26 MEI
January 10, 2017
28 MEI
January 10, 2017

Gebeure

1874 – Eerste trek na Damaraland

Toe Gert Alberts op die dag sy plaas naby Pretoria verlaat het, was dit die begin van die Dorslandtrek. Met dertien huisgesinne, hoofsaaklik uit die distrikte Pretoria en Rustenburg, is die volgende jaar die moeisame tog deur die Kalahariwoestyn na die Ngamimeer aangepak.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Vlakfontein, ZAR

1900 – Anglo-Boereoorlog: Lord Roberts steek die Vaalrivier oor en beset die dorp Vereeniging

1914 – Instelling van die Hertzogprys

Die ontstaan van die Hertzogprys kan teruggevoer word tot 1907 toe die Vrystaat verantwoordelike bestuur verkry het. Genl. JBM Hertzog, destydse Minister van Onderwys, het in 1908 ’n nuwe onderwyswet deur die Vrystaatse parlement aangeneem gekry wat dubbelmedium-onderwys verpligtend maak en hoër besoldiging aan volkome tweetalige onderwysers vasstel. Verset breek onder ’n aantal eentalige Engelse onderwysers en Engelse ouers uit. Drie inspekteurs word afgedank weens moedswillige pogings om die wet te verongeluk. Na aanleiding van sekere woorde wat genl. Hertzog sou gebruik het, word ’n laseraksie deur een van die inspekteurs, ene Fraser, teen die Minister ingestel. Fraser wen die saak, en genl. Hertzog moet £25 (R50) skadevergoeding en die hofonkoste betaal. Die openbare gevoel ten gunste van genl. Hertzog was so sterk dat ’n insameling om sy hofonkoste te bestry, ’n saldo van £1 200 (R2 400) gelaat het. Hierdie bedrag is aan die Akademie geskenk om die beste letterkundige werk in Afrikaans te bekroon. Die skenkingsakte van 27 Mei 1914 het onder meer bepaal dat “alleen werk van die eerste rang zal beloond worden”. Die eerste toekenning is in 1915 aan Totius gedoen vir Trekkerswee. Met instemming van die skenker, het alle letterkundige werk vanaf 1923 vanselfsprekend in aanmerking gekom. In 1928 is die rotasiestelsel ingestel, en die drie genres kom om die drie jaar aan die beurt, beginnende by poësie, dan drama en daarna prosa. 

 

Geboortes

1906 – Prof. Abel Coetzee, professor in Afrikaanse Taal- en Volkskunde, asook skrywer en digter († 19 Junie 1975)

Abel Jacobus Coetzee is gebore op ’n plaas in die distrik Lichtenburg. Na sy studiejare aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Universiteit van Nijmegen was hy hoogleraar in Afrikaanse Taal- en Volkskunde aan die Universiteit van die Witwatersrand (1947–1966). As volks-, taal- en letterkundige, het hy ’n groot bydrae gelewer op kultuurgebied. Hy het die Afrikaanse volkskunde stewig op akademiese grondslag gevestig en uitgebou. Hy was dertig jaar voorsitter van die Genootskap vir Afrikaanse Volkskunde en redakteur van die Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal (1943–1973). Hy was ook ’n stigterslid van Die Afrikaanse Skrywerskring (1934) en later redakteur van Die Handhawer. Hy het hom beywer vir die Afrikanerstrewe aan die Rand. Sy veelsydigheid as student, navorser, leermeester en skeppende kunstenaar het hom onderskei as ’n merkwaardige persoon in ons volkslewe. Hy is oorlede op 19 Junie 1975. 

1928 – Prof. Johan Heyns, teoloog en moderator van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk († 5 November 1994)

Johan Heyns was ’n invloedryke Afrikaner Calvinistiese teoloog en moderator van die algemene sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK). Hy is vermoor by sy huis in Waterkloofrif, Pretoria. Alhoewel sy moord nooit amptelike opgelos is nie, word dit algemeen aanvaar dat dit direk verwant was tot sy kritiek ten opsigte van apartheid. Nelson Mandela het aan hom hulde gebring as ’n martelaar vir sy land en ’n kryger vir vrede.

 

Sterftes

1564 – Johannes Calvyn, Franse godsdienshervormer (* 10 Julie 1509)

Johannes Calvyn is in Noyon, Frankryk, gebore. Hy studeer van 1525 in die teologie in Parys, maar word in 1528 ’n student in die regte in Orleans en later in Bourges, waar hy onder die invloed van die Protestantisme en Franse humanisme kom. In 1533, beïnvloed deur die lees van werke deur Luther, word hy ’n Protestant. Hy beskou dit as sy roeping om die kerk na die suiwer Bybelse model te hervorm. Weens vervolging vanweë sy godsdienstige oortuigings, vlug hy in 1535 na Basel. In 1536 verskyn die eerste uitgawe van sy groot leerboek, Institusie, wat vandag nog as handboek in die dogmatiek in Suid-Afrika gebruik word. Tot met sy dood op 27 Mei 1564 in Genòve skryf Calvyn sy beroemde kommentare oor byna al die Bybelboeke. Van 1555 is Calvyn die onbetwiste leier in Genòve. In 1559 verskyn die laaste uitgawe van sy Institusie. Hy stig die beroemde Akademie van Genòve, waar heelparty teoloë en kerkleiers hul opleiding ontvang. Daardeur, maar ook deur sy publikasies en talle briewe aan leiers in talle lande, oefen dié groot teoloog, kerkleier en opvoedkundige wêreldwyd invloed uit. Sy invloed as teoloog (ook deur sy leerlinge) is sigbaar in die drie Afrikaanse susterkerke se drie belydenisskrifte (die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls). Dit is ook sigbaar in hul stelsels van kerkregering, op die manier waarop die erediens ingerig word, die patroon en melodieë van die kerksang, die vorm en inhoud van die preke, en op die gebede en formuliere.

1946 – Daniel Ferdinand (Danie) Bosman, komponis van ligte Afrikaanse musiek (* 7 Februarie 1907)

Daniël Ferdinand Bosman was komponis van sommige van die bekendste Afrikaanse liedjies. Hy was ’n ouditeur in die Staatsdiens en goed bevriend met Anton de Waal, wat later vir die publikasie van die meeste van sy liedere gesorg het. Danie Bosman was ’n baanbreker wat vir die Afrikaner ’n vastrapplek in die wêreld van ligte musiek gegee het. Sy besondere gawe vir mooi melodieë het daarvoor gesorg dat sy liedere steeds hulle gewildheid behou. ’n Rolprent is oor sy lewe gemaak. Die FAK het die premiere van die rolprent oor sy lewe aangebied. Hy is op 27 Mei 1946 in Muizenberg, Kaap, oorlede.

1999 – Zack de Beer, politikus (* 11 Oktober 1928)

Zach de Beer was leier van die Progressiewe Federale Party en Demokratiese Party.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/