Sir George Grey en die mag van die toordokters
November 23, 2015
26 NOVEMBER
November 26, 2015

Gebeure

1497 – Vasco da Gama se ruiltransaksie

Op hierdie dag in 1497 het Vasco da Gama naby Mosselbaai anker gewerp. Hy was op pad Ooste toe via die nuwe roete om die Kaap, wat jare lank reeds deur die Portugese begeer en gesoek is. Eers die volgende dag kon hy aan land gaan en presies die gebied se voorkoms bepaal. Eers op 1 Desember het Hottentotte hier van Angra de Sint Bras opgedaag om van hulle vee vir vreemde goedere soos klokkies en rooi musse te verruil. Dit was die eerste handelsverbintenis tussen Europeër en inboorling op ons bodem.

1838 – Andries Pretorius aangestel as kommandant-generaal

Andries Pretorius word aangestel as kommandant-generaal van die Voortrekkers, wat twee dae later teen die Zoeloe ’n kommando lei.

1899 – Anglo-Boereoorlog: Slag by Graspan

Op 23 November moes die Republikeinse kommando’s onder bevel van genl. Jacobus Prinsloo met 2500 man by Belmont wyk voor die oprukkende Engelse lord Methuen, wat met 10 500 man opdrag ontvang het om Kimberley te ontset. By Graspan het genl. De la Rey hom by die magte aangesluit en het hulle posisie in die rante ingeneem. Op 25 November begin Methuen die aanval met ’n hewige bombardement. Die barstende bomme tussen die granietklippe het die toestand vir die burgers onhoudbaar gemaak, en toe die Britse infanteriestormloop begin, moes hulle andermaal die wyk neem. Methuen sou eers in die bloedige slag by Magersfontein op 10 Desember 1899 in sy opmars gestuit word.

1899 – Anglo-Boereoorlog: Die moord by Derdepoort naby Gaberones

1899 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Carter’s Ridge (Lazaretskop), Kimberley

1900 – Anglo-Boereoorlog: Kruger in Parys verwelkom

Pres. Paul Kruger word geesdriftig in Parys verwelkom en vereer deur ’n besoek van die Franse president, Émile Loubet.

1974 – Eerste dubbele hartoorplanting in Suid-Afrika

Dr. Chris Barnard voer die wêreld se eerste dubbele hartoorplanting uit in Kaapstad Kaapstad se Groote Schuur-hospitaal.

 

Geboortes

1861 – Tobias Smuts, Boeregeneraal

Tobias Smuts is op 25 November 1861 op die plaas Krugerspos in die distrik Lydenburg gebore. Hy was nege jaar ouer as sy broer Jan Christiaam Smuts. Na sy studies aan die Victoria-kollege op Stellenbosch was hy deel van die Houtbosberg-ekspedisie in Noord-Transvaal en het daarna teen Makhado geveg. Aan die begin van 1899 word hy kommandant van die Ermelo-kommando en word hy lid van die eerste Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hy was deel van die gevegte by Natal, eers as privaat en later as assistent-kommandant. Na die slag van Colenso word hy aangestel as veggeneraal en na die slag van Spioenkop is hy aangestel as assistent-kommandant-generaal vir die Transvaalse mans in die Vrystaat. Op 7 Mei 1900 was hy terug in Pretoria vir die laaste Huis van Vergadering. Hierna het hy geveg op Donkerhoek en was by die slag van Carolina. Op 7 Januarie 1901 beveel generaal Louis Botha sewe aanvalle en generaal Tobias Smuts lei die aanval op Machadodorp. Aan die einde van die oorlog het hy in Oos-Transvaal geveg en daarna na die boerdery teruggekeer en in 1910 is hy benoem as lid van die Volksraad vir Ermelo. Hy het daardie posisie tot 1916 behou. Hy is op 10 Augustus 1916 oorlede op die plaas Elandsfontein in die distrik Baberton.

1885 – Johannes Friedrich Wilhelm Grosskopf, skrywer en dramaturg († 3 Julie 1948)

Johannes Friedrich Wilhelm Grosskopf, skrywer van vier lang dramas, elf kortspele, verhalende prosa en verskeie artikels, se eerste liefde was die literatuur en sy skeppingswerk ter wille van estetiese genot. Hy was ’n kenner van die drama en die tegniek van die teater en van toneelwerke. Hy is in Bloemfontein gebore en studeer later aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy studie oorsee is in Berlyn, Leipzig en Wenen (Lettere) en Leiden (Regte) voortgesit. Terug in Suid-Afrika, neem hy deel aan die Rebellie, word gevang en bring agt maande in die tronk in Pretoria deur. Van 1915 tot 1918 dien hy in die redaksie van Ons Vaderland en later as hoofredakteur van Die Volksblad, totdat hy professor in Staatsinhoudkunde op Stellenbosch word. Sedert sy studiejare toon hy ’n lewende belangstelling in drama en toneel, ’n belangstelling wat as grondslag dien vir verskeie toneelstukke wat later deur hom geskryf word. In 1926 is die Hertzogprys vir drama aan hom toegeken. Van sy bekendste dramas is In die wagkamer, As die tuig skawe en Oorlog is oorlog. Hy is op 3 Julie 1928 in Pretoria oorlede.

 

Sterftes

1957 – Sir Ernest Oppenheimer, mynmagnaat, finansier en filantroop (* 22 Mei 1880)

Sir Ernest Oppenheimer was ’n diamant en goud mynbou-ondernemer, finansierder en filantroop, wat De Beers en die Anglo American-korporasie van Suid-Afrika beheer het.

1959 – Ernest George (EG) Jansen Jansen, Suid-Afrikaanse politikus en agste goewerneur-generaal van Suid-Afrika (1951–1959) (* 7 Augustus 1881)

Sy Eksellensie dr. EG Jansen is om 10.20 nm. op Woensdag 25 November 1959 na ’n lang lyding stil aan die Goewerneurswoning te Pretoria oorlede. Daarmee is ’n lewe van oor die 78 jaar afgesluit waarvan meer as ’n halwe eeu ononderbroke aan diens van taal, volk en land gewy was. Bowendien val ’n belangrike deel van die bewoëndste tydperk uit ons volksgeskiedenis saam met die lewensplanne van die oorledene, en op meer as een terrein daarvan het hy op die voorgrond gestaan. Die eerste lewenslig het hy aanskou net ’n paar maande na die Boereoorwinning op Amajubaheuwel en vier dae na die ondertekening van die Konvensie van Pretoria waarmee die Suid-Afrikaanse Republiek sy onafhanklikheid herwin en die Eerste Vryheidsoorlog beëindig is; sy eerste optrede in die openbare lewe val net na die tragedie van die Tweede Vryheidsoorlog toe die twee Boere-republieke hulle onafhanklikheid moes prysgee. Aan die heropbouing van die volk op kulturele, politieke en geestelike gebied het hy onvermoeid sy kragte bestee, maar dit was hom nie gegun om die dag saam te beleef dat die vier provinsies in ’n vergrote en onafhanklike Suid-Afrikaanse Republiek verenig is nie. Hy het meegewerk om die weg daartoe voor te berei, en as taal- en kerkman het hy sy volle deel gedoen, as politikus en joernalis die openbare mening gevorm, as speaker en goewerneur-generaal ’n voorbeeld van ’n gedragskode daargestel wat selfs sy heftigste teenstanders geloof het, en in die privaat as mens het hy slegs die hoogste beginsels uitgeleef. Om in hierdie kort berig aan so ’n lang en vrugbare lewe op so ’n breë front reg te laat geskied kan nie gebeur nie, sodat ek met ’n paar aanwysinge moet volstaan. Dit is te hope dat ’n goeie lewensbeskrywing binnekort die verhaal van hierdie volksman in wyer kring bekend sal maak, die verhaal van ’n eenvoudige Hollandse immigranteseun van die Natalse platteland wat die eerste Afrikaanstalige geword het om die hoogste pos in ons land te beklee. Ernst George Jansen is op 7 Augustus 1881 op die plaas Strathearne (vernoem na die landmeter) in die distrik Dundee gebore. Saam met drie broers en ’n suster het sy vader, toe dertien jaar oud, uit Nederland na Suid-Afrika uitgewyk en so teen 1875 in Noordelike Natal begin boer toe die land daar nog yl bewoon was en die jong Hollander sy bruid, ene nooi Wohlitz, voorlopig in rondawels moes laat bly.

1978 – Cornelius Gerhardus Stephanus (Con) de Villiers, skrywer, musiekkenner en genealoog (* 16 Desember 1894)

Con de Villiers was ’n professor in fisiologie aan die Universiteit van Stellenbosch, skrywer van verskeie boeke oor die Overbergstreek, musiekkenner en vertaler wat die Akademieprys vir Vertaalde Werk verwerf het in die vorige eeu.

2004 – Sheila Cussons, digter en skilder (* 9 Augustus 1922)

Sheila Cussons was ’n digter en skilder. Benewens haar talent as skilderes en beeldende kunstenares, was sy een van die belangrikste digters in Afrikaans. Vir haar debuutbundel, Plektrum (1970), is sy met die Ingrid Jonkerprys, Eugène Maraisprys en die WA Hofmeyrprys bekroon. Daarna het nog tien ander bundels en meer pryse gevolg, o.a. die CNA-prys vir Letterkunde (1981) en die Louis Luytprys (1982). In 1983 is die gesiene Hertzogprys vir poësie vir haar hele oeuvre toegeken. Sy het 11 digbundels in haar leeftyd laat verskyn.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/

https://www.boerenbrit.com/archives/17256