20 NOVEMBER
November 20, 2015
22 NOVEMBER
November 22, 2015

Gebeure

1900 – Slag by Dewetsdorp wat sou duur tot 23 November

1957 – Sir De Villiers Graaff word verkies tot leier van die Verenigde Party (VP)

1968 – Ons vier Voortrekkermonumente

Die Afrikaner het vroeg reeds die behoefte gevoel om ’n waardige monument ter ere van die Voortrekkers op te rig, maar hierdie strewe het eers sy finale beslag gekry toe die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK) op 4 April 1931 in Bloemfontein gestig is. Die hoofdoel van die SVK was om hom vir die oprigting van ’n nasionale Voortrekkergedenkteken vir die Voortrekkereeufees in 1938 te beywer. Daarnaas sou hy ook die oprigting van ander goedgekeurde volksmonumente onderneem. Die SVK se eerste taak was die oprigting van die Voortrekkermonument by Pretoria, maar die komitee het ook verantwoordelikheid vir die oprigting van drie ander Voortrekkermonumente aanvaar. Die hoogtepunte van die SVK se werksaamhede was dus die onthulling van die Bloedriviermonument op 16 Desember 1947, die inwyding van die Voortrekkermonument by Pretoria op 16 Desember 1949, die onthulling van die Voortrekkermonument in Pietermaritzburg op 6 April 1962 en dié van die Voortrekkermonument by Winburg op 10 Oktober 1968. Daarmee was die grootse kultuurtaak van die SVK afgehandel en kon die liggaam op 21 November 1968 ontbind word. Die wesenlike betekenis van hierdie vier Voortrekkermonumente is dat hulle ’n onverbreekbare band tussen die verlede en die toekoms lê. Deur die oprigting van hierdie monumente is die Voortrekkers nie vergete nie, maar vorm hulle ’n lewende krag wat inspireer tot dade en tot vergesigte die toekoms in. Vir die nageslagte van die Voortrekkers is die monumente die transportbewys van die prys wat hulle voorvaders vir hierdie land betaal het. Die oprigting van hierdie monumente is ’n bewys van die bewuste lewensdrang van ons volk. Dit was rondom die Voortrekkermonumente waar die Afrikaner homself gevind het, en die saad wat daar gesaai is, het in die Republiek van Suid-Afrika tot volle rypheid gekom. Maar die Voortrekkermonumente is nie alleen ter ere van ’n dapper voorgeslag gebou nie, maar ook – en veral – ter ere van God wat aan ons die wonder van volkwees gegun het.

 

Geboortes

1853 – Daniël Francois du Toit, stigterslid van die Genootskap van Regte Afrikaners en kampvegter vir erkenning van († 2 April 1918)

Daniël Francois du Toit is op 21 November 1853 op Dal Josafat gebore. Aangesien hy altyd ’n medisynetassie by hom gedra het, het hy die bynaam “Dokter” gekry. Hy was ’n stigterslid van die Genootskap van Regte Afrikaners en ’n groot kampvegter vir die erkenning van Afrikaans. Hy was behulpsaam by die drukpers in die huis van Gideon Malherbe in die Paarl in 1875. Hy was die vader van prof. DF du Toit, van Stellenbosch, en dr. PJ du Toit, opvolger van sir Arnold Theiler op Onderstepoort.

1890 – Eric Hendrik Louw, diplomaat en politikus († 24 Junie 1968)

Eric Hendrik Louw was ’n Suid-Afrikaanse diplomaat en politikus. Alhoewel omstrede en soms ondiplomaties in sy optrede, is hy gerespekteer deur sy ondersteuners en kritici vir sy onversetlike moed en briljante kwinkslae.

1908 – Hettie Smit (S.J. van Vuuren), skrywer († 12 September 1973)

Hettie Smit (mev. SJ van Vuuren), onderwyseres, skilderes en prosaïs, verryk die Afrikaanse letterkunde in 1937 met die eerste publikasie van die Vereniging vir die Vrye Boek, nl. Sy kom met die Sekelmaan, in prosa die vergestalting van die Poësie van Dertig, en wel as belydenisse van allerlei persoonlike konflikte van die dualistiese hooffiguur, Maria-Marié. Dit verskyn net ’n jaar nadat Elisabeth Eybers in die poësie die stem van die vrou laat hoor het.

1913 – Gerhard Johannes (Gerhard) Beukes, skrywer († 31 Augustus 1998)

1908 – Hettie Smit (S.J. van Vuuren), skrywer († 12 September 1973)

Hettie Smit (mev. SJ van Vuuren), onderwyseres, skilderes en prosaïs, verryk die Afrikaanse letterkunde in 1937 met die eerste publikasie van die Vereniging vir die Vrye Boek, nl. Sy kom met die Sekelmaan, in prosa die vergestalting van die Poësie van Dertig, en wel as belydenisse van allerlei persoonlike konflikte van die dualistiese hooffiguur, Maria-Marié. Dit verskyn net ’n jaar nadat Elisabeth Eybers in die poësie die stem van die vrou laat hoor het.

1916 – Francois Alwyn (FA) Venter, skrywer († 8 Julie 1997)

FA Venter was ’n skrywer gedurende die 20ste eeu in Suid-Afrika en wenner van die Hertzogprys. Hy skryf ook onder die skuilname Meiring Fouché, René Stegmann, Marius de Jongh en Elske te Water.

 

Sterftes

1938 – Hendrika (Rikie) Postma, skrywer (* 28 April 1889)

Sy was die oudste kind van Stephanus Postma en Johanna Slijkhuis. Sy erf haar kunssin van albei haar ouers en ontvang haar skoolonderrig op Burgersdorp en Middelburg (Kaap). Nadat sy in die eksamen vir kwekelingonderwyseresse geslaag het, gee sy ’n kort rukkie onderwys. Koorssiekte dwing haar om dit te laat vaar, en sy sit haar studie tuis voort. Van Mei tot November 1937 besoek sy as reisgesellin van prof. JD du Toit en sy eggenote die Heilige Land. Sy toon ’n lewendige belangstelling in die Ossewa-trek van 1938. Sy het die voorstel gedoen dat die waens na Voortrekkerheldinne genoem word, dat die spore van die osse en van die wawiele by die feesterreine in sementafdrukke vasgelê word, en dat op die dorpe langs die trekpad gemesselde klipstapels met brons plaatjies opgerig word. Dit was haar begeerte as skryfster om kinders bewus te maak van die skoonheid van die Bybel, soos gesien kan word in Lig uit die Ooste. Sy vertel van oudhede in Kaapstad in Ou dae en dinge en skryf ook drie toneelstukkies en onder meer ’n kinderverhaal, Elsie, die veldkindjie, waarin sy daarin slaag om die kinderverbeelding aan te gryp. ’n Aantal hoorspele en talle populêre artikels in dagblaaie en tydskrifte het uit haar pen verskyn.

1942 – James Barry Munnik (JBM) Hertzog, staatsman, generaal en Eerste Minister van Suid-Afrika  (* 3 April 1866)

James Barry Munnik Hertzog is op Soetendal, distrik Wellington, gebore. Sy hoërskoolopleiding ontvang hy op Stellenbosch, waar hy in 1889 die graad BA behaal. Hy kies die regte as studierigting en studeer verder aan die Universiteit van Amsterdam, waar hy in 1892 sy doktorsgraad verwerf. Terug in Suid-Afrika, vestig hy hom in Pretoria as advokaat, maar toe hy in 1895 regter word, verhuis hy na Bloemfontein, waar hy baie jare lank woon. Die Anglo-Boereoorlog het ’n ingrypende verandering in sy lewe veroorsaak, want hy verlaat die regsbank om krygsman te word, aanvanklik as regsadviseur in die veld, maar later as krygsman, en teen die einde van die oorlog was hy tweede in bevel in die hele Vrystaat. Hy was ’n groot voorstander van die bewegingstrategie van klemkrygtaktiek, wat so doeltreffend toegepas is dat die oorlog na die oorgawe van Bloemfontein en Pretoria nog twee jaar geduur het. As een van die verteenwoordigers by die vredesonderhandelings, stel hy ’n standpunt wat in sy latere loopbaan die grondslag van sy strewe sou vorm. Hy het daar o.m. gepleit vir die gebruik van Hollands in staatskole en in die regspleging in die verowerde gebiede. Omdat hy vroeg reeds voorsien het dat Afrikaans die plek van Hollands sou inneem, het hy as logies-denkende, selfrespekterende Afrikaanse kultuurmens nie net volstaan met sy beskouings oor taal- en kultuursake nie, maar het hy sy volksgenote van vroeg tot laat aangespoor om hulle eie te ag en so hul selfrespek te behou. Hy het as voorsitter opgetree by die stigtingsvergadering van die Afrikaanse taalgenootskap wat in 1906 in Bloemfontein gehou is, en hy was die persoon wat sy taal en kultuurgenote gelei, aangespoor en gehelp het om die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns in 1909 tot stand te bring. Die Suid-Afrikaanse Akademie is voorwaar ’n blywende monument vir hierdie groot, selfrespekterende Afrikaner. Dit alles het sy grootste prestasie ten grondslag gelê om langs staatkundige weg deur die Vrystaatse Onderwyswet van 1908 moedertaalonderwys vir die Afrikanerkind te verseker, ’n kultuurdaad waarsonder die Afrikaanse taal en kultuur ongetwyfeld langsaam maar seker aan bloedarmoede sou gesterf het. En voeg hierby sy onverbiddelike stryd om die gelykberegtiging van Hollands, en later Afrikaans, naas die ekonomies- en kultuurkragtiger Engels af te dwing deur Artikel 137 in die Grondwet van die Unie van Suid-Afrika in 1910 ingeskryf te kry: van volkstaal tot staatstaal. ’n Ander belangrike lewenstaak waaraan genl. Hertzog hom met oorgawe gewy het, was ’n doeltreffende oplossing vir die naturellevraagstuk. Sy siening kan inderdaad beskou word as die begin van die segregasiebeleid. Sy aanvoorwerk het gelei tot die aanvaarding van die Naturellegrondwet van 1913, waarvolgens die land in blanke en nie-blanke gebiede verdeel word met ’n verbod op koop van grond in nie-blanke gebied deur ’n blanke en andersom. Ook in later jare het genl. Hertzog hom onvermoeid aan hierdie lewenstaak gewy en veral twee oogmerke vooropgestel, nl. die verwydering van Kaaplandse swartmense van die gemeenskaplike kieserslys en die aankoop van meer grond vir die swartmense, sodat die beleid van gebiedskeiding deurgevoer kon word. Politieke omwentelinge tussen die jare 1911 en 1914 het ’n groot rol in die Afrikaner se wordingsgeskiedenis gespeel, en genl. Hertzog het daarin ’n leeue-aandeel gehad. Sy tweestroombeleid, waarvolgens die Afrikaanse taal- en kultuurgroep met volkome gelykberegtiging naas die Engelssprekendes sou kan ontwikkel, is teenoor die eenstroombeleid van Louis Botha, wat ineenvloeiing van die twee taalgroepe voorgestaan het, gestel. Bittere botsings het gevolg, wat tot genl. Hertzog se uitsetting uit die Kabinet gelei het. Met Hertzog in die politieke woestyn, was daar een uitweg, die stigting van ’n nuwe party – die Nasionale Party – in 1914. In 1924 het die NP aan bewind gekom en daarmee saam kom die derde lewenstaak van genl. Hertzog, nl. die verkryging van konstitusionele onafhanklikheid. Die Balfour-verklaring van 1926 en die daaropvolgende Statuut van Westminister (1931) verleen konstitusionele onafhanklikheid binne die Britse Ryk. Hierdie welslae, wat as eerste besliste stap tot Republiekwording beskou kan word, is in ’n groot mate aan Hertzog te danke. Ernstige ekonomiese probleme vanweë wêrelddepressie, die instorting van die New Yorkse-aandelebeurs, ens. lei daartoe dat Hertzog swig onder voortdurende oproepe, ook uit sy eie party, om met die opposisie saam te smelt. Dit word in 1933 werklikheid, en hoewel genl. Hertzog nog tot 1939 Premier bly, voel hy veral ongelukkig omdat daar verdeeldheid onder sy mense heers. In die strydvraag oor deelname aan die Tweede Wêreldoorlog word Hertzog se standpunt dat SA neutraal moet bly, verslaan en bedank hy as Eerste Minister. Ondanks pogings van die kant van die NP om hom tot die politiek te laat terugkeer, tree hy af en vestig hom op sy plaas Waterval naby Witbank. Hy sterf op 21 November 1942 in Pretoria.

2013 – Theodor JA (Theo) Gerdener, afgetrede joernalis, skrywer en politikus (* 19 Maart 1916)

Theo Gerdener was ’n joernalis, skrywer, Natalse administrateur, adjunkminister, senator, minister van binnelandse sake en ná sy bedanking uit die Nasionale Party leier van die Demokratiese Party (1973).

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/