Die Slag van Rooiwal
October 21, 2015
23 OKTOBER
October 23, 2015

Gebeure

1900 – Anglo-Boereoorlog: Aanval by Luckhoff

1914 – Die Rebellie breek uit

Die uitbreek van die gewapende Afrikanerprotes van 1914 tot 1915 het twee grondoorsake gehad. Aan die een kant het ’n oorweldigende meerderheid Afrikaners in verset gekom teen die besluit van die Unie-Parlement dat Duits-Suidwes-Afrika vir die Britse Ryk verower moes word. Aan die ander kant het ’n groot aantal Afrikaners, wie se vryheid hul in 1902 wederregtelik ontneem is ’n geleentheid gesien om hul republikeinse onafhanklikheid te herstel. Spontaan sou veral die Afrikaners van Noord-Vrystaat en Wes-Transvaal teen die opkommandeer van manskappe protesteer. Met die bedanking van genl. CF Beyers as hoof van die Verdedigingsmag uit protes teen die regeringsbesluit, en die ongelukkige doodskiet van genl. JH de la Rey wat geen ongeluk was soos die regering dit wou afmaak nie maar koelbloedige moord, het die spanning hoog geloop. Met die oorstap van genl. Manie Maritz na die Duitsers op 9 Oktober, was die breekpunt feitlik al bereik. Genl. CR de Wet en Afrikanervoormanne het nou die leiding geneem om protesvergaderings te reël. Op 22 Oktober 1914 is ’n vergadering by Koppies belê om te besluit wat hulle te doen staan. Onseker en koersloos word die saak in die hande van genls. Beyers en De Wet gelaat. ’n Paar weke later bevind albei hulle in die veld met uiters swak bewapende protesterendes, teenoor die oormag van genls. Botha en Smuts se magte. In ’n agtervolging van genl. Beyers verdrink hy op baie verdagte wyse in die Vaalrivier. Genl. De Wet probeer na Suidwes vlug, maar hy word naby die Botswanagrens gevange geneem. Intussen voeg genl. Kemp met 600 man, ná ’n epiese tog deur die Kalahari, hom by Maritz maar hulle word uiteindelik op 24 Januarie 1915 by Upington deur regeringstroepe verslaan. Ten noorde van Pretoria het genl. JJ Pienaar en Jopie Fourie opgetree. Met laasgenoemde se gevangeneming en fusillering in Desember 1914, is alle gewapende verset in die binneland beëindig. Die sowat 12 000 rebelle is in tronke en kampongs by Kimberley en Booysens aangehou terwyl die leiers in die Johannesburgse Fort opgesluit is. Genl. De Wet, genl. Kemp en ander is swaar boetes en gevangenisstraf opgelê, maar ’n jaar later is verskeie leiers se tronkstraf kwytgeskeld. Die regeringsbeleid en -optrede tydens en ná die Rebellie het tot groot bitterheid aanleiding gegee. Dit het ook daartoe bygedra dat die Nasionale Party met rasse skrede sou vorder in sy opkoms totdat hy aan bewind gekom het.

1955 – Standbeelde voor stadsaal in Pretoria onthul

Tydens die Pretoria eeufees onthul MW Pretorius, kleinseun van Marthinus Wessel Pretorius en agterkleinseun van Voortrekkerleier Andries Pretorius, hul standbeelde voor die stadsaal van Pretoria.

 

Geboortes

1847 – Jacobus Herculaas (Koos) de la Rey, Boeregeneraal gedurende die ABO en ZAR-politikus († 15 September 1914)

Op dié dag reis genl. Jacobus Hercules (Koos) de la Rey en genl. CF Beyers per motor na Potchefstroom. Hulle was op pad na Kemp, bevelvoerder van die militêre kamp daar, wat gereed was om teen die Regering op te tree uit weerstand teen die Botha-regering se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog. Genl. De la Rey sou egter nooit sy bestemming bereik nie. Die polisie het die hele Witwatersrand op soek na ene William Foster en sy berugte moordbende gefynkam. Die twee generaals word in Langlaagte, net wes van die middestad van Johannesburg, deur die polisie gedaag. Hulle ry egter voort en die polisie skiet na die motor – ’n skoot tref genl. De La Rey noodlottig in sy rug. Vyf dae later is hy op Lichtenburg begrawe. Een van sy grootste oorlogskamerade in die Engelse Oorlog, genl. CR de Wet, op wie genl. De la Rey se tragiese dood diepe indruk gemaak het, het op die begrafnis gesê dat De la Rey “een van die dapperste van die dapperes, een van die getrouste onder die getroues” was. Genl. De la Rey se onwrikbare Godsvertroue, vaderlandsliefde en geloof aan die volkswil het ’n onuitwisbare stempel op die Afrikaner se vryheidstrewe gelaat. Hy is op 22 Oktober 1847 op die plaas Doornfontein in die distrik Winburg gebore. Ondanks weinig formele onderwys was hy besonder skrander en bekwaam. Sy militêre leierseienskappe het al op 19-jarige leeftyd in die Basoeto-oorlog van 1865 na vore gekom en in die Engelse Oorlog tot volheid ontplooi. Met die uitbreek van die oorlog het kmdt.-genl. Joubert hom aangestel as veggeneraal onder bevel van en ook as raadgewer vir genl. PA Cronjé in Wes-Transvaal. Hy was ’n uitmuntende strateeg, wat soms met genl. Cronjé verskil het. Sy grootste vegprestasie is dat hy die hele oorlog onoorwonne deurgeveg het as ruiter-generaal wat in die besonder welslae behaal het met sy beroemde stormjaagtaktiek. Die “Leeu van Wes-Transvaal” soos hy bekend geword het, het as onoorwonnene deel gehad aan die vredesonderhandelinge en -ondertekening in 1902. In 1908 was hy lid van die Transvaalse afvaardiging in die Nasionale Konvensie, wat die Unie van Suid-Afrika in 1910 tot stand gebring het. Hy was ook lid van die eerste Senaat. Genl. De la Rey het republikein gebly, en dit het hom in stryd met die regering gebring toe dié besluit het om aan die Eerste Wêreldoorlog deel te neem. Hy was van mening dat die oorlog die kans gebied het om die verlore republikeinse vryheid en onafhanklikheid vir Suid-Afrika te herwin. 

1906 – Gerhardus Petrus Borstlap (André Huguenet), akteur, regisseur en skrywer, asook baanbreker van Afrikaanse toneelspel († 15 Junie 1961)

Gerhardus Oetrus Borstlap, doopname van die later bekende toneelspeler Andre Huguenet, is in Bloemfontein gebore. In 1925 het die sensitiewe en hoogs talentvolle jong man van Bloemfontein na Johannesburg gereis om in ’n kunswedstryd mee te ding. Daar het hy Paul de Groot ontmoet – ’n ontmoeting wat die hele gang van sy lewe verander het. Nadat hy sy matriekeksamen afgelê het, het hy by De Groot se geselskap aangesluit. Paul de Groot het aan hom die toneelnaam Andre Huguenet besorg. Andre Huguenet was een van Suid-Afrika se grootste teaterpersoonlikhede. Met sy teatergroep het hy Suid-Afrika kruis en dwars deurreis, maar hy het ook nie gehuiwer om in nuwe ondernemings betrokke te raak nie. Een so ’n onderneming was die samewerking met die gevierde aktrise en regisseuse, Leontine Sagan, om twee opvoerings in Engels, The Corn is Green en Night must fall in 1940 in die Standard-teater in Johannesburg aan te bied. ’n Ander heuglike onderneming was ook in Johannesburg, toe hy en sy aansienlik vergrote geselskap Shakespeare se groot tragedie Hamlet in Afrikaans onder die spelleiding van Anna Neethling-Pohl en Siegfried Mynhardt by geleentheid van die ingebruikneming van die His-Majesty-teater opgevoer het. Hierdie aanbieding was onteenseglik die grootste enkele faktor wat tot die daarstelling van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) gelei het. Dit was nie vir hom beskore om die enorme vordering van die Suid-Afrikaanse beroepsteater sedert veral die begin van die sestigerjare te sien of mee te maak nie. Hy is op 15 Junie 1961 in Bloemfontein oorlede. Andre Huguenet, die akteur, het in sy lewe erkenning gekry vir sy bydrae tot die teaterbedryf. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het sy Erepenning vir Toneel in 1948 aan hom toegeken. So ook is hy, die Afrikaanse akteur, in 1950 genooi om die hoofrol in die James Elroy Flecker-toneelstuk Hassan te vertolk, wat in die West End van Londen aangebied is. In 1977 is ’n nuwe teatergebou in Hillbrow, Johannesburg na hom genoem.

1907 – Prof. Paul Friedrich Detlev Weiss, leraar, dosent en kultuurleier 

Paul Friedrich Detlev Weiss is op Standerton gebore. Vanaf 1935 tot 1947 staan hy in Pretoria in die bediening, terwyl hy ook deeltyds aan die Universiteit van Pretoria, eers Maatskaplike Werk en daarna Semitiese tale, doseer. Daarna was hy professor in Semitiese tale aan die Universiteit van Stellenbosch. Prof. Weiss het ’n rol gespeel in die hersiening van die Afrikaanse Bybel, was ’n tyd lank voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en sedert 1967 erepresident van die SA Buro vir Rasse-aangeleenthede. Van 1962 tot 1969 was hy direkteur van die Afrika-Instituut, vanaf 1965 voorsitter van die Christelike Kultuuraksie en van 1966 tot 1972 voorsitter van die Afrikaanse Kultuurraad van Pretoria.

 

Sterftes

1978 – Schalk Jacobus Botha, kultuurleier (* 25 April 1905)

Schalk Jacobus Botha, gebore in die Potchefstroomse distrik is op 22 Oktober 1978 in Pretoria oorlede, nadat hy sy lewe gewy het aan die uitbouing van die Afrikaanse kultuur en die vestiging van die Afrikaner op ekonomiese gebied. Hy het sy loopbaan as onderwyser begin, maar in 1944 uitgetree om hom heeltyds aan volksake en die sakelewe te wy. As sekretaris van die Voortrekker-eeufeeskomitee in 1938 en as lid van die Inwydingskomitee en hoofkampkommandant in 1949 het hy dwarsoor Suid-Afrika bekend geword as kultuurleier, ’n taak wat hy met oorgawe tot aan die einde van sy lewe vervul het. In 1948 het hy, as sekretaris van die Duitse Kinderfonds, 83 Duitse wesies vir wetlike aanneming na Suid-Afrika gebring, ’n taak wat hy dikwels as sy grootste bevrediging beskryf het. Benewens sy talle ander verpligtinge, was hy lid van die FAK-Hoofbestuur, voorsitter van die Afrikaans-Duitse Kultuurunie, en van die Interkerklike Anti-kommunistiese Aksiekomitee (Antikom). Sy belangstelling in die Afrikaner se ekonomiese toekoms strek terug na die Eerste Ekonomiese Volkskongres van 1939. Teen die einde van sy lewe het hy in nie minder nie as 32 direksies van Afrikaanse ondernemings gedien.

2009 – Daniel Wepener (Daan) Bekker, bokser (* 9 Februarie 1932)

Daan Bekker was ’n Suid-Afrikaanse bokser, wat ’n bronsmedalje tydens die Olimpiese Somerspele in Melbourne en ’n silwermedalje tydens die Olimpiese Somerspele in Rome verower het; beide in die Swaargewig afdeling.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/