22 SEPTEMBER
September 22, 2015
24 SEPTEMBER
September 23, 2015

1869: Generaal C.F. Beyers gebore

Christiaan Frederik Beyers is op hierdie dag op Banhoek, Stellenbosch, gebore en het ook skool- en tersiêre onderrig op Stellenbosch ondergaan voordat hy met sy eie prokureurspraktyk op Boksburg begin het. As kryger in die Tweede Vryheidsoorlog van 1899 tot 1902 trek hy met sy onverskrokkenheid en kragtige persoonlikheid gou die aandag van kmdt-genl Louis Botha en word hy op 3 September 1900 as assistent-generaal in die distrikte Waterberg en Soutpansberg aangestel.  Hy onderskei hom in die querrilla-taktiek. Op 15 April 1902 word hy met die oog op vredesamesprekinge na Vereeniging ontbied, Beyers word tot voorsitter van die vergadering van Boere-afgevaardiges verkies. Ná die oorlog keer hy terug na sy regspraktyk, dié keer in Pretoria. Hy word lid van die hoofkomitee van die Het Volk-party. maar neem standpunt in teen genl Botha en Smuts se versoeningsbeleid. Genl Botha neem hom nie in sy Transvaalse kabinet op nie maar hy word tot Speaker van die Wetgewende Vergadering verkies. Met Uniewording is hy weer Volksraadslid, en bly hy dit tot 1 Julie 1912 toe hy die eerste kommandant-generaal van die pas gestigte Unie-Verdedigingsmag word. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 is generaal Beyers gekant teen die regeringsbesluit om op versoek van die Britse regering Duits-Suidwes-Afrika binne te val, en dit lei tot sy bedanking as kommandant-generaal op 15 September 1914. Hy het self op 9 Oktober daadwerklik begin rebelleer, hoewel hy vroeër in noue voeling met die rebelle was – hy het generaal Koos de la Rey vergesel op die rit waarop genl De la Rey in Langlaagte, Johannesburg, deur die polisie doodgeskiet is. Beyers se rebellemag het verskeie terugslae ervaar, en in ‘n omsingelingsaksie deur die regeringsmagte by die Vaalrivier in die distrik Makwassie was gevangeneming onafwendbaar. Hy en een van sy manne, Jan Pieterse, probeer op 8 Desember 1914 deur die rivier vlug. Jan Pieterse, ‘n Vrystater van Bothaville, het verdrink, waarna die generaal na die Vrystaatse kant teruggeswem het.  Nadat ds. Boshoff namens die rebelle die teken van oorgawe aangedui het, het die skietery opgehou. Tog, toe generaal Beyers uit die water wou klim, het daar onverwags nog ‘n skoot geval en hy het plotseling weggesink om nie weer lewend te verskyn nie. Hy is egter klaarblyklik nie raakgeskiet nie, want na ’n lykskouing het dr. Grunberger verklaar dat die generaal nie getref was nie. Sy lyk is eers twee dae na sy verdwyning onder die vloedwaters van die Vaalrivier gevind… en uit sy bandelier het nie ’n enkele patroon ontbreek nie, omdat hy dit nie kon regkry om op sy volksgenote te skiet nie. Generaal C.F. Beyers was ‘n opregte Christen na wie die volk opgesien het, veral in 1914. Hulle het gewag om te sien wat hy gaan doen en hom dan gevolg.

1972: Professor Rob Antonissen oorlede

Robert Karel Jozef Emiel Antonissen is op 23 Mei 1919 in Antwerpen gebore. Hierdie Vlaming van geboorte promoveer in 1942 aan die Universiteit van Leuven. Terwyl hy nog in België woonagtig is, skryf hy die belangrike Afrikaanse literatuurgeskiedenis Schets van den ontwikkelingsgang der Zuid-Afrikaansche Letterkunde (1946), wat hy – nadat hy hom in 1950 as dosent en later as professor in Afrikaans-Nederlands op Grahamstad gevestig het – herskryf en uitgee onder die die titel Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede (derde uitgawe 1965, tweede druk 1973). Hierdie nugtere en skerpsinnige kritikus en kenner van die Afrikaanse letterkunde se belangrikste studies verskyn in die bundels Kern en tooi (1936) en Spitsberaad (1966). Die Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap en Letterkundige kritiek word in 1973 postuum aan hom toegeken.