20 MEI
January 10, 2017
22 MEI
January 10, 2017

Gebeure

1837 – Die Erasmus Smit as predikant aangestel

Gebore op 2 Augustus 1778 in Buiksloot, Nederland, is hy van 1786 af in die Aalmoeseniers- weeshuis opgevoed. In 1801 het die Nederlandse Sendinggenootskap hom as sendeling opgelei en ingeseën: dit was nie ’n amptelike ordening nie, dus het hy nie die bevoegdheid verkry om die sakramente te bedien nie. In Oktober 1804 het hy in Kaapstad aangekom en op Bethelsdorp begin arbei.

In Junie 1813 het hy met die dertienjarige Susanne Catharina Maritz, oudste suster van Gert Maritz, in die huwelik getree en ‘n sending instituut by Torenberg (vandag Colesberg) aangelê. Daar is hy op 15 September 1816 deur eerw. James Read, superintendent van die Londense Sendinggenootskap in Suid-Afrika, as sendeling georden en het hy gevolglik ook die bevoegdheid verkry om die sakramente aan nie-blankes wat deur sendelinge bekeer is, te bedien, maar nie aan lidmate van enige kerkgenootskap of hulle kinders nie.

Van 1818 tot 1836 het hy agtereenvolgens op Kookfontein (naby Beaufort-Wes), Stellenbosch, Olifantshoek (tans Alexandria) en Graaff-Reinet gearbei, en in September 1836 het hy saam met die Maritz-trek die Kaapkolonie verlaat. Hy het in die Voortrekkers se geestelike behoeftes voorsien, maar ernstige verdeeldheid het ontstaan omdat hy nie die sakramente kon bedien nie.

Onder druk van omstandighede het hy op 17 Maart 1837 wederregtelik vir die eerste keer die doop op die Groot Trek bedien. Dit het die Voortrekkergemeente in twee geskeur. Na sy verkiesing as goewerneur, het Piet Retief vir Smit beveel om hom in die erediens op 23 April 1837 as leraar te bevestig. Hewige teenkanting het dit in die wiele gery.

Die besware teen Smit was veral dat hy nie die sakramente aan blankes kon bedien nie, maar ook dat hy ’n onaangename geaardheid gehad het en reeds oud en mankoliek was, sodat hy sy predikantswerk nie behoorlik kon verrig nie. Retief het egter daarop aangedring dat Smit as leraar aangestel word, en op 21 Mei 1837 is hy voor ’n aansienlike getal toehoorders deur homself as eerste leraar van die “reisende gemeente der Gereformeerde Kerk naar Port Natal” bevestig.

Geen besware is geopper nie, en hy is amptelik vir al die Voortrekkers aangestel. Hy sou ook die sakramente kon bedien. Baie Voortrekkers het hulle egter van hom gedistansieer. Op 6 Junie 1837 het hy goew. Retief voor die gemeente kerklik ingeseën. Tydens die Voortrekkers se lotgevalle in Natal, het hy onvermoeid sy predikantswerk verrig. Sedert Januarie 1839 het hy op Pietermaritzburg gewoon en as leraar gearbei totdat hy op 10 Februarie 1841 verplig is om sy emeritaat te aanvaar.

Hy en Susanna het in ’n armoedige huisie in Bergstraat gewoon. ’n Week na Susanna se dood is hy op 3 Augustus 1863 oorlede. Hy is langs sy vrou in die Voortrekkerbegraafplaas in Commercialweg begrawe.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Rooskloof, Noupoort, Kaapkolonie

1902 – Anglo-Boereoorlog:  Vredesvoostelle in Londen ontvang

Die voorgestelde vredesvoorstelle, ooreengekom deur ’n kommissie van vyf, Botha, De la Rey, De Wet en Hertzog, saam met Kitchener en Milner, is in Londen ontvang.

1910 – Die hoeksteen van die nuwe treinstasie in Pretoria word gelê.

1919 – Eerste uitgawe van Landbouweekblad 

Die Landbouweekblad, gewilde weeklikse tydskrif vir die boer, word deur die Nasionale Pers uitgegee met die hoofkantoor in Kaapstad. Die tydskrif het tot stand gekom in ’n tyd toe die Suid-Afrikaanse boer as gevolg van droogte byna op sy knieë was en is ten volle aan die landbou toegewy. Dit word so ingeklee dat hy ’n wye spektrum van lesers van albei geslagte en alle ouderdomme sowel op die platteland as in die stedelike gebiede bedien. Van sy eerste uitgawe, onder dr. FB Geldenhuys as grondliggende redakteur, het hy gegroei tot Suid-Afrika se grootste landbou-tydskrif in enige taal, met ’n kwart miljoen lesers hoofsaaklik in die Republiek, SWA en Rhodesië, maar ook elders. Toenemend gewild as handboek van die boer en sy hele gesin, word dit vandag deur 71% van alle boere en 82% van alle Afrikaanssprekende boere in Suid-Afrika gelees. Tipografies geniet die tydskrif, wat soms meer as 200 bladsye beslaan, die beste versorging, en met sy landbou-joernalistiek, neem hy ’n toonaangewende plek in, met nog groter moontlikhede vir die toekoms. 

1980 – Grensoorlog: Veldslag van Savate in Angola

Die bekendste veldslag waaraan 32-Bataljon van die Suid-Afrikaanse Weermag deelgeneem het.

 

Geboortes

1906 – Arnold Meiring, NG predikant en Transvaalse moderator van die NG Kerk († 12 Februarie 1984)

1928 – Charles Jacobie, country-sanger († 5 Junie 1988)

 

Sterftes

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/