23 MEI
January 10, 2017
25 MEI
January 10, 2017

Gebeure

1836 – Hendrik Potgieter gaan oor die Vaalrivier om die Trichardt- en Van Rensburgtrekke op te spoor

1900 – Anglo-Boereoorlog: Oranje Vrystaat deur Engeland geannekseer en “Orange River Colony” genoem

1900 – Anglo-Boereoorlog: Kol. Baden-Powell beset Zeerust

1904 – Paul Kruger vestig in ’n villa in Clarens aan die meer van Genève

1910 – Sir Leander Starr Jameson, leier van die Progressiewe Party in Suid-Afrika, kondig sy formele teenkanting aan die Suid-Afrikaanse Unioniste Party aan

1917 – Die Saamwerkunie gestig

Onder leiding van adv. EG Jansen is die “Saamwerk-Unie van Natalse vereniging” in die Gedenksaal van die NG Kerk in Pietermaritzburg gestig. Soos die naam aandui, was dit die doel om die verskillende vereniginge onder Afrikaners in Natal te verenig om sodoende Afrikaners in die provinsie tot hegte en eendragtige optrede aan te spoor. Dit was bo alle twyfel een van die belangrikste gebeurtenisse vir die vestiging van Afrikaans as taal en vir die Afrikaner in Natal. Op die eerste bestuursvergadering is dit aan Mev. MM Jansen opgedra om ’n “skema vir Eksamen in Afrikaans” op te stel. Die skema is deur mev. Jansen in September 1917 voorgelê, en so is die eerste eksamen in Afrikaans in Suid-Afrika gebore – ’n eksamen wat vandag nog bestaan. Reeds in die eerste jaar van die eksamen het 406 kandidate daaraan deelgeneem, van wie 316 buite Natal, onder wie name soos CR Swart, LW Hiemstra en Avril Malan voorkom. In 1974 het nie minder nie as 19 729 kandidate aan die taaleksamen van die Saamwerk-Unie deelgeneem, van wie die helfte nie-blankes was. In die bevordering van Afrikaans het hierdie taaleksamens dwarsdeur Suid-Afrika ’n belangrike rol gespeel. Meer nog, die Saamwerk-Unie het deur sy jaarkongresse en verskillende komitees – die historiese kommissie, wedstrydkommissie,  uitleenbiblioteekkommissie, Voortrekkerkommissie, besoekkommmissie, onderwyskommissie – die Afrikaners in Natal bymekaar gehou, geïnspireer om te werk en te stry vir sy eie reg en sy eie erfenis. 

1921 – Eerste Comrades-maraton is vir die eerste keer van Pietermaritzburg na Durban aangebied

1951 – Die eerste deel  (A tot C) van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) verskyn
Dit was ’n gebeurtenis van belang: die eerste vrug van ’n arbeid wat prof. JJ Smith van die Universiteit van Stellenbosch in 1926 aangepak het om die Afrikaanse taalmiddele te versamel en te verklaar as instrument vir die jong, pas erkende taal. Sedertdien het nog vyf dele by die Staatsdrukker in Pretoria verskyn, en is die wankele organisasie van die begin stewig gevestig op Stellenbosch as staatsonderneming onder die vleuels van die Universiteit. Die Woordeboek, gebaseer op optekeninge van die gebruik van Afrikaans, van streektaal tot vaktaal, bied ’n skat van woorde en uitdrukkings na omvang, betekenis en gebruik, bewerk met die hulp van vakman en leek. Elkeen kan materiaal bydra en uit die versameling kundigheid put. Want die WAT is woord- en vraagbaak.

1975 – Die nuwe kampus van die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) word geopen deur die SA staatspresident en kanselier van die universiteit, dr. N Diederichs

 

Geboortes

1870 – Jan Christian Smuts, Boere-generaal, politikus en staatsman, Eerste Minister van Suid-Afrika († 11 September 1950)

Jan Christiaan Smuts is op Boplaas, Riebeeck-Kasteel gebore. Ons het hier die mees omstrede figuur in die Suid-Afrikaanse politiek. ’n Mensegeslag na sy dood bespreek politieke kenners nog sy betekenis in ons geskiedenis. Ongetwyfeld een van die slimste Afrikaners en van die veelsydigste, het hy sy bynaam Slim Jannie egter nie soseer aan sy intellektuele bekwaamheid te danke nie, as aan sy aangepaste politiek.

Sy lewe is verdeelbaar in twee gelyke, indien geheel uiteenlopende dele: die eerste 40 jaar tussen 1870 en 1910 as Afrikaner-patriot sonder weerga, raadgewer en vertroueling van pres. Paul Kruger, Boeregeneraal van vermaardheid, medestigter van die eerste Afrikaanse politieke party in Transvaal en argitek van die Unie van Suid-Afrika.

In die tweede deel, tussen 1910 en 1950 as onderdrukker van die Rebellie van sy eie mense en die opstand by die myne, as vername deelnemer aan die wêreldpolitiek; eers as lid van die Britse Oorlogskabinet, as Britse generaal en afgevaardigde na die Paryse Vredeskonferensie, toe as medestigter van die Britse Gemenebes, later as veldmaarskalk en raadgewer van die Geallieerdes in die Tweede Wêreldoorlog en eindelik as mede-oprigter van die Volkebond en in laaste instansie die Verenigde Volke-organisasie.

Jan Smuts se grootste tekortkoming uit die eie standpunt was nie ’n gebrek aan liefde vir die Afrikaner nie, maar vervreemding van sy strewe. Hoewel hy enduit Afrikaans in sy huis gehandhaaf het, het hy weinig belangstelling vir die taal of kultuur van die Afrikaner geopenbaar. Die volksvervreemding het op die ou end in 1948 sy politieke ondergang bewerkstellig en hom in sy laaste dae groot ontnugtering en selfs verbittering op die hals gehaal.

Die hoë onderskeiding wat hy oorsee in meer as twee mensegeslagte geniet en die roem wat hy veral in oorlogstyd verwerf het, het nie vir die laaste leegheid vergoed nie. Daar word dikwels beweer dat Smuts se talente te groot vir sy eie klein landjie was. Stellig was die buitelandse erkenning en aanwending daarvan verantwoordelik vir sy opsyskuiwing van Suid-Afrikaanse probleme.

Sy kritici meen dat sy bydrae tot die oplossing van Suid-Afrika se vraagstukke, ook dié van die verskillende rasse, na verhouding klein was. Tog het sy liefde vir die Suid-Afrikaanse nasie en bodem tot aan sy dood op 12 September 1950 sy innigste besieling gebly. 

1933 – Cecile Cilliers, Suid-Afrikaanse joernalis en skryfster († 16 Junie 2018)

 

Sterftes

1956 – Frederik (Frits) Joubert Duquesne, baasspioen (* 21 September 1877)

Frederik (Frits) Joubert Duquesne is omstreeks 1878 in Pondoland gebore. Hy het in Europa opleiding as ’n militêre ingenieur ontvang. Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, het hy na Suid-Afrika teruggekom en teen die Engelse geveg. Hy is naby Kaapstad gevang en na die krygsgevangenekamp in Bermuda gestuur. Hy het egter daarin geslaag om te ontsnap en het na die VSA gevlug.

Duquesne het die Engelse gehaat as gevolg van die wandade wat hulle tydens die oorlog teenoor sy familie gepleeg het. Daarom het hy gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) vir die Duitsers gespioeneer en het verskeie Britse skepe in Suid-Amerikaanse hawens opgeblaas. Gevolglik het die Engelse hom beskuldig van moord, maar hulle kon hom nooit vang nie.

Volgens Duquesne was hy ook vir die dood van lord HH Kitchener, die Britse opperbevelhebber wat die verskroeideaardebeleid in Suid-Afrika toegepas het, verantwoordelik. In 1916 moes Kitchener op ’n geheime sending na Rusland gaan en Duquesne het hom as die Russiese graaf Boris Zakrevsky voorgedoen en Kitchener op die skip, Hamsphire, vergesel. Duquesne was heeltyd in verbinding met  Duitse duikbote en die Hampshire is in die Noordsee deur die duikbote gekelder en Kitchener het verdrink. Duquesne was een van ongeveer 200 bemanningslede wat die aanval oorleef het en hy is volgens sy eie verklaring deur ’n duikboot opgepik. Volgens die amptelike Britse verklaring het die Hampshire gesink nadat dit teen ’n seemyn gebots het.

In 1942, tydens die Tweede Wêreldoorlog, is hy in die Verenigde State skuldig bevind aan spioenasie vir Duitsland en tot agtien jaar gevangenisstraf gevonnis. In 1954 is hy op grond van goeie gedrag vrygelaat en op 24 Mei 1956 het hierdie merkwaardige man in New York gesterf.

1992 – Hester Heese, skrywer (* 26 Oktober 1911)

Hester Heese was ’n bekroonde skrywer van kinder- en jeuglektuur.

1995 – Prof. dr. Petrus Johannes (PJ) Nienaber, skrywer en letterkundige (* 1 Oktober 1910)

Petrus Johannes Nienaber is in die distrik Fauresmith gebore. Sy bydraes lê wyd … versamelaar van twee volledige stelle Afrikaanse boeke, eredoktor, professor, ereprofessor, voorsitter van die SA Akademie, stigter en kurator van die RGN se Dokumentasiesentrum, stigter en direkteur van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum Musiek en Toneel (NALN), skrywer en samesteller van meer as 500 boeke en duisende artikels. As redakteur van die FAK se Handhaaf-en-Boureeks in die dertiger- en veertigerjare, het hy ’n belangrike bydrae tot die vestiging van die Afrikaanse vaktaal gelewer met die verskyning onder meer van die lyste Motorterme, Kookterme, Krieketterme, Skyfskietterme en Skoenmakersterme. Maar bowenal sal hy onthou word as die man wat sy lewe daaraan gewy het om die kosbaarhede van die Afrikaanse letterkunde te red, die waarde daarvan te laat deurdring en dit vir die toekoms te bewaar. Binne ses jaar van 1970 was hy verantwoordelik vir die oprigting van twee onontbeerlike bewaarplekke. Onderwyl hy hoogleraar in ou Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van die  Witwatersrand was, is hy na die RGN gesekondeer waar hy die omvangryke Dokumentasiesentrum vir Taal en Letterkunde gevestig het. Hierna het hy die grootse NALN in Bloemfontein begin terwyl hy nog kurator van die Dokumentasiesentrum was. In die jaar 1979 is twee spesiale toekennings aan hom gedoen, een deur die FAK  vir sy volgehoue bevordering van  Afrikaans en die ander deur die Federasie van Rapportryerskorpse vir die sistematisering en bewaring van Afrikaanse letterkundige werke.

2011 – Erns Louis Jansen, appèlregter (* 27 Junie 1918)

2017 – Piet Byleveld, bekende speurder (* 1950)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/