21 MEI
January 10, 2017
23 MEI
January 10, 2017

Gebeure

1861 – Die Kamer van Koophandel in Kaapstad gestig

1893 – Onthulling van Pres Brand-standbeeld

Pres. FW Reitz van die OVS onthul die standbeeld van President Brand. Die standbeeld staan aan die bopunt van Maitlandstraat in Bloemfontein.

1912 – Hobhouse aangelê

Die dorp is aangelê op die plaas Poortjie, wat aan Jacobus Christoffel de Bruin behoort het.

Die dorp is vernoem na Emily Hobhouse, vroueheldin uit die vreemde, tydens die Anglo- Boereoorlog.

1945 – Die instelling van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) aangekondig

 

Geboortes

1874 – Daniël Francois (DF) Malan, koerantredakteur en staatsman, Eerste Minister van Suid-Afrika († 7 Februarie 1959)

Daniël François Malan was ’n Suid-Afrikaanse politikus. Malan is naby Riebeek-Wes in die Kaapkolonie gebore en was ’n kindervriend van sy lewenslange opponent generaal Jan Christian Smuts en het ’n tyd lank selfs dieselfde skool as Smuts bygewoon. Dr. DF Malan was die eerste minister wat in 1948 die Verenigde Party by die stembus verslaan het en begin het met die invoer van die beleid van apartheid.

1880 – Sir Ernest Oppenheimer, mynmagnaat, finansier en filantroop († 25 November 1957)

Sir Ernest Oppenheimer was ’n diamant en goud mynbou-ondernemer, finansierder en filantroop, wat De Beers en die Anglo American-korporasie van Suid-Afrika beheer het

1941 – Dr. Anton Prinsloo, taalwetenskaplike en skrywer († 23 Februarie 2016)

 

Sterftes

1957 – Jochem van Bruggen, skrywer (* 29 September 1881)

Jochem van Bruggen was vir baie jare een van die belangrikste en toonaangewendste prosaïste in Afrikaans. Daarom is onder andere die Hertzogprys vier maal aan hom toegeken. Hy is op hierdie dag in Nederland gebore en het op negejarige leeftyd saam met sy ouers na Suid-Afrika verhuis waar hy onder meer aan die Staatsgimnasium in Pretoria onderwys ontvang het. Tydens die Anglo-Boereoorlog was hy ’n tydlank op kommando, en nadat vrede gesluit is gaan woon hy op die plaas Steenkoppies by Magaliesburg waar hy op 22 Mei 1957 oorlede is. Hy het in 1914 begin om Afrikaanse prosa te skryf en verwerf toe met Die Praatmasjien die tweede prys in ’n opstelwedstryd van Die Brandwag. Van 1916 tot 1957 by sy afsterwe het daar dertien romans en twee bundels kortverhale en novelles uit sy pen verskyn, asook drie kortverhale in die versameling van ML du Toit. Volgens sy beste werke: die Ampie-trilogie, Die Sprinkaanbeampte van Sluis, Bywoners, Org Basson, kan hy as ’n idealistiese realis bestempel word wat met diepe deernis oor die verarmde Afrikaner, kleinboer en bywoner, begaan was.

1975 – Sarah Goldblatt, kurator van die literêre erfenis van C.J. Langenhoven (* 25 Desember 1889)

1981 – Dr. Willem Henry Jacobus Punt, stigter van die Simon van der Stel Vereniging en bekende kultuurhistorikus (* 26 April 1900)

Willem Henry Jacobus Punt is in Pretoria gebore. As seun van Hollandse immigrante, studeer hy aanvanklik aan die staatsgimnasium in Amsterdam en later in Pretoria, waar hy in 1918 matrikuleer. In 1923 behaal hy die BA-graad aan die Universiteit van Pretoria en twee onderwysdiplomas; in 1932 die MA-graad in Aardrykskunde en in 1953 die PhD-graad aan die Universiteit van Stellenbosch met sy baanbrekerswerk Louis Trichardt se laaste skof. Vanweë sy liefde vir die behoud van die historiese oudhede en erfenisse in Suid-Afrika word dr. Punt in 1959 beginner, stigter en direkteur van die Stigting Simon van der Stel, wat hom onder meer ten doel stel om belangrikste historiese geboue van sloping te red, te bewaar en te restoureer. In 1974 tree hy uit as direkteur. Dr. Punt was stigter van die Louis Trichardttrek-Monumentfonds, wat hom en sy komitee in staat gestel het om die Trichardt-gedenktuin in die destydse Lourenço Marques aan te lê. In 1967 word hy deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns met ’n erepenning vereer vir kultuurhistoriese prestasie, “vir volhardende navorsing, jarelange onvermoeide ywer, taai wilskrag en hooggestemde idealisme”. Dr. Willem Punt is ’n rustelose denker en ’n navorser by uitstek. Met meer as honderd wetenskaplike publikasies van kultuurhistoriese aard, word hy vandag geroem as een van die grootste kultuurhistorici wat Suid-Afrika nog opgelewer het. 

2004 – Dr. Carel de Wet, kleinseun van genl. CR de Wet en minister van mynwese en beplanning (* 25 Mei 1924)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/