdom om sigselfs ontwil wou sien ontplooi en wat persoonlik daartoe meegewerk het. Hy is op 27 November 1860 op Fauresmith oorlede.

1899 – Frans Lion Cachet, broer van Jan Lion Cachet; leraar en skrywer (* 28 Januarie 1835)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/