21 MAART
November 1, 2016
23 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1685 – Die eerste land is aan die Kaap geregistreer

1896 – Ons Klyntji verskyn vir die eerste maal

Ons Klyntji was die eerste en by sy verskyning die enigste tydskrif in Afrikaans. Die Patriot, wat in 1876 verskyn het as spreekbuis vir die taalstrewe van die Genootskap vir Regte Afrikaners, het mettertyd in ’n nuusblad verander en het ongewild geraak, veral as gevolg van die veranderde politieke beleid van ds. SJ du Toit. Om die taalstryd voort te sit, moes ’n nuwe medium gevind word. Op die eerste Afrikaanse taalkongres gehou in die Paarl in Januarie 1896 ter viering van die twintigste verjaardag van Die Patriot, is besluit om ’n Afrikaanse tydskrif in die lewe te roep wat neutraal sou staan ten opsigte van die politieke vraagstukke van daardie tyd, met SJ du Toit as redakteur. Die tydskrif is dadelik goed ontvang deur die Afrikaner. Na 1900 het dit egter finansieel, veral as gevolg van die Anglo-Boereoorlog, al hoe slegter met Ons Klyntji gegaan, en in 1906 het die laaste uitgawe van die tydskrif verskyn. Ons Klyntji was die draer van ’n Afrikaanse gedagte. Hy het die Afrikaner in sy eie taal aangespreek en hom bewus gemaak van homself, hom trots op sy kultuur gemaak en nasionalisme opgewek deur voortdurende propagering van die Afrikaanse gedagte. Die redaksie het deurentyd gepoog om die Afrikaner van sy minderwaardigheidsgevoel op taalgebied te genees deur hom daarop te wys dat hy ’n taal het wat geensins vir Engels of Hollands terug hoef te staan nie. Deur hierdie houding het die tydskrif ’n teëwig teen die verengelsingsbeleid gevorm. Op taalgebied het hy baie bygedra tot die gebruik – veral lees en skryf – van Afrikaans, aangesien dit in eenvoudige taal verskyn het wat almal kon verstaan en die redakteur almal aangemoedig het om bydraes in te stuur. Wedstryde wat oor die Afrikaanse taal handel, is uitgeskryf om die Afrikaner meer belangstelling in sy taal en die suiwere gebruik daarvan te gee. Deur taalbewusmaking het Ons Klyntji gedien as ’n skakel tussen die eerste en tweede Afrikaanse taalbewegings. Omdat hy die soms ongeskoolde Afrikaner bereik het, kon die tydskrif opvoedingswerk doen op die gebied van die taal, letterkunde, geskiedenis, wetenskap, ens. Eenvoudige lessies is op eenvoudige praktiese en prikkelende wyse aangebied oor ’n groot verskeidenheid van onderwerpe. In Ons Klyntji word bydraes gevind van ons eerste skrywers oos SJ du Toit, TL Cachet, MH Neser, GR von Wielligh, CP Hoogenhout, JD du Toit en BR Buys en vind ons spore van ’n ontwikkelende letterkunde. In Ons Klyntji tref ons reeds prosa en poësie aan met hoër kunswaarde as dié wat in Die Patriot verskyn het. Soos Ons Klyntji in sy hoofartikel sê: “Die Patriot het honderde geleer om te skrywe fer ’n koerant, Ons Klyntji moet tiintaller leer om goed te skrywe.” Vir die volkskundige en kultuurhistorikus is Ons Klyntji ’n bron van onskatbare waarde. Dit is ’n spieëlbeeld van die kulturele gesteldheid van die gemiddelde Afrikaner rondom 1900 – daaruit kan ’n beeld van die Afrikaner gekonstrueer word in sy daaglikse omgang, sy sedes en norme, godsdiens, lewensbeskouing, gewoontes en gebruike, ens. Omdat ons hier bydraes deur die Afrikaner oor homself en sy tyd vind, kan ons die Afrikaner leer ken uit die tydskrif. SJ du Toit het veral moeite gedoen om ou vertellings, dokumente en volksgewoontes in Ons Klyntji te publiseer wat vir die volkskundige ’n kosbare erfenis is. Briewe wat tydens die Anglo-Boereoorlog deur Boere te velde of in krygsgevangenekampe ingestuur is, gee ’n beeld van die daaglikse lewe van die gewone burger tydens die oorlog. Ons Klyntji het daarin geslaag om in ’n tyd toe die Afrikaanse taal bedreig is, die Afrikaner aan te gryp en hom vir Afrikaans en die Afrikaanse gedagte terug te wen. Die Afrikaner wat nie meer met Die Patriot se politieke houding saamgestem het nie, kon bevrediging put uit ’n ander blad. Dit het verhoed dat die Afrikaanse taalbeweging doodloop en het aanleiding gegee tot die tweede Afrikaanse taalbeweging wat meer tasbare vrugte afgewerp het.

Geboortes

1814 – Jacobus Johannes Venter, politikus en waarnemende president van die Vrystaatse Republiek († 28 Januarie 1889)

1868 – Edwin Cheere Andersen, leraar van die NG Kerk en veldprediker tydens die Anglo-Boereoorlog († 15 Augustus 1947)

1847 – Graaf Georges de Villebois-Mareuil, Franse edelman en Boeregeneraal in die ABO, sneuwel by Boshof, Vrystaat († 5 April 1900)

Graaf Georges de Villebois-Mareuil, die Franse edelman, is op 17 Maart 1900 te Kroonstad tot veggeneraal van die Boere benoem deur presidente Kruger en Steyn. Sy opdrag was om ’n legioen te stig uit die vreemdelinge wat hulle aan die kant van die Boererepublieke geskaar het. Op 24 Maart het hy met ongeveer 125 Franse en Hollanders uit Kroonstad vertrek om na Modderrivier te gaan en die spoorlyn suid van Kimberley op te blaas. Hierdeur sou die lewensbelangrike verbindingslyn van die Britte van die Kaap na Transvaal, waarheen lord Roberts aan’t opruk was, afgesny word. Onderweg sou hy ’n nagtelike aanval op Boshof uitvoer om die dorp te ontset, waar net ’n klein Engelse garnisoen was. Voordat hy egter Boshof kon bereik, het die Engelse ’n sterk leër daar geplaas. Toe hy in die vroeë skemer van 5 April Boshof nader, was daar geen sprake van ’n aanval nie. Sowat 9 myl suid van Boshof het hy en sy manskappe in die koelte van bome gaan rus om in die donker van die aand verder te gaan. Die Engelse is van hul skuilplek verwittig en het ’n sterk mag teen hulle uitgestuur. Vier uur lank het hy en sy manskappe dapper teenstand gebied, voordat hy dodelik gewond is.

 

Sterftes

2002 – Pieter Pieterse, skrywer (* 9 Junie 1936)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/