25 JUNIE
June 22, 2015
28 JUNIE
June 22, 2015

Gebeure

1860 – Eerste spoorlyn in Suid-Afrika geopen

Op hierdie dag is die eerste spoorbaan in Suid-Afrika vir verkeer oopgestel. Die lyntjie was 3 km lank en het van die Punt na Durban geloop. Dit was die werk van ’n private maatskappy, die Natal Railway Company. ’n Tweede spoorlyn, van Kaapstad na Wellington, is in 1863 in gebruik geneem. Die was 91 km lank en is ook deur ’n private onderneming, die Cape Town Railway and Dock Company, opgerig. Tot en met die ontdekking van diamante en goud was spoorwegontwikkeling traag en moeisaam. Hierna het spoorwegbou egter baie snel toegeneem. Vandag beslaan die spoorbane van die RSA ’n afstand van 22 288 081 km. So het uit ’n klein begin ’n reusagtige bedryf ontwikkel. Spoorbane het vir die SA van die 19de eeu drastiese veranderinge beteken. Voor die tydvak van spoorweë en spoorverbinding was kommunikasie beperk. Verbinding het per ossewa geskied. Laasgenoemde was uit die aard stadig en moeilik. Spoorweë het dit alles verander: mense en gebiede is in ’n versnelde mate nader aan mekaar gebring. Die RSA van vandag is ondenkbaar sonder die SA Spoorweë. Dit vorm die basis vir verbinding, kommunikasie en vir die ekonomie. Vir die Boerebevolking van die 19de eeu was die koms van die ysterperd op spoorstawe aanvanklik rampspoedig, ’n ekonomiese terugslag. Dit het naamlik die einde beteken van transportryery – ’n bedryf waaruit baie boere ’n ekonomies gesonde bestaan gemaak het – en sodoende ook van die wamakersbedryf wat uitsluitlik in Boerehande was.

1888 – Die eerste pasiënt word tot die Volkshospitaal in Pretoria toegelaat

1892 – Die Oranje-Vrystaatse Onderwysersvereniging (OVSOV) gestig

Omdat daar onder die Vrystaatse onderwysers ’n behoefte gevoel is aan ’n vereniging om enersyds die belange van die onderwys en onderwysers te behartig en andersyds te sorg dat die kollegiale bande versterk word en vir hulle in die bres te tree, en, waar nodig, finansiële steun te verleen, is op hierdie dag in Bloemfontein die Oranje-Vrystaat-Onderwysersvereniging (OVOV) gestig. 

 

Geboortes

1770 – Jacobus Johannes Uys, Voortrekkerpatriarg († Julie 1838)

Die eerbiedwaardige Voortrekkerpatriarg, Jacobus Johannes Uys, is in die huidige distrik Bredasdorp gebore. Hy trek na Natal uit die distrik Uitenhage. En in April 1837 oorhandig die Engelssprekendes van Grahamstad uit agting aan hom en sy geselskap (sowat honderd siele) ’n groot Statebybel. Jacobus Uys is in Julie 1838 naby die huidige Pietermaritzburg oorlede. Die bekendste van sy vyftien kinders is die Voortrekkerleier, Piet Uys. 

1806 – Anna Susanna (Antjie) Scheepers, Afrikanerpioniersvrou († 9 Augustus 1878)

Anna Susanna (Antjie) Scheepers is by uitstek ’n voorbeeld van die negentiende-eeuse Afrikanerpioniersvrou. Sy is in die Swellendamse distrik gebore en het grootgeword op die voorposte, waar slegs die sterkstes deur fisieke krag, deursettingsvermoë en gesonde oordeel die stryd om te bestaan kon oorlewe. Sy en haar man, Gert Scheepers, het hulle in 1835 by die trekgeselskap van Louis Tregardt (Trichardt) aangesluit, maar reeds in 1837 beswyk aan koors, sodat sy as weduwee met nege kinders die res van die trek na Delagoabaai meemaak. Hulpeloos was Antjie Scheepers egter allermins. Sy bou eiehandig ’n rondawel en behartig haar wa en vee sonder die hulp van bediendes. Sy staan ook haar plek as gesinshoof vol en handhaaf die sedes van haar volk deur haar kinders te tugtig as hulle verbrou. Louis Tregardt teken in sy dagboek aan dat drie seuns, onder andere ’n seun van Antjie Scheepers, op ’n keer besluit het om weg te loop. Toe hulle na ’n paar dae van ontbering terugkeer, het Tregardt gereken dat hulle genoeg gestraf is, maar daarmee was die weduwee Scheepers nie gediend nie. Sy laat haar seun deur twee mans vashou en dien hom met twee stroppe ’n gedugtige loesing toe. In ’n krisis raak sy ook nie maklik verskrik nie; so vind sy saam met Martha Tregardt en Breggie Pretorius ’n plek om langs die steil Drakensberg af te trek, nadat die manlike lede van die trek al feitlik moed opgegee het. Sy was liggaamlik sterk en gesond, sodat sy een van die weinige volwassenes is wat die trek oorlewe en na Natal teruggekeer het. Sy is in 1844 weer getroud en het na die dood van haar tweede man in die distrik Ladybrand gewoon, waar sy op 9 Augustus 1878 oorlede is. As huldebetoon aan hierdie kranige vrou is daar vir haar ’n monument op die hoërskoolterrein in Ladybrand opgerig. Die Anna Scheepers-Landbouhuishoudskool op Tweespruit is na haar genoem. 

1841 – Pieter Jeremias Blignaut, politikus, staatsamptenaar, staatsekretaris van OVS (1879-1902) en waarnemende staatspresident van OVS († 1 November 1909)

1926 – Louis Pienaar, regter, diplomaat en die laaste blanke administrateur van Suidwes-Afrika († 5 November 2012)

1957 – Ryk Hattingh, skrywer († 10 Oktober 2017)

 

Sterftes

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/