24 MAART
November 1, 2016
26 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1647 – Stranding van die Haarlem

Die Haarlem, lid van die VOC se retoervloot op pad terug na Nederland, is die namiddag van 25 Maart 1647 deur ’n tierende suidoostewind tot op die sand by Bloubergstrand gedryf. Hoewel sommige van die bemanningslede op ander skepe oorgelaai is, moes die meerderheid onder gesag van Leendert Janszen aan die Kaap agterbly. Hulle het daarin geslaag om heelwat van die skeepslading en toerusting te red. Spoedig het die skipbreukelinge vir hulle ’n sandfort, genaamd Zandenburgh, opgerig en ’n tuin aangelê waar groente soos kool, pampoene en uie suksesvol gekweek is van saad wat uit die wrak gered is. Nadat die skipbreukelinge in 1648 na Nederland gebring is, het Janszen en Matthijs Proot hulle bekende Remonstrantie opgestel waarin hulle sterk aanbeveel het dat ’n fort opgerig en tuin aangelê word aan die suidpunt van Afrika. So ’n verversingspos sou, volgens hulle, met min onkoste aangelê word. So het die stranding van die Haarlem dan direk bygedra tot die stigting van die Kaapse verversingspos in 1652.

1813 – Burchell kom op Graaff-Reinet aan

Agtien maande nadat William John Burchell die Kaap verlaat het, kom hy op Graaff-Reinet aan. Burchell het van ’n nuwe roete gebruik gemaak; hy het oor Klaarwater (Griekwastad) getrek. Gedurende die reis is groot hoeveelhede plante en diere versamel.

1858 – Die Slag van Koranaberg vind plaas tydens die Oranje-Vrystaat-Basuto-oorlog

1902 – Krygswet afgekondig in Natal

1908 – Stigting van die Oranje-Vrouevereniging

Die stigtingsvergadering van die Oranje-Vrouevereniging (OVV) is op Onze Rust, die plaas van pres. MT Steyn in die distrik Bloemfontein gehou met mev. Steyn as eerste voorsitster. Na die Anglo-Boereoorlog was veral pres. en mev. Steyn bewus van die behoeftes van die Afrikanervolk op sedelike, kulturele en stoflike gebied. Sowel die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging van Kaapland en die destydse Zuid-Afrikaanse Vrouefederasie van Transvaal het toe takke in die Vrystaat begin stig ten einde dienste te lewer. Op sommige dorpe was daar selfs ’n tak van elk van die verenigings. Op 5 Augustus 1907 is ’n vergadering onder voorsitterskap van mev. Steyn gehou waarop besluit is dat die ACVV en die ZAVF hul werksaamhede sal beperk tot hul eie gebiede van oorsprong en dat ’n eie vrouevereniging in die Vrystaat gestig moet word. Op voorstel van pres. Steyn is besluit dat die vereniging die Oranje-Vrouevereniging moet heet. Hierdie vroueliggame het waarlik verheffende en blywende werk met groot opoffering tot heil van die Afrikanerdom op haas elke terrein oor baie jare gelewer.

 

Geboortes

1853 – Ds. Wilhelm Adolph Alheit, predikant in die NG Kerk († 31 Desember 1910)

Wilhelm Adolph Alheit was die seun van ’n Duits-Rynse sendeling wat in 1842 na Suid-Afrika gekom het. Ds. Alheit was predikant op Colesberg, Dordrecht en Ceres. Hy was ’n besonder geliefde predikant en het op baie terreine in die kerklike lewe leiding gegee. In die Anglo-Boereoorlog was hy veldprediker vir die Boeremagte. Hy het in die Sinodale Sendingkommissie gedien en een van die sendingstasies in Masjonaland (Suidoos-Rhodesië) is na hom genoem. Ook op die Algemene Armesorgkommissie het hy ’n leidende rol gespeel, veral met die aanleg van Kakamas. Een van die kleiner nedersettings, wes van Kakamas, is na hom genoem. Terwyl hy met sy gesin op hul geliefde vakansieoord Kleinmond met verlof was, is hy op 31 Desember 1910 deur ’n brander van die rotse geslaan en het hy verdrink. Sy jongste seun, ds. B Alheit, het in 1964 op byna dieselfde plek verongeluk. 

1959 – Fredi Nest, sanger († 3 Julie 2015)

 

Sterftes

1943 – Johannes van der Walt, stoeier en lid van die Ossewabrandwag (* 1 November 1908)

Johannes van der Walt – die groot Afrikanersportheld van die jare dertig – sterf in ’n verlamde toestand in Johannesburg nadat ’n polisiekoeël sy rugmurg deurboor het. Hy was ’n aktiewe lid van die Ossewa-Brandwag en is in Desember 1941 in hegtenis geneem op aanklag dat hy ’n rewolwer sonder ’n lisensie in besit gehad het. ’n Paar dae later het hy uit polisiebewaring ontsnap en op 23 Februarie 1942 is hy by Krugersdorp vasgekeer en raakgeskiet. Sy begrafnis op 28 Maart 1943 in Melville, Johannesburg was ’n volksaamtrek van 50 000 Afrikaners. Sy stoflike oorskot is op die ossewa van Louis Trichardt uit die Groot Trek vervoer. Op sy grafsteen staan treffend geskryf: “Ek het geval op die pad van Suid-Afrika.” Op 10 Oktober 1975 is ’n gedenkplaat by die RAU tot sy nagedagtenis onthul. Hy is op 1 November 1908 op die plaas Witkoppen buite  Johannesburg gebore. Hy verlaat die skool op 15-jarige ouderdom en tree in diens van die Johannesburgse munisipaliteit. ’n Ernstige hartkwaal kniehalter hom, maar met die vasberadenheid en veggees wat so kenmerkend van sy lewe sou wees, pak hy die stryd aan. Hy oorwin nie net sy siekte nie, maar word ’n geesdriftige en geoefende stoeier. In 1934 tree hy as die Gemaskerde Wonder tot die beroep stoeikryt toe en eers na 15 maande ontmasker hy homself. In 1938 word hy swaargewigkampioen van die Britse Ryk. Johannes se prestasies in die stoeikryt het die Afrikaner aangegryp omdat Johannes volksmens was wat hom in alle opsigte met sy volk se strewe en beginsels geïdentifiseer het. 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/