25 JANUARIE
January 25, 2016
27 JANUARIE
January 27, 2016

Gebeure

1896 – Die Wellingtonse Opleidingskool, die voorloper van die latere onderwyserskollege, begin met sy klasse

Die Onderwyskollege op Wellington is nie alleen die oudste onderwyserskollege in Suid-Afrika nie maar ook die grootste in die Kaapprovinsie. Die Hugenote-seminarie waaruit die WOK gebore is, en waartoe dr. Andrew Murray (1828–1917) ’n besondere bydrae gelewer het, is op Maandag 19 Januarie 1874 geopen. Hierdie inrigting het van die begin af ook onderwyseresse, en sedert 1887 ook kindertuinonderwyseresse, opgelei. Op 26 Januarie 1896 het die Opleidingskool, soos dit destyds bekend was, in ’n drievertrekgeboutjie op die terrein van die Hugenote-seminarie begin. Skoliere wat in St. 5 geslaag het en reeds 14 jaar oud was, kon tot die eerstejaarsklas toegelaat word. In Julie 1896 is die eerste geboue op die huidige kampus betrek. In 1897 word dit ’n Opleidingskollege, omdat matrikulante ook ingeskryf is. Afrikaans word in 1920 as vak ingevoer terwyl die eerste les deur medium van Afrikaans in 1928 deur ’n student aangebied word. In 1936 kry die Wellingtonse Onderwyskollege sy eerste Afrikaanse hoof en word Afrikaans progressief as medium van onderrig ingevoer.

1901 – Genl. Christiaan de Wet val die Kaapse kolonie in

Genl. Christiaan de Wet, vergesel van pres. M.T. Steyn begin sy reis by Doornberg, naby Winburg, om die Kaapkolonie vir die tweede keer binne te val.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Modderfontein, Transvaal

1901 – Anglo-Boereoorlog: “South African Constabulary” gestig

Die “South African Constabulary” word deur genl.maj. Baden Powell gestig. Dit bestaan hoofsaaklik uit Koloniale troepe.

1902 – Sakboekie red genl. Ben Viljoen se lewe

Genl. Ben Viljoen en sewe ander mense was op pad na sy kommando by Pelgrimsrus toe hulle naby Lydenburg in die maanlig in ‘n hinderlaag gelok en na ‘n kwaai skermutseling gevang is. Sy sakboekie het verhinder dat ‘n koeël hom in die bors getref het. 

1905 – Fred Wells ontdek die Cullinan-diamant naby Pretoria in die Premiermyn

Die Cullinan-diamant is die wêreld se grootste diamant. Die diamant is op 26 Januarie 1905 in die Premiermyn by Cullinan (naby Pretoria) deur Frederick Wells gevind. Dit is tot op datum die grootste ruwe sierdiamant wat ooit gevind is. Dit het 3 025 karaat geweeg. Dit was ongeveer 11 cm by 6 cm by 5 cm groot voor dit geslyp is. Wells het ’n beloning van ₤2000 vir sy vonds ontvang. Die diamant is na sir Thomas Major Cullinan, die stigter van die myn, vernoem. Dit is aan die regering van die Transvaalkolonie vir ₤150 000 verkoop. Daarna is die diamant deur die koloniale regering aan koning Edward VII geskenk.

1914 – Weerstand van Rebellemagte verkrummel

Teen 26 Januarie 1914 het die weerstand van die Rebellemagte so te sê geheel en al verkrummel.

Twee dae vantevore (24 Januarie 1914) het die rebelleleier genl. Manie Maritz aan genl. Jaap van Deventer van die Unieverdedigingsmagte geskryf en erken dat hy self reken dat die tyd ryp geword het om ’n einde aan die opstand te bring. Niklaas “Siener” van Rensburg het juis die rebelleleiers teen dié tyd gewaarsku: “Jy [genl. Jan Kemp] moet gaan onderhandel. Ek sien ons gewere word in ’n kas gepak. Ons werk is afgedaan, naamlik die traktate is gemaak.” Op 26 Januarie antwoord Van Deventer op Maritz se brief en gee sy blydskap te kenne, maar beklemtoon dat hy net ’n onvoorwaardelike oorgawe van die rebelle kan aanvaar.

1962 – Bouwerk begin aan die Pretoriase Kunsmuseum in Arcadia, Pretoria

1994 – Die Vriende van Afrikaans (VVA) gestig

 

Geboortes

1867 – Paul Nel, veldprediker, leraar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en moderator van die Transvaalse Kerk († 7 Oktober 1943)

Na sy jeugjare op Greytown, het Paul Nel hom in 1892 aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch as predikant bekwaam. Hy het in verskeie gemeentes gearbei, maar sy naam is verbonde aan Ermelo, waar hy van 1907 tot met sy emeritaat in 1934 gestaan het. Sy besondere gawes van hoof en hart is gou deur sy kerk raakgesien, en so dien hy as skriba van die Transvaalse Sinode en van die Federale raad van NG Kerke. Telkemale was hy ook voorsitter van hierdie kerkvergaderinge. Hy was een van die predikante wat hom ook in die Engelse Oorlog by die vegtende burgers aangesluit het. Hy is gevange geneem by Elandslaagte, maar is kort daarna vrygelaat. Hy was een van die eerste pleitbesorgers vir die oprigting van die NG Kerk se Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria en dien later in die eerste Fakulteitskommissie. Hy is op 7 Oktober 1943 op Ermelo oorlede. 

1894 – Lourens J (Rassie) Erasmus, stigterslid van die Afrikaner-Broederbond en bekende in kultuurkringe († September 1970)

Lourens J (Rassie) Erasmus het as weeskind grootgeword nadat hy sy moeder kort voor die Engelse Oorlog verloor en sy vader in die oorlog gesneuwel het. Hy lewer sy diens aan die Afrikaner se kultuur aan die Rand as stigterslid van die Afrikaner-Broederbond, sekretaris van die Transvaalse Onderwysersvereniging, leidende figuur in Afrikaner kringe in Johannesburg, die ASB, die FAK, die Afrikaanse Kunsvereniging, Volkskas en die Handhawersbond. In 1938 word hy hoofbestuurder van SA Diensburo (Spoorbondkas). Daarby was hy ook stigter en hoof van die Helpmekaar Korrespondensiekollege, benewens verskeie ander werksaamhede. Hy was sedert 1962 aan Afrikaanse Pers Beperk verbonde en skryf ook sy belangrikste publikasie ‘n Volk staan op uit die as in daardie jaar. Hy is in September 1970 oorlede.

 

Sterftes

1978 – Dr. Jan Bouws, musiekkenner en komponis (* 28 Julie 1902)

Jan Bouws, Nederlands-Afrikaanse musiekwetenskaplike, musiekpedagoog, skrywer en komponis (onder andere “Op my ou ramkietjie”) is op hierdie dag in Purmerend, Nederland gebore. Na opleiding as onderwyser en gedurende sy lang onderwysloopbaan studeer hy in Amsterdam musiekwetenskap onder proff. Bernet Kempers, Smits van Waesberghe en andere, en begin vroeg reeds intens belangstel in die Afrikaner en veral sy musiekkultuur. In 1946 verskyn in Brugge uit sy pen in Afrikaans, die eerste en tot nog toe enigste poging tot ‘n omvattende musiekgeskiedenis van Suid-Afrika Musiek in Suid-Afrika. Die huis van Jan en Juliana Bouws in Amsterdam was ’n toevlug en tuiste vir baie Afrikaanse studente in Nederland. Na nog ’n hele aantal publikasies oor die musieklewe van Suid-Afrika, veral die Afrikaanse volkslied, besoek Bouws op uitnodiging van die FAK Suid-Afrika in 1957 vir die eerste keer. Hy vestig hom in 1960 op Stellenbosch en lê daar die grondslag vir musiekwetenskaplike werk aan die universiteit. Ook in verskeie internasionale publikasies het hy artikels oor musiek in Suid-Afrika gepubliseer. In 1972 by die FAK se Algemene Vergadering is ’n oorkonde uit erkentelikheid vir die rol wat hy in die bevordering van die Afrikaanse lied gespeel het, aan hom oorhandig. Vanweë sy swak gesondheidstoestand, is die oorkonde deur mev. Juliana Bouws in ontvangs geneem. Hy is op 26 Januarie 1978 in Tygerberg oorlede.

1990 – Johannes du Plessis Scholtz, skrywer, taalhistorikus en kunsversamelaar (* 14 Mei 1900)

Johannes du Plessis Scholtz, bekende taalkundige is in die distrik Hottentots-Holland gebore. Hy studeer in Stellenbosch, Amsterdam en Utrecht, waar hy in 1939 promoveer. Onder Afrikaanse taalkundiges sal hy altyd ’n besondere plek beklee deur sy hoogstaande publikasies, wat almal berus op indringende en uitvoerige bestudering van bronne van ouer Afrikaans. Hy beskrywe veral die verandering in die 18de en 19de eeu in woordeskat, klank en morfologie waardeur Nederlands tot Afrikaans verander het. Sy werke is van onskatbare waarde by ’n studie van die ontwikkeling van die Afrikaanse taal. Hy het ’n leidende rol gespeel in die Van Riebeeck-vereniging en die monumentesorg. Hy stel baie belang in die beeldende kunste, soos gesien kan word in sy versameling moderne skilderye. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 1974 die Stalsprys vir kunsgeskiedenis aan hom toegeken. Werke uit sy pen is onder meer: Die Afrikaner en sy Taal (1939), Nederlandse invloed op die Afrikaanse woordeskat (1939), Taalhistoriese Opstelle (1963), Afrikaans uit die vroeë tyd (1965), D.C. Boonzaaier en Pieter Wenning (1973). Die Afrikaner en sy Taal word nog beskou as die voortreflikste werk oor die wordingsgeskiedenis van die Afrikaner van 1652 tot 1875 ten opsigte van sy ontwikkeling op taal-, identiteits- en kultuurgebied. Die verengelsingsbeleid en imperialisme van Brittanje word fel belig in die werk. 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/