24 OKTOBER
October 23, 2015
27 OKTOBER
October 27, 2015

Gebeure

1706 – Die Here XVII besluit om geen verdere immigrasie na die Kaap te steun nie

Teen 1700 het daar na vyftig jaar sedert die volksplanting slegs ongeveer 1 600 blankes aan die Kaap gewoon. Nogtans het die Here XVII op hierdie dag in 1706 besluit om amptelik geen verdere immigrasie na die Kaap te steun nie. Dit was ’n ernstige fout want die Afrikaner-aanwas is daardeur drasties beperk. Met hierdie beleid is boonop tot 1820 volhard toe Britse immigrante deur Engeland op groot skaal ingevoer is. In 1800 was daar 30 000 blankes aan die Kaap. Boonop was hulle oor ’n ontsaglik groot gebied versprei, sodat ekonomiese, kulturele en opvoedkundige probleme diep ingegryp het, juis ook omdat die VOC ’n vrotsugtige en selfsugtige ekonomiese beleid gevolg het. Die Afrikanerpioniers het hulle nogtans gehandhaaf, hoofsaaklik omdat hulle as gesinne die binneland ingetrek het, baie kinders verwek het, vroeg getrou en nie geskei het nie en na afsterwe van ’n lewensmaat spoedig hertrou het. Afrikanergetalle was egter deurgaans te klein, en dit het die omvangryker ontplooiing wat in ons land moontlik was, bly strem. Tegelyk het dit ons aanspraak en beheerkrag na binne en buite tot in die huidige tydsgewrig beperk. Die belangrikste rede byvoorbeeld waarom in Mei 1902 tot vrede ingestem is, was die vrees dat die volk fisiek uitgeroei sou word. Die Konsentrasiekampe het dan ook ’n knak in ons natuurlike aanwas meegebring. In 1936 was daar 1 120 000 Afrikaners in ons land. Met Republiekwording in 1961 was daar ongeveer 1 790 000 Afrikaners. Dit was 58% van die totale blanke bevolking.

1871 – Keate-uitspraak

Die Keate-uitspraak waarin die Kimberley-diamantvelde aan die Kaapprovinsie toegeken word.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Beleg van Koffiefontein, wat tot 3 November 1900 sou duur

1926 – Emily Hobhouse se oorblyfsels word aan die voet van die Vrouemonument ter ruste gelê

1927 – Vlagskikking aangekondig

Suid-Afrika het sy Nasionale Vlag op 31 Mei 1928 amptelik in gebruik geneem nadat die Nasionale Party van genl. JBM Hertzog en die Opposisie onder leiding van genl. JC Smuts ’n skikking bereik het. Genl. Hertzog het dit op 26 Oktober 1927 in die Volksraad aangekondig waarna die Vlagwet deur die Unie-Parlement aanvaar is. Met ’n seremoniële hysing by die Parlementsgebou in Kaapstad en hysingsplegtighede die hele land oor, het Suid-Afrika sigbaar sy verskyning onder die vrye volke van die wêreld gemaak. Hoewel daar reeds sedert 1910 met die Unie-wording by geleentheid na ’n eie vlag verwys is, is met die eerste daadwerklike amptelike stappe daartoe eers in 1926 begin, toe dr. DF Malan onder meer verklaar het: “’n Vlag is ’n sinnebeeld van volksbestaan. Vir ’n vlag kan ’n volk leef en kan hy veg en sterf.” Dit sou egter ruim twee jaar duur – twee jaar van stryd om eensgesindheid te verkry – voordat die Nasionale Vlag sy verskyning kon maak. Verskeie ontwerpe vir ’n vlag is voorgestel en eindelik is ooreenstemming bereik oor die “Van Riebeeckvlag” – oranje, wit en blou – met die vlagskild van die Britse Union Jack, die Vrystaatse Vlag en die Transvaalse Vierkleur op die wit baan in die middel. Die Britse Vlag moes nog saam met die Suid-Afrikaanse Vlag by amptelike geleenthede gebruik word as teken van die Unie se Statebondsverbintenis; dit was tot in 1957 toe die Unievlag in die Parlement onder bewind van adv. JG Strijdom aanvaar is as die enigste landsvlag van Suid-Afrika – die vlag wat ook in 1961 onveranderd as die Republiekvlag behou is.

 

Geboortes

1911 – Hester Heese, skrywer († 24 Mei 1992)

Hester Heese was ’n bekroonde Afrikaanse skrywer van kinder- en jeuglektuur.

1918 – Dr. Anton Carlisle Hartman, musikus en dirigent († 3 Februarie 1982)

Prof. Anton Carlisle Hartman was ’n dirigent, uitsaaipersoonlikheid, musiekadministrateur en die laaste nagenoeg vier jaar van sy lewe hoogleraar in musiek aan die Universiteit van die Witwatersrand.

1935 – Wilhelm Knobel, digter en skrywer († 4 Januarie 1974)

Wilhelm Knobel was ’n Afrikaanse digter en skrywer. Hoewel hy hoofsaaklik bekendheid verwerf het vir sy digkuns, skryf hy onder meer ook prosa, ’n kinderboek en doen hy ook vertaalwerk.

1939 – Karel Schoeman, skrywer († 1 Mei 2017)

Karel Schoeman was ’n Afrikaanse skrywer. In 1956 het hy sy matriekeksamen aan die Hoër Jongenskool in die Paarl geslaag. Schoeman het taalkunde aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat gestudeer en in 1959 ’n BA-graad behaal.

 

Sterftes

1969 – Jeremy Schulman, violis en SAUK-orkesdirigent (* 11 Februarie 1896)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/