22 JANUARIE
January 22, 2016
24 JANUARIE
January 24, 2016

Gebeure

1844 – Burgersdorp ontstaan

Die dorp is aangelê op die plaas Klipfontein wat behoort het aan Gert Buytendach. Die plaas is van Buytendach aangekoop vir 15 000 riksdaalders. Aanvanklik is die naam Maitland vir die dorp oorweeg, dog die man, op daardie stadium goewerneur aan die Kaap, het die eer bedank.

Daarna is besluit op Burgersdorp ter ere van die kommando’s wat aan die 1846-grensoorlog deelgeneem het te vernoem. Die dorp is ook bekend omrede die (“Afrikaanse”) Taalmonument wat in 1893 aldaar opgerig was.

1846 – Nog setlaars kom in Suid-Afrika aan

Die verhaal van die 1820-Setlaars, en hul koms na Suid-Afrika is wel bekend. Gedurende 1846 was daar egter ’n veel groter immigrasieskema van stapel gestuur as wat die geval was in 1820. Op hierdie dag land die eerste groep van 93 setlaars, al die pad vanuit Suid-Amerika. Hul was aan boord die Monte Video, en het anker in Algoabaai gegooi. Die tweede groep het gevolg op 7 Februarie 1846 en het bestaan uit 144 Britse gesinne. Later dieselfde jaar sou nog 19 skepe aankom.

Waarskynlik omrede die pioniersomstandighede waaronder die 1820-Setlaars geland het, word, en is meer aandag aan hul gegee. Tydens laasgenoemde se koms was baie plase onbewoon en gereed vir vestiging. Met die 1820-Setlaars was die situasie geheel en al omgekeerd.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Middelfontein, Olifantsnek, Tvl, wat vir 2 dae sou duur

1957 – Die Nasionale Konserwatiewe Party in Suid-Afrika ontbind

2009 – Jacques Kallis (34) word die eerste Suid-Afrikaanse krieketspeler om 10 000 lopies te haal in eendagwedstryde en die agtste speler internasionaal

 

Geboortes

1847 – Stephanus Petrus Erasmus Trichardt, Boerekryger, kleinseun van Voortrekkerleier Louis Tregardt († Oktober 1907)

Stephanus Petrus Erasmus Trichardt, seun van Carolus Johannes Tregardt (1811 tot 1901) en kleinseun van die Voortrekkerleier Louis Tregardt (1783 tot 1838), het aan feitlik al die ekspedisies teen swartes, aan die Transvaalse Vryheidsoorlog (1880 tot 1881) en die Jameson-inval (1895 tot 1896) in die ZAR deelgeneem. Van kommandant van Middelburg het hy in 1897 tot bevelvoerder van die Staatsartillerie gevorder en dit gemoderniseer en uitgebrei. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog (1899 tot 1902), bevind hy hom aan die Natalse grens en neem daarna onder meer aan die krygsverrigtinge by Dundee, Ladysmith, Brandfort en Donkerhoek deel. Nadat die Staatsartillerie in Oktober 1900 ontbind is, word hy kommandant van ’n gedeelte van die Middelburgse Kommando. Na die vredesluiting ondersoek hy die vestigingsmoontlikhede op Madagaskar, maar vestig hom uiteindelik naby Nakuru, Kenia, waar hy in Oktober 1907 op ’n jagtog oorlede is. Trichardt was ’n bekwame krygsman met ’n groot vaderlandsliefde, wat hom onvermoeid vir die vryheid en onafhanklikheid van sy land laat ywer het. 

1895 – Joseph Jacobus Bosman, bankier en stigter van Volkskas († 29 Junie 1952)

Joseph Jacobs Bosman is op Naauwpoort, distrik Rustenburg, gebore. Teen die einde van die Engelse Oorlog bevind hy hom saam met sy moeder en twee ouer broers in die Potchefstroomse Konsentrasiekamp. Op 19-jarige ouderdom aanvaar die jong Bosman ’n betrekking in Johannesburg, waar hy as assistentboekhouer in ’n handelsonderneming hom binne enkele jare tot rekenmeester opwerk. Later tree hy in diens by ’n rekenmeesters- en ouditeursfirma, waar hy waardevolle ondervinding opgedoen het van maatskappy-administrasie. Terwyl hy in 1921 hier werksaam was, het die idee om ’n eie Afrikaanse bank op te rig, by hom ontstaan. Hierdie gedagte het gaandeweg gestalte gekry, en in 1934 word Volkskas gestig, met JJ Bosman as hoofbestuurder. Hierdie bankgroep het sedertdien gegroei tot ’n reus in die Suid-Afrikaanse volkshuishouding en het dus ’n wesenlike bydrae gelewer tot die uitbouing van Afrikaner-sakebelange. Sy ideale het egter nie met die oprigting van die bank geëindig nie, en in 1936 rig hy Uniewinkels op as ’n eie Suid-Afrikaanse winkelgroep. Hy is op 29 Junie 1952 in Pretoria oorlede. 

1904 – Dr. MWHE (Marie) Luttig, algemene praktisyn; bemaak geld vir die bevordering van Afrikaans († 14 Januarie 1997)

Dr. MWHE (Marie) Luttig (gebore Van Castricum) sien die eerste lewenslig in Apeldoorn, Holland. Haar ouers verhuis na Suid-Afrika en vestig hulle in Heidelberg, Gauteng, waar sy later aan die Hoër Volkskool matrikuleer. Sy word opgelei as algemene praktisyn en praktiseer in Johannesburg en omstreke. Met haar dood op 14 Januarie 1997 bemaak sy ongeveer R13 miljoen in haar testament vir die bevordering van Afrikaans. ’n Toekenning word jaarliks aan die Hugenote Gedenkskool in die Paarl, Wes-Kaap, gedoen om ’n gedenklesing ter ere van haar aan te bied wat op of naby GRA-dag (14 Augustus) gehou word.

 

Sterftes

1773 – Baron Pieter van Reede van Oudtshoorn, goewerneur van die Kaap (* 8 Julie 1714)

Hoewel Van Reede van Oudtshoorn, nadat hy deur die VOC as Goewerneur van die Kaap aangewys is, onderweg na die Kaap ter see gesterf het, was hy voorheen reeds vir ’n tydperk van 25 jaar aan die Kaap as opperkoopman en later sekunde. Hy het in 1741 vir die eerste keer in die Kaap aangeland en ’n stuk grond tussen Laer-Hofstraat en Kloofstraat in Kaapstad gekoop, wat hy Oudtshoorn genoem het. Hy keer in 1766 terug na Nederland as gevolg van sy benoeming tot universele erfgenaam van sy Engelse oud-oom, William Ferdinand Gary, lord Hunsdon. Hy bly vir ses jaar in Nederland tot hy in 1772 weer na die Kaap vertrek om Ryk Tulbagh as Goewerneur op te volg. Hy sterf onderweg op 23 Januarie 1773. Dit word algemeen aanvaar dat die dorp Oudtshoorn na baron Pieter van Reede van Oudtshoorn vernoem is, maar daar bestaan aanduidings dat die eer moontlik ’n kleindogter van hom te beurt geval het.

Wat Pieter van Reede van Oudtshoorn veral beroemd gemaak het, is die gravure van sy begrafnisstoet, waarvan die oorspronklike in die Van Stolk-versameling in Rotterdam gehuisves word. ’n Fotoweergawe van die gravure is deel van die Arthur Elliott-versameling in die Kaapstad Argiefbewaarplek. Van Reede van Oudtshoorn het ’n luisterryke militêre begrafnis gehad en is begrawe onder die plaveisel van die Groote Kerk in Kaapstad. Die stoet was ’n geweldige indrukwekkende optog met talle komponente volgens protokol georden en die gravure daarvan dra ’n besondere beeld en kennis van begrafnisgebruike van daardie tyd oor.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/