25 APRIL
November 1, 2016
27 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1679 Kasteel voltooi

Die Kasteel De Goede Hoop is die oudste bestaande gebou uit die blanke vestigingstyd in Suid-Afrika. Bouwerk aan die Kasteel het in 1666, onder die bewind van kommandeur Zacharias Wagenaar, begin. Dit moes die bouvallige en swak geleë Fort wat Jan van Riebeeck kort na sy aankoms in 1652 langs Tafelbaai laat oprig het, vervang. In 1664, aan die vooraand van Nederland se Tweede See-oorlog (1665 tot 1667) teen Brittanje, het die Here XVII opdrag gegee dat ’n duursame klipvesting die Fort moet vervang. Die ontwerp van die Kasteel is waarskynlik aan die voorskrifte van die Franse vestingboukundige Sebastiaan de Vauban, of die bekende Nederlandse fortifikasie-argitek Menno van Coehoorn, ontleen. Die ligging van die Kasteel is in 1665 deur Isbrand Goske vesting-deskundige, saam met ingenieur Pieter Bombaer aangewys. Die bouwerk het met wisselende tempo gevorder, maar nadat Goske in 1672 as eerste goewerneur aan die Kaap aangestel is, het hy persoonlik oor die bouwerk toesig gehou. Voltooide dele van die Kasteel is in 1674 vir die eerste keer betrek, maar die bouwerk sou eers in 1679 afgehandel word. Die Politieke Raad het op 26 April van daardie jaar besluit om die vyf voltooide bolwerke of punte van die Kasteel na die titels van die Prins van Oranje te noem, nl. Buren (noord), Catsenellenbogen (oos), Nassau (suidoos), Oranje (suid) en Leerdam (wes). Dit was ’n heuglike dag vir die bouers en beplanners van die Kasteel. Verdere toevoegings het later gevolg. In 1680 het die gesagvoerder Simon van der Stel sy intrek in die Kasteel geneem. In April 1684 is ’n nuwe ingang aan die landkant van die Kasteel, tussen die bolwerke Buren en Leerdam, voltooi. Die oorspronklike ingang van die seekant is toegebou. In 1691 is ’n breë dwarsmuur, bekend as die Kat, opgerig om die Kasteel inwendig te versterk. Die benaming Kat was ’n term wat in die vestingboukunde gebruik is vir ’n hoë konstruksie waardeur die omliggende gebied bespied en beskiet kan word. Teen hierdie dwarsmuur is daar vertrekke aangebou vir die sittings van die Politieke Raad en Raad van Justisie en ’n groot saal vir kerkdienste en sosiale byeenkomste. Die Kasteel was in die 18de en vroeë 19de eeu die middelpunt van die Kaapse samelewing. Dit sou jare lank diens doen as regeringsentrum, militêre hoofkwartier, woning van amptenare, ambagkwartier, magasyn en pakhuis, siekehuis, gevangenis en plek van openbare teregstelling. Onder die talle mense wat in die Kasteel gevange gehou is, was die kleurryke Adam Tas, onder die bewind van WA van der Stel, en Adriaan van Jaarsveld, in die eerste Britse bestuurstyd. Die Donker Gat, diep onder die bolwerk Catzenellenbogen, was die berugste onderaardse plek van aanhouding. Vandag is die Kasteel nog die hoofkwartier van die Kommandement Westelike Provinsie van die Suid-Afrikaanse Weermag. In 1936 is die Kasteel amptelik tot historiese monument verklaar om sy voortbestaan as kultuurhistoriese gedenkwaardigheid te beveilig. Dit is gepas dat die grondplan van die Kasteel, ons land se oudste bestaande militêre vesting en simbool van die vroeë Westerse volksplanting, vandag as amptelike embleem van die Suid-Afrikaanse Weermag dien. 

Geboortes

1851 – Sir Cornelius Hermanus Wessels, politikus († 1 Maart 1924)

1884 – Dr. Anna Petronella van Heerden, eerste Afrikaanse vrou wat as geneesheer opgelei is († 10 Januarie 1975)

Dr. Petronella van Heerden was ’n pionier in die ware sin van die woord. Sy was die eerste Afrikanervrou wat as geneesheer gekwalifiseer het (Amsterdam 1915), as geneesheer in Suid-Afrika gepraktiseer het, en haar proefskrif (vir haar doktorsgraad in ginekologie in Amsterdam in 1922) in Afrikaans geskryf het. Sy was ook skryfster, onder ander van die bekende Kerssnuitsels, en ’n Afrikanervrou wat enduit die Afrikaner bygestaan en hoër help vorder het. Waar sy self uitgestyg het, moes haar volksgenote ook kom staan. 

1900 – Dr. Willem Henry Jacobus Punt, stigter van die Stigting Simon van der Stel en bekende SA kultuurhistorikus († 22 Mei 1981)

Willem Henry Jacobus Punt is in Pretoria gebore. As seun van Hollandse immigrante, studeer hy aanvanklik aan die staatsgimnasium in Amsterdam en later in Pretoria, waar hy in 1918 matrikuleer. In 1923 behaal hy die BA-graad aan die Universiteit van Pretoria en twee onderwysdiplomas; in 1932 die MA-graad in Aardrykskunde en in 1953 die PhD-graad aan die Universiteit van Stellenbosch met sy baanbrekerswerk Louis Trichardt se laaste skof. Vanweë sy liefde vir die behoud van die historiese oudhede en erfenisse in Suid-Afrika word dr. Punt in 1959 beginner, stigter en direkteur van die Stigting Simon van der Stel, wat hom onder meer ten doel stel om belangrikste historiese geboue van sloping te red, te bewaar en te restoureer. In 1974 tree hy uit as direkteur. Dr. Punt was stigter van die Louis Trichardttrek-Monumentfonds, wat hom en sy komitee in staat gestel het om die Trichardt-gedenktuin in die destydse Lourenço Marques aan te lê. In 1967 word hy deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns met ’n erepenning vereer vir kultuurhistoriese prestasie, “vir volhardende navorsing, jarelange onvermoeide ywer, taai wilskrag en hooggestemde idealisme”. Dr. Willem Punt is ’n rustelose denker en ’n navorser by uitstek. Met meer as honderd wetenskaplike publikasies van kultuurhistoriese aard, word hy vandag geroem as een van die grootste kultuurhistorici wat Suid-Afrika nog opgelewer het. 

1916 – Arnold Christiaan Vlok van Wyk, komponis († 27 Maart 1983)

Arnold van Wyk was ’n kunsmusiek-komponis. Hy was een van die eerste noemenswaardige komponiste van die genre, saam met Hubert du Plessis en Stefans Grové.

 

Sterftes

1963 – Hendrik Susan, violis en leier van ’n Boeremusiekorkes (* 4 Mei 1903)

Violis en leier van sy eie Boere-orkes. Die instelling van ’n Afrikaanse radiodiens en die opstuwing van volksgevoel wat die Voortrekkereeufeesvierings veroorsaak het, het die behoefte aan ’n eiesoortige musiek skerp laat toeneem. Die musiek wat op die plase en dorpe gemaak is, met ’n sterk eie kleur en ’n algemene styl en klankpatroon, was die vanselfsprekende bron. Hendrik Susan was daardie tyd in sy fleur; hy was ’n vaardige musikant en ’n leierpersoonlikheid wat deurdrenk was met die idioom van hierdie musiek. Hy het die standaard van die spel opgehef, ou melodieë opgediep, jong komponiste aangemoedig om nuwe melodieë te maak en die aanbiedingstyl verbeter. Met sy vaderlike goedhartigheid het hy jong musikante in sy orkes opgelei en hulle sonder afguns of argwaan vry gelaat om hulle eie orkeste te stig. So het hy vader gestaan vir ’n hele beweging wat ’n grondslag vir ’n ontwikkelende ligte musiek met ’n eie kleur daargestel het. Sy invloed duur voort. Hy is op 25 April 1963 oorlede. 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/