23 JANUARIE
January 23, 2016
25 JANUARIE
January 25, 2016

Gebeure

1878 – Kabelkommunikasie tussen Engeland en die Kaap gevestig

In 1873 word die eerste telegraaflyn in Natal geopen en op 24 Januarie 1878 is daar vir die eerste keer kommunikasie tussen Engeland en Kaapstad gevestig. ’n Jaar later is kommunikasie met Delagoabaai gevestig. ’n Seekabel vanaf Durban verbind die stad met Zanzibar en Aden, en sodoende word kommunikasie met elke kwart van die wêreld vergemaklik.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Spioenkop

Genl. Buller van die Britse Natalse magte moes die “Black Week” van Desember 1899, toe Britse soldate op verskeie plekke deur die Boere militêr verneder is, uitwis. Sy plan was om weer eens te probeer om Ladysmith te ontset. Om sy roete hierheen te beveilig, wou hy eers Spioenkop in die Tabanyama-bergreeks suidwes van Ladysmith beset. Op 23 Januarie 1900 slaag die Britte skitterend in die nag hiermee. Genl. Louis Botha het egter dadelik op herowering besluit. Die leier was kmdt. Hendrik Prinsloo van Carolina, bygestaan deur kmdt. Rooi Daniël Opperman van Pretoria. Ligdag van 24 Januarie 1900 was die Boere op die kruin en is daar met geweerkolf en gevelde bajonet geveg. Naderhand het 600 Boere teen 3000 Britte geveg. Vroegoggend het albei partye besluit om te vertrek, maar die Boereleiers het hulle manne kruin toe teruggedryf en die Vierkleur gehys. Aan Britse kant het meer as 1000 en aan Boerekant 60 man op die kop gesneuwel. Rondom Spioenkop is vir nog ses dae hierna geveg. In 1964 het Staatspresident CR Swart ’n Boeremonument op Spioenkop onthul. Die slagveld is ook andersins as terrein herstel.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Emily Hobhouse doen verslag oor haar bevindings rakende konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog

Emily Hobhouse, ’n Engelse filantroop en maatskaplike werker wat gedurende die Anglo-Boereoorlog die Transvaalse en Oranje-Vrystaatse republieke besoek het, het aan die Britse regering gesê dat sy 2000 vroue en kinders in skokkende omstandighede in die Britse konsentrasiekamp in Bloemfontein gevind het. Die Britse regering was onsimpatiek vir die lot van die gevangenes en die haglike omstandighede het voortgeduur. Na raming het meer as 27 000 mense in wit kampe en meer as 18 000 inwoners van swart kampe tydens die oorlog in ballingskap gesterf.

1902 – Anglo-Boereoorlog

Nadat genl. Beyers en sy kommando die vorige dag die Pietersburg-konsentrasiekamp ingeneem het, het hul op hierdie dag na die dorp (Pietersburg) vertrek. Die Britse garnisoen daar was egter gereed en het vir hulle gewag. Generaal Beyers se aanval op die Britse pos was egter tevergeefs en hy was gedwing om te onttrek.

1959 – Afrikaanse taalfeeste

Op hierdie dag het ’n uniale konferensie van die FAK in Johannesburg waar 150 mense teenwoordig was, die reëlings vir die landwye viering van Afrikaanse Taalfeeste beklink. Die Uitvoerende Komitee het op 31 Julie 1958 ’n dringende voorstel bespreek: “Dr. MS du Buisson (sekretaris van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns) versoek dat die FAK in 1959 Taalfeeste reël, in aansluiting by die feesvieringe, ter herdenking van die vyftigjarige bestaan van die SA Akademie.” Die saak is op 2 Oktober 1958 by die FAK-kongres weer te berde gebring en die dagbestuur van die FAK het volmag ontvang om die feesreëlings te tref. ’n Reëlingskomitee met onderkomitees is gestig; programraamwerke is opgestel en omsendbriewe is landwyd uitgestuur. Op ’n vergadering op 27 November 1958 is mnr. CD Fuchs se voorstel vir ’n feestema – Die Wonder van Afrikaans – aanvaar. Dit het gou geblyk dat die fees – van 6 April tot 30 Mei 1959 – (31 Mei was ’n Sondag) – die hele volk aangryp. Die aanvangsfees was op 6 April in Kaapstad, asook by die Van Riebeeckskool by Thomson’s Falls in Kenia en feesvieringe het hiervandaan noord- en suidwaarts feitlik van dorp tot dorp plaasgevind tot by die hoogtepunt op 30 Mei by die Voortrekkermonument in Pretoria. In die Kaapstadse stadsaal het prof. HB Thom, voorsitter van die FAK, die feesvieringe ingelui met ’n huldiging aan dr. DF Malan wat kort tevore op 7 Februarie 1959 oorlede is. ’n Feesembleem van mnre. HN Tredoux en M Lohkamp is op verskeie wyses versprei. Lapelwapens is op ’n wedstrydgrondslag verkoop en binne vier maande het die bestellings van 10 000 tot 20 000 tot 30 000 en uiteindelik tot 72 000 gestyg. Van die gemonteerde embleme op ’n houtvoetstuk is 1200 versprei. Dit was nie net die Afrikaners wat fees gevier het nie: Engelsmedium en Kleurlingskole het duisende mense na hul vieringe getrek. Langs die feespad het skares van tot 8000 mense op plekke deel aan die vieringe gehad. In Johannesburg het Afrikaanse verpleegsters hul eie Emily Hobhouse-eed in Afrikaans in gebruik geneem. Op Welkom is ’n taalfeesmonument onthul. Op 29 Mei het op die straatplakkate van ’n Engelse koerant gepryk: “Vandag praat ons Afrikaans”, en was die koerant se hoofartikel die eerste keer in Afrikaans. Die Wonder van Afrikaans-fees het ook ver oor die landsgrense gestrek, tot in Holland, Amerika, Wes-Duitsland, Engeland, België, Australië, Swede, Kanada, Portugal, Belgiese Kongo, Egipte, Spanje, Griekeland, Oostenryk, Italië, Switserland en Frankryk. Met Bantoe-taalfeeste het die swartmense hulle welwillendheid teenoor Afrikaans getoon. Die hoogtepunt van die vieringe op 30 Mei in die Amfiteater van die Voortrekkermonument is deur 60 000 bygewoon waar ’n indrukwekkende geleentheidstuk, geskryf deur mnr. Douglas Fuchs, opgevoer is en die Eerste Minister, dr. HF Verwoerd, in sy geleentheidstoespraak na Afrikaans verwys het as “die taal van ons wonderlike toekoms”.   

 

Geboortes

1904 – Petrus Philippus Benjamin (Breytie) Breytenbach, eerste hoofdirekteur van Truk († 2 Maart 1984).

Petrus Philippus Benjamin (Breytie) Breytenbach, die leidende figuur van die Suid-Afrikaanse Toneel, en dus ook van die Afrikaanse Toneel, van die vyftigerjare, is in die distrik Wepener gebore en op Bloemfontein as handelskoolonderwyser opgelei. In 1927 gaan hy na Krugersdorp, waar hy ’n leidende figuur word in die Krugersdorpse Munisipale Vereniging vir Drama en Opera, terwyl hy ook hoof van die plaaslike Tegniese Kollege is. Sy belangstelling in die amateurtoneel, wat daartoe lei dat hy alle toneelverenigings in die land wil saamsnoer, die Afrikaanse en die Engelse, loop uit op die stigting van FATSA (die Federasie vir Amateurtoneelvereniginge in Suid-Afrika) op 14 Desember 1938 op Krugersdorp, en hy word as president daarvan verkies. Met die instelling van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) in 1947, die eerste staatsondersteunde beroepsteater in Suid-Afrika, word mnr. Breytenbach tot voorsitter gekies. In 1952 word hy direkteur. Toe die NTO in 1962 opgaan in die nuwe bedeling van streekrade vir die uitvoerende kunste, word hy die eerste direkteur van TRUK (Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste), ’n posisie wat hy tot en met sy aftrede in 1967 beklee. Hy is in 1951 deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer met die Erepenning vir Toneelbevordering.

 

Sterftes

1921 – Pieter Willem Frederik (Pieter) Wenning, kunstenaar en die vader van die Kaapse Impressionisme (* 9 September 1873)

Pieter Wenning was ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar en die vader van die Kaapse Impressionisme. Hy is in Nederland gebore en was weens gesondheidsredes op jeugdige ouderdom na Suid-Afrika gebring. Hy het eers by J.H. de Bussy se boekhandel gewerk. Hy begin skilder en sy talent kom onder die aandag van DC Boonzaier. Dié oorreed hom om na die Kaap te verhuis. Hy was arm en sy gesondheid swak en het sy skilderye goedkoop verkoop. Sy werk, hoewel onder die invloed van Impressioniste, is as heeltemal oorspronklik beskou. Hy is in Pretoria oorlede.

1921 – Dirk Balfoort, komponis en weldoener vir kultuurlewe (*1 Januarie 1858)

Dirk Balfoort was ’n Nederlander wat in 1890 in Pretoria, Suid-Afrika aangekom het. Hy word regisseur en later direkteur van die rederykerskamer Onze Taal. Hy was ook ’n komponis en direkteur van die Hollandsche Mannekoor, vir wie hy ’n sangstuk, getitel Liever dood dan onderworpen gekomponeer het. Hy het ’n besondere bydrae tot die kultuurlewe van Pretoria in die negentigerjare van die 19de eeu gelewer.

1979 – Johannes (Jan) de Klerk, politikus, onderwyser en vader van FW de Klerk (* 22 Julie 1903).

Johannes de Klerk is op hierdie dag op Burgersdorp in die Kaapprovinsie gebore. Sy laerskoolopleiding ontvang hy op Aliwal-Noord waar hy op sy eerste skooldag reeds ‘n pak slae op die lyf geloop het omdat hy Afrikaans op die skoolterrein gepraat het. Hy het hom op Potchefstroom as onderwyser bekwaam en was van 1927 tot 1945 aan die onderwys verbonde, onder meer as hoof van ‘n Afrikaanse hoërskool in Primrose naby Germiston. Van 1945 wy hy hom heeltyds aan die politiek as hoofsekretaris van die Nasionale Party, LPR en LUK in die Provinsiale Raad van Transvaal. Sy belangstelling in die politiek is deels te danke aan adv. JG Strijdom wat in 1930 met mej. Susanna de Kerk, die suster van sen. Jan de Klerk getroud is. In 1954 word hy Senator en Minister van Arbeid en Openbare Werke, later Minister van Binnelandse Sake, en daarna Minister van Onderwys, Kuns en Wetenskap. Hy word op 6 Junie 1969 President van die Senaat, in welke amp hy in Oktober 1971 as Staatspresident waargeneem het tydens pres Fouché se staatsbesoek aan Iran. As lid van die Uitvoerende Komitee van die Transvaalse Provinsiale Raad en as Minister van Onderwys het hy ‘n leidende rol gespeel in onderwysbeplanning en -wetgewing. Die totstandkoming van die Nasionale Onderwysbeleid kan beskou word as sy belangrikste doel as Minister. Eredoktersgrade is deur die Universiteite van Potchefstroom (1960) en Port Elizabeth (1975) aan hom toegeken. Hy het ook die Dekorasie vir Voortreflike Diens in 1974 van die Staatspresident ontvang en was trouens maar die sede persoon wat hierdie hoë toekenning ontvang het. Na ‘n termyn van agt jaar as President van die Senaat het hy in 1975 uitgetree en hom op Krugersdorp gevestig  Hy is op 24 Januarie 1979 oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki