24 MEI
January 10, 2017
26 MEI
January 10, 2017

Gebeure

1842 – Dick King se epiese tog

Dick King, ’n 29-jarige wadrywer, en sy 16-jarige dienaar, Ndongeni, verlaat Durban op ’n epiese 900 km lange rit vir Grahamstown om versterkings vir die Britse garnisoen, wat onder beleg deur Voortrekkers in Durban was, te kry.

1857 – Poging om Boererepublieke te verenig

In ’n poging om die twee Boererepublieke te verenig, konfronteer die kommando’s van die Vrystaat en die ZAR mekaar by die Renosterrivier, maar ’n gewapende botsing word deur bemiddeling van Paul Kruger en ander afgewend.

1866 – Gedig verskyn in De Vriend

’n Gedig van 13 verse in feitlik suiwer Afrikaans deur HC van der Berg en PP Hugo verskyn in De Vriend in Bloemfontein.

1874 – Die eerste Dorslandtrekkers verlaat die Transvaal

1900 – Wanhoop pak Boereleiers

Die geslaagde noordwaartse opmars van die Britse magte in die Anglo-Boereoorlog van Bloemfontein na Transvaal het wanhoop en vertwyfeling by sowel regeringslede as offisiere en baie burgers laat ontstaan, selfs by pres. Kruger en genl. Louis Botha. Daarteenoor het pres. MT Steyn en genl. CR de Wet van die Vrystaat en genl. Koos de la Rey en staatsekretaris Reitz in Transvaal onwrikbaar in die Vryheidstryd gebly. 
Op 25 Mei het ’n twyfelmoedige genl. Botha by pres. Kruger op die byeenroeping van die twee Transvaalse Volksrade aangedring. Ses dae later, op 31 Mei, toe die Britse magte Johannesburg binnegaan, het die wanhoop die Transvaalse leiers opnuut beetgepak. Kruger het voortdurend met Steyn in verbinding gebly en hom meegedeel dat die Transvaalse offisiere voorwaardelik vrede wil sluit. Steyn het egter op die voortsetting van die stryd aangedring, en dat die oorlog eers op 31 Mei 1902 en nie op 31 Mei 1900 beëindig is nie, was aan Steyn te danke. 

1900 – Anglo-Boereoorlog: Gevegte by Lindley wat tot 31 Mei sou duur

1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Mooifontein, Bethal/Standerton

1985 – Ere-boomstomp ingewy

Die 32-Bataljon van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) wy op ‘n parade op Buffalo amptelik die ere-boomstomp in ter nagedagtenis aan al die gesneuwelde soldate van die eenheid.

2012 – Suid-Afrika word gekies vir die grootste gedeelte van die SKA-radioteleskoopprojek.

 

Geboortes

1893 – Sir Christopher Joseph Quinton Brand, lugvaartpionier wat die eerste vlug van Londen na Kaapstad saam met sir Pierre van Ryneveld voltooi het († 7 Maart 1968)

1924 – Dr. Carel de Wet, kleinseun van generaal C.R. de Wet en Minister van Mynwese en Beplanning (* 22 Mei 2004)

 

Sterftes

1866 – Johan Arnold Smellekamp, Vrystaatse parlementslid en landdros in Bloemfontein (* 16 Januarie 1812)

Deur sy optrede het die Amsterdamse handelspionier Johan Arnold Smellekamp die eerste belangstelling vir die stamverwante Voortrekkers in Nederland laat ontstaan. Reeds in 1841 het hy in diens van ’n Amsterdamse handelshuis na Port Natal gevaar om handelsbetrekkinge met die Natalse Voortrekkers aan te knoop. Hy is hartlik ontvang, juis op ’n kritieke tydstip toe die Emigrante-Boere bedreig is deur ’n moontlike Britse besetting. Daardeur is hy ook in die politiek betrek, en ’n brief is aan hom oorhandig met die besluit van die Volksraad dat Natal as koloniale besitting aan Willem II van die Nederlande aangebied sou word ingeval Engeland weer sy “ysere-septer” oor Natal sou swaai. In 1854 het hy hom permanent in Suid-Afrika gevestig op ’n tydstip toe die jong Boererepublieke moeilike groeipyne beleef het. Weens sy opvlieënde temperament het hy egter oral vyande gemaak, en hy is weens ’n kerklike twis uit die ZAR verban. In Oktober 1854 is hy as landdros in Bloemfontein aangestel. Die laaste drie jaar van sy lewe het hy nuttige diens as Volksraadslid gelewer in ’n jong republiek waar ’n groot behoefte aan meer geleerde persone was. Hy is op 25 Mei 1866 oorlede.

1904 – Jan Willem Gerbrand van Oordt, redakteur van “Het Volksblad” en argivaris van die ZAR (* 15 Januarie 1826)

Jan Willem Gerbrand van Oordt het as onderwyser, redakteur van die invloedryke koerant, Het Volksblad, skrywer van geskiedkundige werke, as joernalis en as argivaris van die ZAR, diep spore in die kultuurlewe van Suid-Afrika getrap.

1926 – Jacob Lub, ’n Suid-Afrikaanse onderwyser, lektor en skrywer (* 1868)

Jacob Lub wat op Mei 1868 in Friesland gebore is en daar sy opleiding as onderwyser ontvang het, kom in Oktober 1892 na die Transvaal. Hy gee in Pretoria en elders onderwys. Tydens die Anglo-Boereoorlog sluit hy by die Rooi Kruis aan. Na die vredesluiting wend hy hom weer eens na die onderwys. Hy word later ook dosent aan die Normaalskool in Johannesburg en in 1912 skoolinspekteur vir die Witwatersrand. Hy is ook skrywer. Sy werke handel oor die ontwortelde Afrikaner wat hy in die agterbuurtes van die Goudstad leer ken het. Hy het ’n fyn oog ontwikkel vir hulle doen en late in die alledaagse lewe asook hulle taalgebruik. Sy sketse is in vyf bundels versamel: Eenvoudige mense (1908, toneel verwerking 1918), Donker Johannesburg (1910, ook in Engels vertaal), In en om die Goudstad (1912), Het zwarte gevaar (1913) en Oom Frikkie en ander sketse (1918). In 1919 verskyn daar ook ’n bundel kinderversies. 

1849 – Sir Benjamin D’Urban, Kaapse goewerneur van 1834-1837 (* 16 Februarie 1777)

1979 – Stephanus le Roux Marais, komponis van Afrikaanse musiek en pionier van die kunslied (* 1 Februarie 1896)

Stephanus le Roux Marais is in die distrik Bloemfontein gebore. Hy studeer aan die SA College of Music in Kaapstad en daarna aan die Royal College of Music, Londen. In die daaropvolgende 32 jaar beklee hy verskillende NG Kerkorrel-poste en ook onderwysposte. In 1945 trou hy met Edith Reinet. Marais is ’n baanbreker op die gebied van die Afrikaanse kunslied. In 1928 is sy Vier Afrikaanse Sangstukke gepubliseer, en in die daaropvolgende vyf jaar het hy 23 diplomas by die Kaapstadse Eisteddfod verower. In ’n tydperk toe die repertorium van Afrikaanse kunsliedere nog skraal was, het Marais se liedere onmiddellik treffers geword, soos “Heimwee” (JRL van Bruggen) (1930). Min gedigte weerspieël ’n komponis se lewensbenadering en gees so volkome soos hierdie gedig:

My hart verlang na die stilte
Van die wye wuiwende veld …

Marais se direkte benadering, verbonde aan sy fyn aanvoeling vir die Afrikaanse taal, die trefkrag van sy melodieë en sy begrip van die vereistes van die menslike stem, het algemene gewildheid vir sy liedere verwerf. Jare gelede, skryf Emol, kritikus van Die Burger, “Heimwee gee my moed vir die toekoms”. In werklikheid het Marais Afrikaans tot sangtaal verhef. Die “Roos”, “Kom dans Klaradyn” en ander liedere bly gedenktekens van sy skeppingsvermoë. Teen 1946 is 56 liedere gepubliseer. Hierdie beskeie, opregte Afrikaner het veel bygedra tot die Afrikaanse kunsliede en het ons opnuut laat luister na ons digkuns en ons geleer om die skoonheid van ons vaderland deur middel van klank te waardeer.

1981 – Dr. Frederik Christiaan Ludolph Bosman, skrywer en redakteur van verskeie geskrifte oor die Afrikaanse toneelbedryf (* 17 Mei 1898)

2010 – Bun Booyens, kultuurhistorikus (* 14 Januarie 1916)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/