25 NOVEMBER
November 25, 2015
27 NOVEMBER
November 26, 2015

Gebeure

1862 – Kaapse Hooggeregshof beslis dat Kaapse NG Kerk slegs uit gemeentes binne Kaapland geleë, saamgestel mag wees

Op hierdie dag is deur die Kaapse hooggeregshof beslis dat die Kaapse NG Kerk slegs uit gemeentes binne Kaapland geleë, saamgestel moet wees en dat al die ander gemeentes wat tot dusver in die Sinode sitting gehad het, voortaan nie meer daardie reg sou geniet nie. Vir ouderling Hugo Hendrik Loedolff van Malmesbury, was dit ’n persoonlike triomf. Hy het lankal oor die saak ontevrede gevoel, ’n hofgeding aanhangig gemaak en gewen. Vir die Kerk was dit ’n ellendige oomblik. Dit het daarop neergekom dat die staatsgrense ook as kerklike grense gegeld het, en dat die lidmate in die ander gebiede sonder sinodale gesag of binding was. Die gevolg was dat die Vrystaat in 1864, Natal in 1865 en Transvaal in 1866 elk ’n eie Sinode gestig het. Loedolff het met verdere hofsake begin optree, ten einde vorige Sinode-besluite onwettig verklaar te kry. In 1863 het die regters weer eens uitspraak gelewer en hierdie keer die Kerk gelyk gegee ten opsigte van vorige beslissings. Loedolff was nie werklik so suiwer op die wet ingestel nie, maar hy wou die Kerk bykom en in die proses die aardse, menslike betroubaarheid bo die gesag, eer en optreewyse van die Kerk probeer stel. Hy kan tereg as ’n speerpunt van die destydse liberalisme beskou word. Hoewel hy groot nadeel vir en verwarring binne die NG Kerk geskep het, het die Woordverkondiging oral voortgegaan, en in 1962, na een honderd jaar dus, is ’n Algemene Sinode weer gevorm.

1910 – Hoeksteen van Uniegebou gelê

1975 – Riaan Cruywagen lees sy eerste Afrikaanse nuusbulletin op SAUK-televisie

1975 – Breyten Breytenbach gevonnis

Die Afrikaanse digter Breyten Breytenbach word in die Pretoriase Hooggeregshof gevonnis tot nege jaar gevangenisstraf nadat hy skuld beken het op aanklagte dat hy ‘n nuwe organisasie wou begin wat bedoel was om die blanke vleuel van die African National Congress te wees.

1992 – Verkiesing in 1994

Pres. F.W. de Klerk stel voor dat Suid-Afrika sy eerste verkiesing waaraan die swart meerderheid mag deelneem, in die eerste helfte van 1994 hou.

2012 – Riaan Cruywagen lees sy laaste Afrikaanse nuusbulletin op SAUK-televisie

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1917 – Sir Leander Starr Jameson, mediese spesialis, staatsman en leier van die Jameson-inval (* 9 Februarie 1853)

Sir Leander Starr Jameson, was ’n gekwalifiseerde mediese spesialis, gewilde Suid-Afrikaanse en Rhodesiese staatsman en eerste leier van die Unionisteparty in Suid-Afrika.

1931 – Antonie Michael Prinsloo, Boeregeneraal (* 1862)

Antonie Michael Prinsloo is op 11 Julie 1862 in Bloemfontein gebore waar sy vader in die distrik geboer het. Toe hy ’n jong seun was, het sy ouers na Bethlehem getrek waar hy ook mettertyd begin boer het. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog ruk hy saam met die Bethlehemse kommando op waar sy leierskaphoedanighede spoedig opgemerk is sodat hy teen Februarie 1900 reeds tot kommandant van sy kommando bevorder is. Prinsloo se ontluikende kalme onverskrokkenheid het spoedig vir hom verdere bekendheid meegebring. So is hy byvoorbeeld tydens die Britse aanslag op Colesberg in Maart 1900 in die lugpyp gewond. Desnieteenstaande was hy die laaste burger wat uitgejaag het en in die proses ’n medeburger op sy perd gelaai en daarna ook nog die Norvalspontbrug opgeblaas het. Na verskeie ander heldhaftige optredes het hy tussen 1900 en 1901 die twee invalstogte saam met genl. CR de Wet in die Kaapkolonie onderneem. Hy kry sy generaalsrang in Julie 1901 toe hy bevelvoerder word van die noordelike Vrystaatse kommando’s. Toe die oorlog in 1902 beëindig is, was sy kommando van 1100 manskappe die grootste enkele kommando in albei Boererepublieke. Na die oorlog het Prinsloo hom mettertyd in die Bethlehemse distrik gaan vestig waar hy in 1912 distrikskommandant geword het van die plaaslike kommando. As lojale ondersteuner van genl. L Botha het hy in 1914 geweier om deel te neem aan die Rebellie. Later het hy egter ondersteuner van genl. JBM Hertzog geword. Gedurende 1929 tot 1930 het hy as stadsraadslid van Bethlehem gedien. Terwyl hy op 26 November 1931 met boomaanplanting besig was, is hy deur ’n waansinnige vermoor en daarna met volle militêre eerbewys in Bethlehem begrawe. Die leeuemoed, wat sy hele lewe gekenmerk het, het genl. De Wet op ’n keer van hom laat sê: “Gee my honderd burgers soos Rooi Michael Prinsloo van Bethlehem en ek sal die Engelse uit Engeland jaag.”

1991 – Karl Kielblock, skrywer (* 23 Oktober 1907)

Karl Kielblock is een van die gewildste skrywers van Afrikaanse ontspanningslektuur – een van die eerste skrywers wat hom toegespits het op die skryf van ligte lektuur met ’n “nasionale” strekking. Hy put sy stof hoofsaaklik uit die vaderlandse geskiedenis, veral die vroeë dae aan die Kaap. Kielblock is op Beaufort-Wes gebore. Nadat hy sy skoolloopbaan op sy tuisdorp voltooi het, bekwaam hy hom as onderwyser aan die Paarlse Opleidingskollege. Hy gee onderwys by die openbare skool in die Strand, totdat hy voltydse skrywer word. Van Mikro (CH Kuhn) met wie hy jare lank goed bevriend was, het Kielblok besondere aanmoediging ontvang. In 1970 ontvang Kielblock die SA Akademie se Scheepersprys vir jeuglektuur vir sy avontuurverhaal Rebel. Ander titels wat uit sy pen gekom het, is Die skat van Java (1936). Die Vreemdeling (1938), Jasper le Feuvre (1942), Moord op Eendevlei (1943) en Adriaan Denys (1947).

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/