26 MAART
November 1, 2016
28 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1803 – Die Kaapkolonie aan die Bataafse Republiek oorhandig

1881 – Eerste Vryheidsoorlog: Slag van Majuba

1900 – Anglo-Boereoorlog

Schalk Burger aangestel as kommandant-generaal van die Boeremagte en vise-president van die ZAR.

1976 – Suid-Afrika onttrek militêre magte uit Angola

1976 – Amptelike stigtingsdag van die beroemde 32 Bataljon van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW)

1985 – Die Westdenedam-ramp vind in Johannesburg plaas

Suid-Afrika het verslae gestaan op die aand van 27 Maart 1985, nadat 42 leerlinge van die Hoërskool Vorentoe in Johannesburg in die Westdene-dam verdrink het. Die bus waarmee hulle huis toe gery het ná skool, het in die dam gestort. Daar was 77 leerlinge in die bus. Van die kinders wat die ramp oorleef het, het vertel dat daar algehele chaos was toe die ongeluk gebeur het. Die dubbeldekker bus het die relings van die brug getref en die dam ingejaag. Die bus het ongeveer 10 m van die wal af gesink en in die modder weggesak. Van die seuns wat lewend uitgekom het, het paniekbevange in die verkeerde rigting begin swem en ook verdrink. Duikspanne van die polisie en lede van die ambulansdiens se paramediese spanne was binne minute op die toneel. ’n Boot is later gebruik om die duikers by te staan en te help. Die reddingspanne kon nog ’n hele paar kinders na veiligheid bring. Tientalle ambulanse, noodvoertuie en helikopters was ook gou op die toneel en die reddingspanne het verbete gesukkel om die vasgekeerde kinders uit te haal. Omstanders het met afgryse toegekyk hoe die een lyk na die ander na die oppervlak gebring word. Hartroerende tonele het hulle afgespeel toe van die oorlewendes na broers en susters begin soek het. Die namiddag moes bedroefde ouers hulle kinders by die Hillbrow-lykhuis gaan uitken. Die hele Suid-Afrika het sy meelewing getoon deur oorweldigend te reageer op versoeke om bydraes tot ’n begrafnisfonds. Die meeste van die slagoffers is op Maandag 1 April tydens ’n massabegrafnis ter ruste gelê.

 

Geboortes

1960 – Johannes Kerkorrel, joernalis en musikant († 12 November 2002)

 

Sterftes

1894 – HWA Cooper,  ’n Suid-Afrikaanse regsgeleerde wat onder die skuilnaam Samuel Zwaartman onbedoeld baanbrekerswerk vir die gebruik van Afrikaans as skryftaal lewer (* 1842)

Henry William Alexander Cooper is in 1842 in Rondebosch gebore as seun van Engelse immigrante. Hy gaan in Kaapstad skool en gee later onderwys op Plettenbergbaai, Knysna en Oudtshoorn. In 1866 vestig hy hom as wetsagent op Fraserburg, waarvandaan hy tussen 13 Januarie 1870 en 26 Mei 1873 in Afrikaans 25 Boerenbrieven uit Fraserburg aan Het Volksblad skrywe onder die skuilnaam Samuel Zwaartman. Hierdie briewe het op informele, geselsende en vrolike wyse die skindernuus uit Fraserburg bekend gemaak. Met sy Boerenbrieven het Cooper ’n onbewuste baanbreker vir die Afrikaanse taal geword. In 1871 verskyn sy Kaapsche Schetsen ook in Het Volksblad in Afrikaans. Ook daarmee bewys hy onbewys aan die Afrikaner dat sy spreektaal ook skryftaal en joernalistiektaal kan word. In 1873 word Cooper prokureur in die ZAR, en in 1874 gaan hy na Lydenburg as landdros op die goudvelde. Na die anneksasie van Transvaal in 1877 word Cooper advokaat in Pretoria, waar hy later as lid van die firma Cooper en Scholtz ’n bydrae tot die maatskappyreg lewer. In opdrag van die Transvaalse regering is hy ten behoewe van die NZASM-spoorlyn na Londen en Lissabon, waar hy in 1894 oorlede is. 

1900 – Genl. Piet Joubert, Boerekryger en kommandant-generaal (* 1831)

1934 – Francis William (FW) Reitz, vyfde president van die Vrystaat (* 5 Oktober 1844)

Dit was hierdie talentvolle Swellendammer, op hierdie dag gebore, beskore om sy volk in ’n groter verskeidenheid van hoë ampte in die openbare lewe te dien as enige ander Suid-Afrikaner: regsgeleerde in die Kaapkolonie in 1868–1874; eerste hoofregter in 1874–1888; en vyfde Staatspresident in 1889–1895 van die OVS Republiek; regter en staatsekretaris van die ZAR in 1998–1902, en President van die eerste Senaat in 1910–1920 na die Uniewording. Ook as kultuurleier het hy onskatbare dienste gelewer. Reeds in 1870 begin hy met “Kaapsch-Hollandsch” eksperimenteer en lewer hy sy eerste bydraes in ’n taal wat tydens sy eie lewe tot volkstaal sou ontwikkel. In 1888 verskyn sy Twee en Sestig uitgesogte Afrikaanse gedigte wat sterk weerklank by die volk gevind het as gevolg van die gemoedelike volkshumor wat daarin weergegee word. Hy was ’n dinamiese ondersteuner van die Afrikanerbond – toe nog ’n suiwer volksorganisasie – wat heftig gekritiseer is deur Engelsgesindes weens die vrees van die potensiële krag daarvan in Afrikanergeledere. Oortuig van die suiwerheid van sy politieke en kulturele beginsels, het hy alle opposisie getrotseer en ’n voorwaartse republikeinse beleid gevolg. Hy was in murg en been ’n demokraat, het die groot Suid-Afrikaanse vraagstukke met idealisme aangepak en was onvermoeid in sy pogings om nouer samewerking tussen die Suid-Afrikaanse state te verkry. Met die ontberings van die Anglo-Boereoorlog was Reitz se moed, geloof en blymoedigheid ’n inspirasie vir sy volk, en sy oorlogsversies is wyd en syd gelees. In die Senaat het hy rondborstig erken dat hy in murg en bloed ’n republikein is. Hierdie openhartige standpunt, wat lynreg teenoor die beleidsrigting van die Smuts-regering gestaan het, het daartoe gelei dat hy nie weer in 1920 tot President van die Senaat verkies is nie. Tot aan die einde van sy lewe is hy met die hoogste agting en liefde deur sy volk bejeën. Hy is op 27 Maart 1934 in Kaapstad oorlede.

1958 – Philippus Jacobus Olivier, staatsman en goewerneur van Kaapland (* 11 Januarie 1911)

1983 – Arnold Arnold Christiaan Vlok van Wyk, komponis (* 26 April 1916)

Arnold van Wyk was ’n kunsmusiek-komponis. Hy was een van die eerste noemenswaardige komponiste van die genre, saam met Hubert du Plessis en Stefans Grové.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/