21 SEPTEMBER
September 21, 2015
23 SEPTEMBER
September 23, 2015

Gebeure

1849 – Stigting van die dorp Lydenburg

1899 – Anglo-Boereoorlog: Die ZAR neem die beheer oor die spoorlyne en werkwinkels van die Nederlandsche Suid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappij (NZASM).

1902 – Krygswet in die Kaapkolonie word herroep

1941 – Voorbrand Tabakmaatskappy word deur Anton Rupert gestig

Die oprigting van die Voorbrand Tabakmaatskappy (Edms) Bpk, was ’n gebeurtenis wat die Afrikaners verheug het. Hulle eerste fabriek is in Johannesburg in Commissionerstraat 200, opgerig. Voorbrand Tabakmaatskappy was die voorloper van die Rembrandt Tabakmaatskappy wat later wêreldwyd bekend geword het. In ’n artikel wat die oprigting van die fabriek bekend gestel het, is onder meer geskryf: “Hierdie maatskappy funksioneer met Afrikaanse kapitaal, staan onder Afrikaanse bestuur en maak gebruik van Afrikaanse arbeid.” Dr. Anton Rupert het aan die hoof van die onderneming gestaan. Produkname het die Afrikaanse aard van die maatskappy beklemtoon. Patriot, Landdros, Brandwag, Oom Kaspaas, Drosdy, ens. Interessant is die verduideliking wat gegee is oor die oorsprong van die naam van die maatskappy se eersteling-produk, Patriot-tabak. Dit roep in herinnering die spreekbuis van die GRA, Die Patriot, wat meegebring het dat die Genootskappers as Paterjotte bekend geword het. Hierdie skeldnaam het later ’n erenaam geword en in die lig daarvan is die eersteling-produk van die Voorbrand Tabakmaatskappy PATRIOT genoem. Vier soorte is in die mark geplaas: geel (lig); blou (middel); rooi (middel-swaar); en groen (swaar) sodat ’n verskeidenheid smake bevredig kon word.

 

Geboortes

1816 – Johan Izak Jacobus Fick, kommandant-generaal in die Basoetoe-oorloë († 22 September 1892)

Op 22 September 1816 is Johan Izak Jacobus Fick in die distrik Grahamstad gebore. Op agttienjarige leeftyd het hy aan die Sesde Grensoorlog deelgeneem. Einde 1839 het hy die Kaapkolonie verlaat en na Natal getrek. Hy het hom later in die Caledonriviervallei gevestig. Fick het geveg in die Slag van Boomplaats en het later kommandant in die Oranjerivier- Soewereiniteit geword. Met die uitbreek van die tweede Basoeto-oorlog in 1865 is Fick tot kommandant-generaal verkies. Hy was in bevel van die bestorming van Thaba Bosigo, waar Louw Wepener gesneuwel het. Met die Vrede van Thaba Bosigo, wat in April 1866 gesluit is, het Mosjesj die gebied wes van die Caledonrivier as Vrystaatse grondgebied erken. Die volgende jaar is ‘n dorp in dié gebied aangelê met die doel om die Vrystaat teen Basoeto-invalle te beskerm. Op versoek van die inwoners is die dorp Ficksburg na kommandant-generaal Fick genoem. Hy is op 22 September 1892 op Ficksburg oorlede en is aan die voet van die Fickmonument op die dorp herbegrawe.

 

Sterftes

1892 – Johan Izak Jacobus Fick, kommandant-generaal in die Basoetoe-oorloë (* 22 September 1816)

Op 22 September 1816 is Johan Izak Jacobus Fick in die distrik Grahamstad gebore. Op agttienjarige leeftyd het hy aan die Sesde Grensoorlog deelgeneem. Einde 1839 het hy die Kaapkolonie verlaat en na Natal getrek. Hy het hom later in die Caledonriviervallei gevestig. Fick het geveg in die Slag van Boomplaats en het later kommandant in die Oranjerivier- Soewereiniteit geword. Met die uitbreek van die tweede Basoeto-oorlog in 1865 is Fick tot kommandant-generaal verkies. Hy was in bevel van die bestorming van Thaba Bosigo, waar Louw Wepener gesneuwel het. Met die Vrede van Thaba Bosigo, wat in April 1866 gesluit is, het Mosjesj die gebied wes van die Caledonrivier as Vrystaatse grondgebied erken. Die volgende jaar is ‘n dorp in dié gebied aangelê met die doel om die Vrystaat teen Basoeto-invalle te beskerm. Op versoek van die inwoners is die dorp Ficksburg na kommandant-generaal Fick genoem. Hy is op 22 September 1892 op Ficksburg oorlede en is aan die voet van die Fickmonument op die dorp herbegrawe.

1948 – Paulus Johannes (Paul) Roos, onderwysman, politikus en Springbok-rugbykaptein  (* 30 Oktober 1880)

Min mense was beter bekend as hy, en min mense het op soveel terreine van die lewe hulle bekendheid en roem verwerf. As sportman, onderwysman, kerkman en volksman het Paulus Johannes (Paul) Roos die agting en liefde van die hele nasie gewen. Hy is op die plaas Rus en Vrede, in Heilderberg, distrik Stellenbosch, as oudste seun en een van die agt kinders van mnr. Tielman Roos gebore. Hy is op 22 September 1948 oorlede, net vier maande nadat hy as lid van die Volksraad vir die kiesafdeling Stellenbosch verkies is. As sportman het hy deur sy Christelike inbors ’n kragtige invloed op sy spanmaats en op die lede van die skoolspanne uitgeoefen, en sy teenwoordigheid op die voetbalveld het steeds ’n heilsame atmosfeer daar geskep. Hy was een van die grotes wat ons land opgelewer het. Hy was verantwoordelik vir die naam “Springbokke” vir die uitblinkers op sportgebied. Byna ’n halwe eeu lank was sy naam op ’n heel besondere wyse verbonde aan ons nasionale spel. Paul Roos het kaptein geword van die 1906-Springbokspan en het meegehelp om Suid-Afrika in die rugbywêreld ’n krag te maak waarmee rekening gehou moet word. Paul Roos het hom vir die onderwysprofessie bekwaam; hy het hom met onverdeelde liefde bykans 40 jaar daaraan gewy. Hy het op 27-jarige ouderdom hoof van die Jongenskool op Worcester geword, en op 29-jarige leeftyd, in 1910 hoof van die Paul Roos-Gimnasium op Stellenbosch. Hy was een van die stigterslede van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie. Hy was die Kaapse Onderwysdepartement se verteenwoordiger in die Matrikulasieraad, van welke raad hy ook voorsitter was, en toe hy uit die diens van die Onderwysdepartement moes tree, omdat hy die ouderdomsgrens bereik het, is hy as aflosinspekteur aangestel. Hy het, ondanks die hoogtes wat hy bereik het en die hoë louere wat hy ingeoes het, dwarsdeur sy lewe ’n nederige verhouding tot sy Opperwese gehad. Hy het sy kerk liefgehad en gedien as kerkraadslid waar sy innige godsvrug en kinderlike geloof opgeval het. Sy loopbaan in diens van sy volk het gekulmineer in sy verkiesing tot lid van die Volksraad vir Stellenbosch in Mei 1948. Hierdie verkiesing is voorafgegaan deur ’n ampstermyn van vyf jaar as stadsraadslid van Stellenbosch. Hoewel hy net vier maande lank lid van die Volksraad was, het hy in die kort rukkie die agting van almal in die Raad verwerf.

1985 – Diederik Johannes (DJ) Opperman, digter, dramaturg en literator (* 29 September 1914)

DJ Opperman was ’n professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. As Afrikaanse digter en dramaturg verower hy die Hertzogprys vir beide poësie en drama.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/