22 JULIE
July 22, 2015
’n Ondersoek na die feitelike korrektheid van die geskiedenis-kurrikulum met ’n spesifieke verwysing na die vertolking van Afrikanergeskiedenis
July 23, 2015

Gebeure

1853 – Andries Pretorius se seun volg hom op

Die Voortrekkerleier, Andries Pretorius, sterf en sy seun, Marthinus Wessel Pretorius, volg hom op as Kommandant-Generaal van die distrikte Potchefstroom en Rustenburg.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Retiefsnek, Slabbertsnek, Witnek, Nelspoort en Moolmanshoek, OVS; Boschpoortdrif, (Wilgerivier); Kosterrivier, ZAR

1907 – In Kaapstad aanvaar die Volksraad die voorstel dat Kaapland, Natal, en die twee voormalige Boererepublieke, verenig word

 

Geboortes

1885 – Johannes Frederikus van Wyk († 27 September 1973)

Johannes Frederikus van Wyk is op die plaas Leeuwfontein, in die distrik Wolmaransstad, gebore en ontvang sy skoolopleiding daar. Op 14-jarige ouderdom lê hy sy eindeksamen af en in dieselfde jaar (1899) breek die ABO uit. As 15-jarige penkop sluit hy hom by die Boeremagte aan, neem aan minstens agt veldslae deel, word ’n maand voor die vredesluiting by Roodewal gevang en na Indië gestuur, waar hy sy naskoolse studie voortsit. Na sy terugkeer in 1903 sit hy sy studies veral in Engels en Geskiedenis voort en bekwaam hom as onderwyser aan die Pretoriase Normaalkollege. In 1919 is hy na Arusha, in Oos-Afrika, as die eerste Afrikaanssprekende onderwyser, wie se ywer vir die sosio-kulturele en akademiese opheffing van die Afrikanerkind nooit geëwenaar is nie. Meer as 15 jaar gee hy gratis onderwys en bou hy skole – dikwels in ongunstige en vernederende omstandighede. Later was hy in diens van die grondboontjie maatskappy in Tanzanië, en daarna het hy verskeie goudkonsessies gehou. In 1963 het hy en sy eggenote, agterkleinkind van Louis Trichardt, na Suid-Afrika teruggekeer. Sy herinneringe aan die ABO is gepubliseer in Die Mauser Knal, waarin hy ’n lewendige voorstelling gee van die kommandolewe en krygsgevangeneskap. 

1868 – Hugo Pieter Naudé, skilder († 5 April 1914)

Pieter Hugo Naudé is in die distrik Worcester, Kaapland, gebore. Hy studeer kuns in Londen, München en Fontainebleau en ook in Italië. Vanaf 1896 reis en skilder hy deur Suid-Afrika, waarna hy hom in Worcester vestig. Na verdere reise trou hy in 1915 en rig dan finaal sy bekende ateljee op Worcester in. Hy het vroeg reeds erkenning vir sy portrette, effens romantiese landskappe en fyn tekeninge ontvang en was een van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars. Hy het hom van die destydse sektetaal en gebruike van die kuns bevry en het van die akademiese tot ’n individueel-, vrye skilder- en tekenstyl ontwikkel. Met sy vryer gebruik van kleur en kwistige verfaanwending, het Naudé se werk later as ’n soort impressionisme ontwikkel. Sy geliefkoosde landskappe was blombestrooide valleie tussen berge, in ‘n atmosfeer van voortdurende lente of somer. Sy huis op Worcester het bewaar gebly as die Hugo Naudé-Kunssentrum. Sy werke word in die meeste openbare kunsversamelings in Suid-Afrika gevind. Hy is op 5 April 1914 op Worcester oorlede.

1922 – Stefans Grové, klassieke komponis († 29 Mei 2014)

Stefans Grové was ’n klassieke komponis. Hy word deur baie as een van Afrika se grootste komponiste beskou.

 

Sterftes

1853 – Andries Wilhelmus Jacobus (Andries) Pretorius, Voortrekkerleier en held van Slag van Bloedrivier (* 27 November 1798)

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius, groot Voortrekkerleier, is op die plaas Driekoppen, distrik Graaff-Reinet gebore. As Oosgrensboer speel hy ’n belangrike rol in die gebeurtenisvolle jare voor die Groot Trek. Gedurende die Sesde Oosgrensoorlog (1834–1835) voer hy ’n kommando van 800 burgers aan. Toe die eerste Voortrekkers in 1836 uit Graaff-Reinet vertrek, gaan hy nie saam nie, maar besoek in 1837 die Voortrekkers in die Vrystaat en Natal en koop selfs ’n plaas in Natal. Daarom is hy die vanselfsprekende keuse om na Pieter Retief se dood, leier van die herderlose Voortrekkers te word. Op 22 November 1838 sluit hy hom by die hooflaer, aan die Klein-Tugela aan en begin hom dadelik voorberei vir die stryd teen Dingaan. As hoofkommandant van die strafkommando trek hy op 24 November met 470 man en 64 waens uit. Hy dissiplineer die pioniere met takt en deeglikheid en is die stukrag agter die aflegging van die Gelofte deur Sarel Cilliers op Sondag 9 Desember 1838 by Wasbank. Die Gelofte word elke aand hierna herhaal. Op 15 Desember organiseer hy met besondere krygsvernuf ’n laer op die wesoewer van die latere Bloedrivier. Kort na dagbreek op Sondag 16 Desember bars die geveg los toe 10 000 Zoeloekrygers die laer keer op keer aanval. Na twee uur van woeste aanvalle bestorm Pretorius en sy perderuiters die Zoeloe-impies. Twee keer word hulle teruggedryf voordat hulle deurbreek en die Zoeloes op die vlug slaan. Die Slag by Bloedrivier het Dingaan se mag ’n knou toegedien waarvan hy nie maklik sou herstel nie, want 3000 van sy impie het gesneuwel terwyl net drie Voortrekkers, waaronder Pretorius, lig gewond is. Hierna verslaan Pretorius die Zoeloes se mag finaal en annekseer op 14 Februarie 1840 die landstreek tussen die Tugela en Swart-Umfolozi. Hy neem die leiding in die vereniging van die Winburg-Potchefstroom-Pietermaritzburg Voortrekkers in een politieke eenheid. Na die Britse anneksasie van Natal het hy nog vyf jaar lank in Natal volgehou. Totdat die volkerebeleid van die Britse owerheid hom uitgedryf het. Tevergeefs het hy aangedring op territoriale segregasie en gewys op die gevaar wat meegebring word wanneer wit en swart deurmekaar woon. Hy het swaar van Natal afskeid geneem. Voor sy vertrek het sir Harry Smith hom aan die voet van die Drakensberge ontmoet en by hom aangedring om te bly. Hy sou al die griewe uit die weg ruim en het Pretorius persoonlik ’n ruim beloning aangebied. Pretorius het egter by sy besluit gebly: alleen as Natal aan die Voortrekkers teruggegee word, sou hy bly. “Ik nam mij toen volstrek voor om mij nooit onder Britsch gezag te onderwerpen,” skryf hy later. Met hierdie besluit het daar ’n nuwe periode in Pretorius se lewe aangebreek. Toe oorreding nutteloos blyk, het sir Harry Smith die Voortrekkerleier ’n proklamasie getoon waardeur hy die hele gebied deur die Emigrante bewoon, vir Engeland wou annekseer en dat die meeste Emigrante anneksasie begeer. Pretorius was so erg teleurgestel toe hy dit van sir Harry Smith verneem, dat hy hom voorgeneem het om hom op sy plaas aan die Magaliesberg terug te trek en daar stil te gaan woon. Die noodkrete van sy landgenote het hom egter byna onmiddellik weer na die Vrystaat laat terugkeer. By Boomplaats is vir die tweede maal die stryd met wapengeweld ten gunste van Engeland beslis, en as voëlvryverklaarde, met ’n prys van £2 000 op sy hoof, het Pretorius na sy plaas teruggekeer. Ondanks verskille met Andries Hendrik Potgieter, speel Pretorius weer eens ’n leidende rol om ’n sentrale regering noord van die Vaalrivier tot stand te bring. Na Boomplaats het ’n vasbeslote en onwrikbare Pretorius volgens ’n vaste plan te werk gegaan. Hy sou hom nou stap vir stap daarvoor ywer om die onafhanklikheid van die gebiede wat deur die Emigrante bewoon is, erken te kry. In sy strewe om die onafhanklikheid te verkry, is hy egter gedwarsboom deur die gebrek aan eenheid onder die Emigrante. Hy speel egter ’n leidende rol by die totstandkoming van die Verenigde Bond in Transvaal by Derdepoort in 1849. Kort voor die erkenning van die onafhanklikheid en selfs daarna was daar weer gebrek aan eensgesindheid. Deur sy takt en oorredingsvermoë het Pretorius daarin geslaag om dit alles te bowe te kom. Hy was ’n bekwame diplomaat en het geweet hoe om sy tyd af te wag. Toe omstandighede in Engeland sowel as in Suid-Afrika gunstig was vir sy doel, het hy daarvan gebruik gemaak, nieteenstaande teenstand in Transvaal, om die onafhanklikheid te verkry. Toe die Volksraad nie vergader om die nodige opdrag te gee nie, het hy dit van die krygsraad en van die publiek verkry. Eindelik was die Volksraad verplig om saam te werk in ’n saak wat hy nie kon verhoed nie, en hy moes maar die stappe wat Pretorius reeds gedoen het, goedkeur. Die Sandrivier-traktaat was die kroon op sy arbeid. Maar een ding het hom nog leed veroorsaak: sy landgenote wat in die Oranjerivier-Soewereiniteit gewoon het, het nog onder Britse bestuur gestaan en kon dus nie die vryheid van hul bure noord van die Vaalrivier deelagtig word nie. Die erkenning van hul onafhanklikheid het hy egter nie beleef nie, hoewel hy onteenseglik die weg daartoe voorberei het. Hy is op 23 Julie 1853 na ’n swaar lyding oorlede. In 1891 is sy stoflike oorskot in die Ou Kerkhof in Pretoria herbegrawe.

1986 – Prof. Willem Kempen, taalkundige en voorsitter van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (* 3 Julie 1909)

Willem Kempen is op Prieska gebore. Hy was een van die voorste Afrikaanse taalkundiges in Suid-Afrika. Kempen was lank voorsitter van die Taalkommissie van die SA Akademie en ‘n belangrike taalraadgewer by die vertaling van die Bybel in Afrikaans. In 1967 is die Besondere Erepenning vir Afrikaanse Taal- en Letterkunde aan hom toegeken. Hy het in 1970 die Langenhoven-prys vir Taalkunde van die SA Akademie en in 1979 die FAK se Halfeeufees-toekenning vir volgehoue taalbevordering ontvang.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/