23 OKTOBER
October 23, 2015
Diamante word ontdek
October 23, 2015

Gebeure

1854 – Beleg van Makapansgrot

In Oktober 1854 is ’n Boerejaggeselskap, bestaande uit 23 mans, vrouens en kinders, wreed deur die swart volk van Makapan (soms ook gespel Magopane, Mokopane of Makapaan) en Mapela, opperhoofde van klein inboorlingstamme in die gebied Waterberg in die distrik Soutpansberg, naby die latere Makapanspoort, vermoor. Die lyke van die vermoordes is gruwelik vermink, en die leier van die geselskap, Hermanus Potgieter, broer van die Voortrekkerleier AH Potgieter, is lewend afgeslag. Na aanleiding van hierdie wrede dade het kmdt-genl. Piet Potgieter, seun van AH Potgieter, saam met MW Pretorius, kommandant-generaal van Potchefstroom, ’n strafekspedisie teen Makapan georganiseer. Pretorius het hom op 24 Oktober by Potgieter aangesluit, en met ’n gesamentlike mag van ongeveer 535 man het hulle teen Makapan uitgetrek. Makapan het voor die Boere uitgevlug en hom met sy volgelinge in die latere Makapansgrot, ongeveer 23 km van Potgietersrus, verskans. Die grot is ongeveer 200 m lank, 150 m breed en plek-plek tot 20 m hoog. Dit sou gevaarlik wees om die grot stormenderhand te probeer verower aangesien dit daarbinne baie donker was en die barbare hulle boonop bestook het met gewere wat hulle by Engelse smouse gekry het. In die lig hiervan het die Boere op hierdie dag begin om die grot te verseël en te beleër, om sodoende die vyand deur uithongering tot oorgawe te dwing. Op 6 November 1854 het Piet Potgieter hom in ’n oomblik van onbehoedsaamheid voor die bek van die grot gewaag en is hy noodlottig getref deur ’n vyandelike koeël. Onder hewige vyandelike vuur het veldkornet Paul Kruger, later President van die ZAR, onder dekkingsvuur van sy makkers, ’n heldedaad verrig deur die lyk van Potgieter uit die bek van die grot te gaan haal. Na ’n beleg van 25 dae het ’n klein groepie Boere die grot binnegedring en die verhongerde vyand sonder veel teenstand oorrompel. Ongeveer 900 swartes is gedurende die beleg voor die grot doodgeskiet terwyl meer as twee keer soveel daarbinne van honger en dors omgekom het, sodat Makapan se stam byna totaal uitgewis is, dít deur ’n klein groepie Boere van skaars meer as 500 man wie die Here aan hulle kant gehad het. Minder sukses is aanvanklik teen Mapela behaal, wat hom met oormoedigheid nog meer astrant geword het en al meer moeilikheid laat veroorsaak het, totdat in 1858 ’n strafkommando ook teen hom op die been gebring is, waarin Paul Kruger eweneens ’n belangrike rol gespeel het. Mapela se mag is finaal deur hierdie strafkommando gebreek.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Aanval by Jacobsdal

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Damplaas, Boshof

1937 – Eerste voltydse Afrikaanse program oor die radio word uit Kaapstad uitgesaai

1949 – Rapportryers vertrek uit Kaapstad op pad na die inwyding van die Voortrekkermonument

In die namiddag van 25 Oktober 1949 vertrek ’n kommando Rapportryers van die Moederstad op die derde van vyftien roetes, wat uit elke uithoek van die land gestrek het, na die inwydingsfees van die Voortrekkermonument op 16 Desember in Pretoria. Die vertrek uit Kaapstad is voorafgegaan deur drie dae van feestelikheid, waarby ruim 7 000 mense byeen was. In die begin van 1949 is die Uniale Rapportryersreëlingskomitee gestig, bestaande uit verteenwoordigers van die ATKV en die FAK. In ’n omvattende landwye program het die Rapportryeraantog na die Voortrekkermonument die geesdrif van die volk beetgepak en die volk se boodskappe vir die toekoms na die Monument gedra. Die boodskappe is uit elke gemeenskap langs die roetes versamel en in tradisionele kommandobladsakke van dorp tot dorp aan die afloskommando’s onder leiding van veldkornette, oorhandig. Benewens boodskappe, wat kultuurstrewes, godsdienstige oortuiginge, opvoedkundige ideale, volksdeugde, verhewe opvattinge en nasionale beskouinge bevat het, het elke kommando ’n Bybel in een bladsak gedra omdat dit steeds die rigtinggewende boodskap vir die Afrikaner ingehou het. Die Rapportryersaantog was ’n treffende voorspel tot die Inwydingsfees by die Voortrekkermonument – ’n feestelike aantog oor 14 000 roetemyle, wat amptelik op 10 Oktober by Hartenbos begin het, hoewel die eerste kommando op 29 September al uit Ovambo vertrek het. Op 14 Desember het die Rapportryersaantog by die Voortrekkermonument geëindig, toe die boodskappe voor dr. EG Jansen, voorsitter van die Inwydingskomitee, neergesit is.

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1838 – Louis Tregardt, Voortrekkerleier (* 10 Augustus 1783)

Louis Trichardt (Tregardt) is op hierdie dag op Oudsthoorn, in die distrik Swellendam gebore. Later het hy op verskillende plekke in die Graaff-Reinet distrik geboer, en teen 1834 was hy in die omgewing van die Wit Kei gevestig. Ontevrede oor die voortdurende Xhosa-strooptogte, die Britse filantropiese beleid en die vrystelling van die slawe, het hy die Kaapkolonie vroeg in 1835 met ’n aantal medeburgers verlaat. Naby Bethulie het hy oor die Oranjerivier getrek, en daarna het hy die Caledonrivier bereik waar die trek van Johannes J Janse van Rensburg by hom aangesluit het. Gesamentlik, maar afsonderlik, het die twee geselskappe noordwaarts getrek tot by die Strydpoortberge waar hulle geskei het. Trichardt het hom mettertyd op verskeie plekke in die omgewing van die Soutpansberg gevestig waar hy meer as ’n jaar vertoef en ’n patrollie van Andries H Potgieter hom aangetref het. Sy geselskap vertrek in Augustus 1837 op die moeisame en rampspoedige tog deur die Laeveld en oor die Drakensberg na Lourenço Marques. Geteister deur malaria, bereik die gehawende geselskap Lourenço Marques in April 1838 waar eers Trichardt se vrou, en daarna hyself op 25 Oktober 1838 beswyk. Trichardt se Dagboek is ’n belangrike historiese bron terwyl hy deur sy trek nie net die noordwaartse roete vir die Voortrekkers gebaan het nie, maar ook die begeerte geprikkel het by sommige om hulle in die oor-Vaalse gebied te vestig.

1918 – Tobias Ballot (Tobie) Muller, NG predikant en Afrikaanse taalstryder (* 13 Augustus 1884)

Dr. Tobie Muller was ’n inspirerende studenteleier op Stellenbosch en ‘n kampvegter vir Afrikaans. Hy was die eerste voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) in die Eikestad. Nadat hy in 1909 na Europa vertrek het, het hy sy doktorsgraad aan die Universiteit van Utrecht verwerf. Sy proefskrif, De kennisleer van het Anglo-Amerikaansch pragmatisme (1913), is van belang vir die geskiedenis van die filosofie in Suid-Afrika. In Oktober 1913 het hy ’n belangrike lesing gelewer, Die geloofsbelydenis van ’n Nasionalis, wat deur die ATV versprei is. In dié tyd het Muller hom vurig vir sy volk se regte begin beywer en ’n Afrikaanse maandblad, Ons Moedertaal, opgerig, waarvan hy redakteur geword het. (Dit is kort daarna by die Huisgenoot ingelyf.) Hy was ’n voorstander van die Afrikaanse Bybelvertaling en was lid van die eerste kommissie wat vir dié doel aangestel is. In 1916 het Muller ’n beroep na die NG gemeente Philippolis aangeneem, waar hy algemene sekretaris van die ATV gebly het tot aan sy dood twee jaar later.

1991 – Louis le Grange, politikus, kabinetsminister en lid van die Nasionale Party (* 16 Augustus 1928)

Louis le Grange word in 1966 tot die Parlement verkies vir die kiesafdeling Potchefstroom (1966-1991). Hy sluit by die kabinet aan in 1975, as adjunkminister van Inligting (1975–1978), Binnelandse Sake en Immigrasie (1975-1978), asook Openbare Werke (1978) tydens die bewind van John Vorster. Later word hy bevorder tot Minister van Toerisme en Openbare Werke (1978–1979), Gevangenisse (1979–1980), Polisie (1979–1982) en Wet en Orde (1982–1986) in die verskeie kabinette van Eerste Minister PW Botha. Hierna val die eer hom te beurt om as Speaker van die Parlement op te tree (1987–1991). Hy is aan ’n hartaanval oorlede in Potchefstroom, in die ouderdom van 64. ’n Hoofstraat wat noordwaarts uit Potchefstroom loop is na hom vernoem.

2007 – Patrick Mynhardt, film- en teaterakteur (* 12 Junie 1932)

Patrick Mynhardt was ’n Suid-Afrikaanse film- en teaterakteur. Hy het in meer as 150 verhoogproduksies in Suid-Afrika en Engeland opgetree, asook in 100 plaaslike en internasionale rolprente, TV-programme en ’n opera.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/