26 APRIL
November 1, 2016
28 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1902 – Anglo-Boereoorlog: FH Bosch kom te sterwe

Burger FH Bosch was ’n sestienjarige (penkop) krygsgevangene op Bermuda gedurende die oorlog. Hy probeer op hierdie dag om te ontvlug. Hy word egter tydens die poging noodlottig gewond en kom kort daarna te sterwe.

1950 – Apartheid

In Suid-Afrika word die Wet op Groepsgebiede goedgekeur en rasse word formeel geskei.

1994 – Vryheidsdag ingestel

Vryheidsdag ingestel na afloop van die eerste Suid-Afrikaanse demokratiese verkiesing op hierdie dag. Nelson Mandela, verkies tot president onder ANC leierskap, volg FW de Klerk onder NP leierskap op.

 

Geboortes

1885 – Karl Bremer, eertydse Suid-Afrikaanse minister van gesondheid († 18  Julie 1953)

Karl Bremer is op Hopefield gebore en was ’n leidende medikus en politikus. Van 1951 tot 1954 was hy Minister van Gesondheid in die kabinet van dr. DF Malan. Hy het hom beywer vir die verryking van basiese voedsel soos brood, wat die sogenaamde “Bremerbrode” tot gevolg gehad het. Hy sterf in Kaapstad op 18 Julie 1953. Die Karl Bremer-hospitaal in Bellville is na hom genoem. 

1897 – Chris Blignaut, ’n legendariese Afrikaanse sanger, musikant, komponis en liriekskrywer († 21 Julie 1974)

Met sy voordrag van ligte, humoristies Afrikaanse liedjies, wat hy self op die ukelele begelei het, het Chris August Blignaut groot populariteit geniet en die hele land in die twintiger-dertigerjare deurreis. Die plate wat hy gemaak het, het groot aftrek gekry en ’n groot rol gespeel om die Afrikaner se sanglus aan te wakker en hom aan te spoor om in sy eie taal te sing. Hy is op 21 Julie 1974 oorlede. Die humoristiese en platvloerse het dikwels vir Afrikaans ’n deurbraak op nuwe terreine gemaak, omdat Nederlands aanvanklik gereserveer was vir die ernstiger, dieper dinge. In ’n tyd toe populêre sang gedreig het om heeltemal te verengels en die Afrikaner gekondisioneer is om sy eie taal te verag, het Chris Blignaut se vrolike en selfversekerde sang die volk aangegryp en die besef laat posvat dat dit lekker is om in Afrikaans te sing. 

1902 – Dr. Hendrik Johannes van Eck, ’n Suid-Afrikaanse ingenieur en nyweraar († 19 Februarie 1970)

Hendrik Johannes van Eck wat met reg beskou kan word as die vader van die Nywerheidswese in Suid-Afrika, is op Kimberley gebore. Onder sy besielende en geïnspireerde leiding, veral as voorsitter van die NOK, is positiewe gestalte verleen aan die Suid-Afrikaanse Nywerheidswese. Hy is op 19 Februarie 1970 oorlede. 

1932 – Roelof Frederik (Pik) Botha, voormalige minister van buitelandse sake († 12 Oktober 2018)

Pik Botha was van 27 April 1977 tot 10 Mei 1994 die land se Minister van Buitelandse Sake en het die taak gehad om Suid-Afrika se binnelandse beleid van apartheid te probeer verdedig in internasionale forums. Met ’n dienstyd van 17 jaar was hy ook een van die wêreld se langsdienende minister van buitelandse sake.

 

Sterftes

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/