26 AUGUSTUS
August 26, 2015
28 AUGUSTUS
August 28, 2015

Gebeure

1818 – Cradock in die Oos-Kaap gestig

1855 – Pres. JN Boshoff ingehuldig

In ’n eenvoudige inhuldiging voor die Vrystaatse Volksraad het Jacobus Nicolaas Boshof – tweede president van die Oranje-Vrystaat – beloof om die republikeinse grondwet te eerbiedig en die onafhanklikheid van die staat te beskerm.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Die Slag van Bergendal

1933 – Die eerste volledige Bybel in Afrikaans in gebruik geneem

Die vertaling van die Bybel in Afrikaans lê ten grondslag van die Eerste en die Tweede Taalbeweging van ongeveer 1872 en 1902. Al die ander bedrywighede van die lede van die Genootskap van Regte Afrikaners van 1875 en daarna het eweneens die Bybel in Afrikaans as motief en beginsel ondersteun. In 1884 het ds. SJ du Toit formeel met die vertaling begin. In 1912 het ds. WJ Conradie se Kinderbybel die lig gesien. ’n Proefuitgawe van die Evangelies en die Psalms het in 1920 verskyn.

In 1923 het ’n groep van die eindvertalers die taak grootliks heeltyds aangepak – drr. JD du Toit (Totius), JD Kestell en HCM Fourie. Hulle proefuitgawe is in 1929 met geesdrif ontvang. En toe, in 1933, het die Bybel volledig in Afrikaans verskyn. Die eerste besending van 10 000 Bybels is in Mei 1933 in Kaapstad afgelaai. Intussen het verdere besendings van 10 000 Bybels elk aangekom. In elke gemeente is feesgevier. Die Bybel was in ons eie taal, in Afrikaans, beskikbaar!

Op ’n sentrale byeenkoms in Bloemfontein het 5 000 mense in die Marksaal vergader. Elders het ’n soortgelyke getal kinders en jong mense byeengekom. Die ontvangs was veral geseënd omdat die Bybel in ’n tyd van politieke onbestendigheid, ekonomiese agteruitgang en ’n teisterende droogte verskyn het. Die Afrikaner het later deeglik besef dat God in sy genade op die regte tydstip die Woord in Afrikaans besorg het toe alle ander aardse sekerhede rondom die Afrikaner begin tuimel het. Geen wonder nie dat 150 000 eksemplare in 1933 alleen versprei is.

1962 – Die Johannesburgse Stadskouburg geopen met opera in Afrikaans

Sedert die Stadsraad van Johannesburg in 1929 gemoeid geraak het met die aanbied van operas – Faust van Gounod was die eerste – het die belangstelling van die gemeenskap met elke jaarlikse seisoen toegeneem. Toe daar besluit is om die Burgersentrum in Braamfontein te bou, is daar ook wyslik besluit om ’n kompleks vir uitvoerende kunste as deel van daardie sentrum op te rig. Die Stadskouburg is die eerste deel van ’n drieledige kompleks. ’n Konsertsaal en ’n dramateater moet bygevoeg word. Deur die jare heen het die Afrikaner se belangstelling in die stad Johannesburg se aksie uitvoerende kunste toegeneem. Daarom was die amptelike ingebruikneming van die Stadskouburg (1 120 sitplekke) op 27 Augustus 1962 vir die Afrikaner ’n belangrike mylpaal in die merkwaardige kulturele aktiwiteit van ’n stad wat in daardie stadium ’n bietjie meer as ’n driekwart eeu gelede ’n stowwerige rumoerige mynkamp was. Afrikaans en die Afrikaner het ’n integrerende deel van die inwydingsfees uitgemaak. Mnr. Eben Cuyler, ’n Johannesburger, was een van die stadsvaders wat hom beywer het vir die bou van ’n stadskouburg. Die eerste aanbieding was die opera Die Verhale van Hoffman deur Jacques Offenbach, wat in Afrikaans opgevoer is. Die Stadsvaders het ’n jong Johannesburgse Afrikaner, mnr. Michal Grobbelaar, as direkteur van die Stadskouburg aangestel – die eerste teater in sy soort in Suid-Afrika wat geheel en al op ’n beroepsgrondslag beheer en bestuur word. Toe die voorgordyn vir die eerste keer opgetrek is op 28 Augustus 1962, was dit in teenwoordigheid van die Republiek se eerste Staatspresident adv. CR Swart, en sy gade, en die Eerste Minister, dr. HF Verwoerd, en mev. Verwoerd. Die dirigent vir die opvoering was ook ’n Johannesburgse Afrikaner, dr. Anton Hartman. Ons land se voorste sopraan, Mimi Coertse, is van die Staatsopera in Wenen, Oostenryk, gebring om die hoofrol te sing. Die manlike hoofrolle is deur Gé Korsten en Hans van Heerden vertolk. Die Johannesburgse Afrikaanse Toneelkomitee, onder voorsitterskap van mnr. Siegfried Kuschke, was verantwoordelik vir die Afrikaanse drama-aanbieding van die inwydingsfees, Die Besoek van die Ou Dame deur Durrenmatt, wat deur Bartho Smit vertaal is. Anna Neethling-Pohl en dr. Jan Schutte het die hoofrolle vertolk. Die heer Fred Engelen het die spelleiding gedoen, terwyl Kobus Esterhuysen vir ’n baie verbeeldingryke dekor-stel gesorg het.

1966 – Die Transvaalse Koorraad gestig

Hierdie liggaam het sy ontstaan in die eerste plek te danke aan die suksesvolle optrede van die Republiekfeeskoor in 1966 by die Sentrale Fees by die Voortrekkermonument. Die geesdrif van die persone wat deelgeneem het, het diegene wat die leiding op hulle geneem het, laat besef dat die geleentheid nog nie verby is om ons volk tot ’n singende volk te inspireer nie. Die Koorraad het dus opgetree as ’n koördinerende liggaam vir die verskillende kore en aanverwante verenigings en het daadwerklik bygedra tot die bevordering van sang in die algemeen deur die reël van plaaslike koorfeeste en ook koorfeeste op provinsiale of streeksbasis.

1969 – Dr. Christiaan Barnard plant die eerste keer kunsmatige slagare suksesvol oor

 

Geboortes

1878 – Jopie Fourie, ’n Boerekryger in die ABO en tereggestelde rebelleleier († 20 Desember 1914)

Gebore op 27 Augustus 1878 op die familieplaas Wildebeesthoek, distrik Pretoria, het Joseph Johannes (Jopie) Fourie, nadat hy in verskeie skole in Pretoria was, aan die Grey-kollege, Bloemfontein, studeer. Hy onderbreek sy studie om aan die gevangeneming van Jameson by Doornkop deel te neem en studeer daarna by die Victoria-kollege op Stellenbosch, om uiteindelik tot die kantoor van die Ouditeur-generaal van die ZAR toe te tree. In die Anglo-Boereoorlog onderskei hy hom as ’n bekwame rapportryer en onverskrokke vegter. Nooit het hy teruggedeins om die gevaarlikste take te onderneem nie. Hy word sodanig verwond dat hy aan die een kant van sy hoof sy sig en gehoor verloor. Ná die oorlog lê hy hom toe op die boerdery op die familieplaas en is hy ’n troue ondersteuner van genl. Botha en sy Het Volk Party. Genl. Beyers wou hom oorhaal om by die pas gestigte Unie-Verdedigingsmag in 1912 aan te sluit maar dit loop slegs uit op ’n kapteinskap in die Burgermag. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het hy bedenkinge oor Botha se besluit om Duits-Suidwes-Afrika aan te val maar sy aktiewe inskakeling by die protesterendes word veroorsaak deur die optr20ede van Engelssprekende gepeupel op die Krugerdagverrigtinge in Pretoria, waarby genl. Beyers verhinder is om as spreker op te tree.

Teen die einde van Oktober 1914 bevind hy hom gewapend in die veld onder bevel van genl. JJ Pienaar. Ná verskeie skermutselinge waarin die regeringstroepe swaar verliese ly, is hy op 16 Desember saam met sy jonger broer en verskeie ander by Nooitgedacht in die Rustenburg-distrik, deur ’n oormag gevange geneem. Klaarblyklik om van hulle ’n voorbeeld te maak, is ’n krygsraad op ’n oorhaastige wyse saamgestel en is Jopie en sy broer van hoogverraad aangekla omdat hulle nie as lede van die Burgermag bedank het voordat hulle die wapens opgeneem het nie. Sy broer Hannes is tot vyf jaar harde-arbeid gevonnis, terwyl Jopie die doodvonnis opgelê is. Pogings van dr. DF Malan, ds. CA Neethling en ander om genl. JC Smuts, Minister van Verdediging, op te spoor om Jopie se vonnis te versag, het misluk aangesien Smuts sy beste gedoen het om onbereikbaar te bly – vandaar die bewys van sy betrokkenheid by hierdie vonnis.

Vroeg die Sondagoggend van 20 Desember 1914 is Jopie deur ’n vuurpeleton gefusilleer. Hartroerende briewe wat kort voor sy dood in die tronk geskryf is, onder meer aan sy volk, eggenote, advokaat, prokureur en aan genl. Louis Botha, is mettertyd by honderdtalle afgeskryf en onder Afrikaners versprei. Die oorhaastige verhoor en voltrekking van sy vonnis sou die Afrikanervolk diep skok, en die verontwaardiging teen dié optrede sou tot die snelle opbloei van die Nasionale Party lei. Dekades lank sou dit heeltemal tereg teen genl. Smuts se hoof geslinger word dat hy vir die dood van Jopie verantwoordelik gehou moet word. Jopie se oorskot is verskeie kere herbegrawe maar tans rus dit in die Ou Kerkhof in Pretoria. Op sy grafsteen pryk die woorde: “Getrou tot die dood. Geoffer vir Volk en Vaderland.”

1893 – Genl. Daniël Hermanus (Dan) Pienaar, militêre bevelvoerder († 19 Desember 1942)

1924 – Ds. Vidius Nel, predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk († 31 Maart 2007)

 

Sterftes

1919 – Louis Botha, Boeregeneraal en eerste minister van die Unie van Suid-Afrika (* 27 September 1862)

Louis Botha, een van 13 kinders wat na sy geboorte op hierdie dag, op die plaas Hartebeesvlakte naby Greytown in Natal gewoon het, het slegs 57 jaar oud geword. Treffend in voorkoms, met sy donker hare en potblou oë, was hy ’n vooruitstrewende boer, ywerige politikus, een van ons grootste generaals, staatsman en volksleier. As jong man het Botha in die Transvaalse politieke lewe betrokke geraak en in Pretoria, asook op sy spogplaas Waterval naby Vryheid, gewoon. Hy het gedurig sy kennis van boerdery aangevul en sou ’n baie welgestelde man word. In die Volksraad van die ZAR was hy ondersteuner van genl. Piet Joubert. Dié ou man was baie lief vir die skrander Louis en dit was Joubert se begeerte dat Botha hom na die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sou opvolg as kommandant-generaal van Transvaal, iets wat toe ook so gebeur het. Voordat dit egter geskied het, was hy ’n veldkornet, ’n vrederegter, en het hy ’n rol gespeel in die Nuwe Republiek wat later by Transvaal ingelyf is. Hy het ook die getroue vriendskap van die invloedryke Lucas Meyer gewen, hy was kontrakteur, maar bowenal aktiewe Volksraadslid, boer en krygsman. Natal was sy wêreld, en die Natallers het nog lank na sy dood sy nagedagtenis vereer. Teen 1900 was genl. Louis Botha een van die beroemdste mense in die wêreld, die held van Colenso en Spioenkop. Hy was ’n natuurlike strateeg, maar het ook heelwat van sy vriend genl. De la Rey geleer. Met pres. Kruger se vertrek na Europa was Botha die wesenlike leier van Transvaal, een van ’n luisterryke driemanskap saam met genls. De la Rey en De Wet. Dit was ook hulle wat saam Europa toe gegaan het om geld in te samel vir hul geteisterde volk.

Sy eerste politieke party het dan ook Het Volk geheet. Botha was instrumenteel saam met Jan Smuts, om selfregering vir Transvaal en die Vrystaat te verkry, en Botha het outomaties Eerste Minister van Transvaal geword. Hy, Smuts en ander lede het toe begin werk vir die federasie of unifikasie van die kolonies en protektorate wat Suid-Afrika uitgemaak het. In 1910 het ’n Unie tot stand gekom en genl. Louis Botha is, tot wêreldwye verbasing, verkies tot Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika – ‘n Boer! Baie het gewonder waarom daar ooit oorlog was. Botha was dus die eerste premier wat in Cecil Rhodes se herehuis, Groote Schuur ingetrek het. Botha se politieke party het destyds die Suid-Afrikaanse Party geheet. Hy en Smuts het geglo aan ’n beleid wat as konsiliasie tussen die volksgroepe geformuleer is. Hulle geneentheid jeens Engeland het egter geleidelik baie van hul mense begin vervreem en in genls. Hertzog en De Wet sou hul gedugte teenstanders kry. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het Botha en sy party besluit om Brittanje by te staan en Duitswes-Afrika en Oos-Afrika, beide Duitse kolonies, te verower. Hierdie besluit onder Smuts was Botha se grootste oordeelsfout en die gevolg was ’n tragiese Rebellie. Botha het Duitswes sonder moeite verower, maar sy gesondheid was aan die versleg en hy het tydelik op die agtergrond getree. Nadat hy die Vredeskonferensie in Europa bygewoon en na Suid-Afrika teruggekeer het, het Botha sy politieke bedrywighede hervat, net om skielik op 27 Augustus 1919 op Standerton te sterf. Die hele volk, selfs sy vyande, was geskok, en geleidelik het een na die ander standbeeld van hierdie man verrys. Te midde van sy oordeelsfout om saam met genl. Smuts en Brittanje teen Duitsland te veg, het hy ’n sleutelfiguur in ons wordingsgeskiedenis geword.

1948 – Jozua Francois Naudé, onderwyser en predikant (* 20 Maart 1873)

Jozua Francois Naudé is in Middelburg, Kaap, gebore. Na sy opleiding as onderwyser in Kaapstad, gee hy onderwys aan die Goeie Hoopskool in Germiston. Gedurende die Anglo-Boereoorlog is hy veldprediker, veral by genl. Beyers, op wie hy ’n sterk invloed uitoefen. Sy oorlogservarings en belangrike foto’s publiseer hy daarna in sy boek Vechten en Vluchten. Na die oorlog word hy predikant van die NG Kerk en staan in die volgende gemeentes: Roodepoort, Piet Retief en Graaff-Reinet. As skriba van die Transvaalse Sinode, skryf hy die eerste notule in Afrikaans. Hy was ook lid van die Kommissie vir die Afrikaanse Bybelvertaling en het hom van harte aan die bevordering van Afrikaans gewy. As onvermoeide kampvegter vir moedertaalonderwys, het hy in 1918 ’n reuse-aandeel in die stigting van die eerste Afrikaanse laerskool in Transvaal, op Roodepoort, wat vandag sy naam dra, en op Graaff-Reinet het hy die eerste Afrikaansmediumskool in Kaapland, nl. Die Hoër Volkskool (Junie 1920) gestig. Hy was ook die eerste predikant wat Afrikaans van die Kansel in Graaff-Reinet se kerk gebruik het. As kerkman, volksman en onderwysman, was hy ’n baanbreker. Hy is op 27 Augustus 1948 op Graaff-Reinet oorlede.

1997 – Nicolaas Georg (Klaas) Steytler, skrywer en voormalige redakteur van Die Huisgenoot (* 20 April 1922)

Klaas Steytler was ’n skrywer, wat veral misdaad- en speurverhale geskryf het. Hy debuteer onder die naam NG Steytler, maar verskeie van sy werke verskyn onder die skuilnaam Jan Harmse.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/