22 MAART
November 1, 2016
24 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1881 – Eerste Vryheidsoorlog: Vrede in Pretoria afgekondig

1962 – Oranjerivierwaterskema aangekondig

Na Suid-Afrika se uittrede uit die Statebond in Maart 1961, Republiekwording op 31 Mei van dieselfde jaar, en die Sharpeville-terreur in 1962 het Suid-Afrika dit op ekonomiese gebied moeilik gehad. Flouhartiges en kapitaal het die land uitgevlug. Op 23 Maart 1962 kondig die Regering onder die premierskap van dr. HF Verwoerd egter die Oranjevivierskema aan met ’n totale beraamde koste van R450 miljoen, maar wat uiteindelik honderde miljoene meer bedra het. Dit het ’n keerpunt in die ekonomiese insinking gebring en versiende en verreikende vooruitsigte geskep vir veral ’n groot deel van die Republiek se hartland wat hoofsaaklik deur die Afrikaner bewoon en bewerk word. Die skema is aangepak met die oprigting van die Hendrik Verwoerd-dam tussen Colesberg en Bethulie en die Ovis-tonnel wat die dam met die Visrivier in Oos-Kaapland verbind. Mev. Betsie Verwoerd, eggenote van dr. Verwoerd wat in 1966 vermoor is, het die dam in 1972 geopen. Die skema behels ’n tweede dam, die PK le Roux-dam tussen Petrusville en Luckhoff, genoem na min. PMK le Roux, Minister van Landbou-Tegniese Dienste en Waterwese in die eerste Republikeinse kabinet. 

 

Geboortes

1824 – Jan Carel Juta, vader van die uitgewerswese in Suid-Afrika († 8 April 1886)

1887 – Dr. William Nicol, predikant, teoloog, opvoedkundige en goewerneur van die Transvaal († 22 Junie 1967)

William Nicol is op Robertson gebore. ’n Man wat as prediker, teoloog, kultuurmens, opvoedkundige en staatsman ’n groot rol in die ontwikkeling van die Afrikaner gespeel het. In 1906 het hy sy BA-graad op Stellenbosch verwerf en daarna aan die Vrije Universiteit van Amsterdam en Princeton gestudeer. Vanaf 1913 tot 1938 was hy predikant van die NG Gemeente Johannesburg-Oos (Irene kerk) en daarna Pretoria-Oos. Hy was Moderator van die NG Sinode van Transvaal, 1934 tot 1948. In Johannesburg was hy ’n voorvegter vir die erkenning van die Afrikaanse taal en vir die stigting van Afrikaansmediumskole. As boeiende spreker en fyn kultuurmens het hy die Afrikaner in die stad geïnspireer en gehelp om sy minderwaardigheidsgevoel teenoor die Engelse stadskultuur te oorwin. In 1948 het hy Administrateur van Transvaal geword en vir tien jaar sy reuse werk veral ten opsigte van opvoeding en kultuur voortgesit. Hy is op 22 Junie 1967 oorlede.

1887 – Casparus de Wet, gereformeerde predikant, hoogleraar in teologie aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO en skrywer († 18 Oktober 1959).

 

Sterftes

1977 – Hendrik Josephus  (Hennie) Terblanche, samesteller van agt woordeboeke en drie grammatikaboeke (* 4 Desember 1917)

Vir die jonger geslag sal hierdie nie so ’n bekende naam wees nie; dit is egter die naam van ’n man aan wie elke Afrikanernageslag wat nog hoegenaamd trots op sy taal is, eer kan bring vir die baanbrekerswerk op Afrikaanse vaktaalgebied. Hy was die skrywer van agt woordeboeke, drie taalboeke en duisende artikels. Hy was ’n ware kultuurleier, onverskrokke, omstrede vegter vir die gelykberegtiging van Afrikaans, die taal waarvoor hy gelewe het. Hendrik Josephus Terblanche is op hierdie dag gebore en het as boerseun in Aberdeen-omgewing grootgeword. Hy het aan die universiteite van Rhodes en Pretoria studeer. Sy werk hang ten nouste saam met die geskiedenis van Afrikaans deur drie dekades. As dosent aan die Universiteit van Natal begin sy roemryke eenmanstryd om die regte van Afrikaans in 1949. Terwyl hy direkteur van die SA Akademie se Vaktaalburo was, lewer hy ongeëwenaarde baanbrekerswerk vir die Afrikaanse vaktaal. Tog loop sy kommer oor die verwaarlosing van sy taal op 26 November 1965 uit op die stigting van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA). Die laaste jare van sy lewe wy dr. Terblanche feitlik heeltyds aan die omvangryke taak van die GHA – sonder enige vergoeding. Op 23 Maart 1977 sterf hy na twee onsuksesvolle breinoperasies. Sy boeiende outobiografie, Jare van storm en drang, het ’n paar maande na sy dood verskyn.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/