22 APRIL
November 1, 2016
24 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1707 – Willem Adriaan van der Stel, goewerneur aan die Kaap, na Nederland teruggeroep

1803 – Jonkheer Gerard Beelaerts van Blokland kom uit Nederland aan in Simonstad as prokureur-generaal

1811 – George gestig

Die Kaapse goewerneur, graaf Caledon, proklameer die nuwe distrik, George. George was aanvanklik deel van die Swellendam distrik. Die eerste erwe is op die 8ste Oktober 1811 verkoop.

1886 – Die Ned. Hervormde Konsulentsgemeente weier om te verenig

Op hierdie dag het die Kerkraad van die Ned. Hervormde Gemeente van die distrik Pretoria onder konsulentskap van ds. GW Smits te Witfontein weer eens en finaal besluit om nie deel te neem aan die kerkvereniging waartoe die Algemene Kerkvergaderings van die Ned. Hervormde en NG Kerke in die ou ZAR besluit het nie. Met hierdie besluit het die gemeente ’n voorbeeld en toevlugsoord geword vir alle Hervormde lidmate wat nie die kerk van hulle vaders wou verlaat om ’n nuwe, verenigde kerk te vorm nie. As wettige voortsetting van die Ned. Hervormde Kerk is die gemeente in daardie dae dikwels die ark van die kerk genoem. In die bekende Kerksaak van Trichardtsfontein het die Hooggeregshof in 1893 bevind dat die kerkvereniging van 1885 ultra vires en dus nietig was. So is die standpunt van die Konsulentsgemeente, by implikasie, volkome geregverdig. 

1901 – Anglo-Boereoorlog: George Grey ontsnap

George Grey, ’n 45-jarige burger tydens die Anglo-Boereoorlog, ontsnap op hierdie dag vanaf die Britse skip, die SS Hawarden. Die SS Hawarden het op hierdie dag in Bombaai (Moembaai), Indië, vasgemeer met 512 Boerekrygsgevangenes aan boord.

1914 –  Die erkenning van Afrikaans in die Kaaplandse Provinsiale Raad

CJ Langenhoven stel in die Kaaplandse Provinsiale Raad voor “dat deze Raad zijn goedkeuring Hecht aan die toenemende handhaving door het Onderwijs Departement van deze Provincie van het gesonde beginsel van onderwijs door medium van de moedertaal der leerlinge, zoals neergelegde in de Onderwijs Ordonnantie, en verder aanbeveelt dat dat beginsel verder uitgebreid worde door het gebruik van het Afrikaans-Hollands als medium op onze lagere scholen tot en met de Vierde Standaard waar het Hollands volgens wet die voertaal is: mits dat geen leesboeken in het Afrikaans geschreven, voorlopig worden  toegelaten tenzij dezelve voorsien zijn van een getuigschrift van goedkeuring door een of meer personen van erkende bevoegdheid, daartoe benoemd door hetzij de Superintendent van Onderwijs, hetsij de Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst: en mits het gebruik van zodanige leesboeken niet toegelaten worde waar het betrokken schoolkomitee erbezwaar tegen heeft.”
Vir die eerste maal in die geskiedenis het Afrikaans amptelike erkenning verkry. Die versigtig bewoorde mosie (slegs boeke was onderhewig aan goedkeuring) is sonder teenstem aanvaar nadat Langenhoven die Koukus van Engelssprekendes toegespreek het. Hy het hulle oortuig dat Afrikaans geen “poverty-stricken patois” was nie en dat dit in belang van elkeen was om sy opvoeding ook in Afrikaans te geniet. Daardeur sal elkeen voordeel trek in sy of haar beroep, persoonlike omgang, politieke bedrywigheid, besigheidsverhoudings, ens. Hy het hulle gewaarsku dat hulle nie ’n wig tussen Afrikaans en Hollands moes probeer indryf nie, omdat almal uit selfverdediging dan sou saamstaan. Voordat hy die mosie ingedien het, het Langenhoven ’n onderhoud gehad met die destydse minister van justisie, Nicolaas de Wet. Dié het hom verseker dat daar ingevolge artikel 137 geen beswaar kon wees nie: toe die Akademie, as hoogste Taalliggaam, gelyke beregtiging aan Hooghollands en Afrikaans verleen het, het hulle die wet reg geïnterpreteer. 

1919 – Opening van Potchefstroomse Onderwyskollege

Die Onderwyskollege Potchefstroom, een van die bekendste Onderwyskolleges in die RSA, is op 23 April 1919 met 131 studente deur die destydse Direkteur van Onderwys in Transvaal, dr. John Adamson, geopen. 

Potchefstroomse Onderwyskollege Hoofgebou

1954 – Die Afrikaans-Duitse Kultuurunie (ADK) gestig

Afrikaans-Duitse Kultuurunie (Afrikaans-Deutsche Kultuurgemeinschaft) is in Pretoria deur ’n groep Afrikaans- en Duitssprekende akademici gestig as opvolger van ’n soortgelyke organisasie wat in die jare dertig ontstaan, maar in die moeilike oorlogsjare (1939 tot 1945) ’n natuurlike dood gesterf het. Dit is ’n landwye organisasie, met takke in al die groter sentra, wat die versterking en bevordering van die kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en die Duitssprekende lande van Wes-Europa deur die enersydse verspreiding van kennis van die lande se kultuur, kuns, wetenskap en letterkunde ten doel het. In Duitsland bestaan eweneens die Deutsh-Sudafrikaansche Geselschaft en ’n aantal vriendskapverenigings (Kreise) in verskillende Duitse stede. Hierdie soort liggame help om die Afrikaner se oog op die Europese vasteland gerig te hou sodat hy nie nog vinniger op die Anglo-Amerikaanse en dus nie-Dietse glybaan voortspoel nie.

 

Geboortes

1874 – Wilhelm Johannes Verwoerd, vader van Hendrik Verwoerd († 28 Augustus 1961)

1919 – Johannes Stephanus (Jan) Marais, finansier en stigter van Trust Bank († 2009)

Johannes Stephanus Marais, bekend as Jan S. Marais was ‘n finansier. Hy is op Fraserburg gebore en ontvang opleiding aan die Universiteit van Stellenbosch. In Januarie 1943 sluit hy aan by die Federale Volksbeleggingsgroep en stig in 1954 die Trust Bank van Afrika.

1928 – Doc Immelman, avontuurverhaalskrywer († 9 Maart 2013)

1940 – Sias Reinecke, sanger en liedjieskrywer (Groep Twee) († 8 Oktober 1982)

 

Sterftes

1729 – Goewerneur Pieter Gijsbert Noodt, goewerneur van Februarie 1727-April 1729 (* 1681)

Pieter Gijsbert Noodt het in 1718 vir die eerste keer die Kaap aangedoen om die fortifikasies van die Kaap te ondersoek en aanbevelings daaroor te doen. Hy spreek skerp kritiek uit oor die vestings aan die Kaap en huldig die mening dat ’n vyand sonder veel moeite die Kasteel en dus die Kaap sou kon oorneem. Hy verduidelik hoe die Kasteel verbeter sou kon word.

Met hierdie verslag het Noodt homself reeds ongewild gemaak by amptenare aan die Kaap. Toe hy in 1727 as goewerneur van die Kaap aangestel is, ervaar hy baie teenkanting. Kort na sy aaankoms is hy onverwags op die vroeë ouderdom van 48 jaar op 23 April 1729 aan hartversaking oorlede. Op dieselfde dag is vier soldate wat gedros het, ter dood veroordeel en tereggestel. Aangesien Noodt ’n ongewilde goewerneur was, het die koloniste hom persoonlik vir die teregstelling verantwoordelik gehou en was hulle verheug oor sy dood.

1757 – Arnoldus Mauritius Meiring, Nederlandse predikant en stamvader van die Meirings in Suid-Afrika (* 1695)

1959 – Dr. Colin Steyn, regsgeleerde, kabinetsminister en laaste Vrystaatse Volksraadslid van die Verenigde Party (* 27 November 1887)

Dr. Colin Steyn was ’n politikus, kabinetsminister en regsgeleerde.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/