20 SEPTEMBER
September 20, 2015
22 SEPTEMBER
September 22, 2015

Gebeure

1828 – Shaka vermoor

Die Zoeloekoning Shaka is deur sy halfbroers, Dingane en Mhlangane, vermoor.

1899 – Die laaste sitting van die Vrystaatse Volksraad in Bloemfontein

Reeds na die mislukte Bloemfontein-konferensie tussen pres. Kruger en lord Milner in Junie 1899 was daar net een woord op almal se lippe: OORLOG! Toe die Volksraadslede dus op 21 September die Raadsaal in Pres. Brandstraat binnestap, was daar nie een wat nie die erns van die oomblik besef het nie. Vir almal was dit duidelik dat slegs ’n wonderwerk die oorlog sou kan afweer. Ds. HT Kriel het die sitting met ’n kragtige gebed voorgegaan waarna pres. Steyn die gewigtigste presidensiële toespraak in die Vrystaat se geskiedenis sou lewer. Onder meer het hy hierdie woorde gebruik: “Ek het gedoen wat ek kon om die vrede met eer te handhaaf en sal nog alles doen. Ek sê egter nou met ’n vry gewete en openlik voor die volk: Ek verloor liewer die onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat met eer as om dit deur oneer of ontrou te behou.” In die enkele sittingsdae wat sou volg het feitlik alle Raadslede met bewoë en swaar gemoedere te kenne gegee dat die Vrystaat se onafhanklikheid op die spel was, maar dat die Vrystaat getrou aan sy verbond met Transvaal sou bly. Op 27 September sou die Volksraadslede nog ’n laaste keer die Volkslied aanhef en uiteengaan om nooit weer in hierdie Raadsaal te vergader nie.

 

Geboortes

1874 – Walter Friedrich Spiethoff, operasanger en komponis († 31 Januarie 1953)

Walter Spiethoff is in Dusseldorp, Duitsland, gebore en oorlede op 31 Januarie 1963 in Seepunt, Kaapstad. In 1895 gaan hy na Europa, bestudeer sang en word Koninklike Operasanger in Oostenryk tot in 1913, toe hy ’n betrekking as sangdosent aan die South African College of Music in Kaapstad aanvaar. Van 1914 tot 1919 het hy vyf jaar in die interneringskamp in Pietermaritzburg deurgebring. Uit hierdie tydperk dateer sy belangstelling in die Afrikaanse lied. Ná die oorlog word hy sangdosent aan die Konservatorium van Stellenbosch. Aanvanklik vereenselwig Spiethoff hom met die digkuns van die Tweede Taalbeweging, en sy beste liedere word in 1920 gepubliseer, onder meer “Eensaamheid”, “Klein ondeug”, “Ons twee”, “Die strijd” en “Trouw” van Jan FE Celliers; “Afrikanerlied” (HA Fagan), ensovoorts. ‘n Verdere bydrae is sy vier blyspele, onder meer Dorsland (1920). Hy komponeer byna 100 liedere en een van sy bekendstes is “Pikanieniewiegelied” (musiek en woorde). Van sy liedere verskyn in die FAK-Sangbundel. Hy word veral onthou vir sy bydrae tot die  Afrikaanse kinderlied, byvoorbeeld Tien Afrikaanse kinderliedjies (1932) en die 70 liedjies in Afrikaanse sangblommetjies (Band 1 en 2). Hoewel nie al laasgenoemde melodieë oorspronklik is nie, bly hy nogtans ’n belangrike baanbreker op die gebied van die Afrikaanse lied en verwerf hy veral met sy kinderliedjies ’n ereplek.

1877 – Frederik (Fritz) Joubert Duquesne, baasspioen († 24 Mei 1956)

Frederik (Frits) Joubert Duquesne is omstreeks 1878 in Pondoland gebore. Hy het in Europa opleiding as ’n militêre ingenieur ontvang. Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, het hy na Suid-Afrika teruggekom en teen die Engelse geveg. Hy is naby Kaapstad gevang en na die krygsgevangenekamp in Bermuda gestuur. Hy het egter daarin geslaag om te ontsnap en het na die VSA gevlug.

Duquesne het die Engelse gehaat as gevolg van die wandade wat hulle tydens die oorlog teenoor sy familie gepleeg het. Daarom het hy gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) vir die Duitsers gespioeneer en het verskeie Britse skepe in Suid-Amerikaanse hawens opgeblaas. Gevolglik het die Engelse hom beskuldig van moord, maar hulle kon hom nooit vang nie.

Volgens Duquesne was hy ook vir die dood van lord HH Kitchener, die Britse opperbevelhebber wat die verskroeideaardebeleid in Suid-Afrika toegepas het, verantwoordelik. In 1916 moes Kitchener op ’n geheime sending na Rusland gaan en Duquesne het hom as die Russiese graaf Boris Zakrevsky voorgedoen en Kitchener op die skip, Hamsphire, vergesel. Duquesne was heeltyd in verbinding met  Duitse duikbote en die Hampshire is in die Noordsee deur die duikbote gekelder en Kitchener het verdrink. Duquesne was een van ongeveer 200 bemanningslede wat die aanval oorleef het en hy is volgens sy eie verklaring deur ’n duikboot opgepik. Volgens die amptelike Britse verklaring het die Hampshire gesink nadat dit teen ’n seemyn gebots het.

In 1942, tydens die Tweede Wêreldoorlog, is hy in die Verenigde State skuldig bevind aan spioenasie vir Duitsland en tot agtien jaar gevangenisstraf gevonnis. In 1954 is hy op grond van goeie gedrag vrygelaat en op 24 Mei 1956 het hierdie merkwaardige man in New York gesterf.

 

Sterftes

1912 – Jan Lion Cachet, teoloog, skrywer en digter (* 29 November 1838)

Jan Lion Cachet is in Amsterdam, Nederland, op 29 November 1838 gebore. Nadat hy sy teologiese opleiding in Nederland voltooi het, lê hy ook die onderwyseksamen af en kom in Januarie 1861 na Suid-Afrika. Hy word onderwyser in Kaapstad. Daarna word hy as oefenaar en katkisasiemeester op Ladysmith aangestel, maar verhuis in 1865 na Rustenburg om hom onder ds. D Postma as predikant te bekwaam. Hy bekwaam hom as predikant van die Gereformeerde Kerk, bedien verskeie gemeentes en word in 1894 die enigste professor aan die teologiese skool van die Gereformeerde Kerk op Burgersdorp. Hierdie merkwaardige bekeerde Jood word ‘n Afrikaanse nasionale figuur vanweë sy vereenselwiging met kerk, volk en taal en sy bydraes tot Die Afrikaanse Patriot, as kampvegter vir die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. In die Tweede Afrikaanse Taalbeweging word hy in 1909 ’n stigterslid van De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst. As prosaskrywer lewe hy Sewe duiwels en wat hulle gedoen het en twee historiese romans in Nederlands. In die Anglo-Boereoorlog word hy in die gevangenis op Burgersdorp aangehou op aanklag van hoogverraad. Ses weker later word hy vrygelaat en die klag word later teruggetrek. Hy is op Potchefstroom oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/