20 JUNIE
June 20, 2015
22 JUNIE
June 22, 2015

Gebeure

1886 – Die spoorlyn na Ladysmith in Natal word geopen

1887 – Die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappij is gestig

1890 – Pres. Paul Kruger lê die hoeksteen van die nuwe Volkshospitaal in Pretoria

1921 – Prof. WRM Malherbe eerste dekaan van die Regsfakulteit op Stellenbosch

Prof. WRM Malherbe is op dié dag aangestel as die eerste dekaan van die regsfakulteit aan die universiteit waar die eerste regskursus in die vorige jaar ingestel is met adv. HA Fagan as eerste dosent. Die twee regsgeleerdes was die baanbrekers vir Afrikaans in die Suid-Afrikaanse regswese. Die eerste hofuitspraak in Afrikaans was op 27 Oktober 1932 in die Appèlhof in Bloemfontein deur Appèlregter FW Beyers in ’n patentregsaak. Die eerste gerapporteerde Hooggeregshofuitspraak was in Kaapstad op 21 Februarie 1937 deur die Engelssprekende regter RPB Davis, en eers tien jaar later het Transvaal gevolg. Die eerste Hofreëls in Afrikaans het eers in 1965 verskyn, en die eerste Engels-Afrikaanse regswoordeboek in 1933.

 

Geboortes

1766 – Frans Rynhard Bresler, beampte van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie en landdros van Graaff-Reinet († 28 Maart 1825)

1797 – Sir Christoffel Josephus Brand, eerste Speaker van die Kaapse parlement († 19 Mei 1875)

1846 – Gerrit Adriaan Arnold Middelberg, mededirekteur van die Nederlands-Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatshappy († 6 Maart 1916)

Gerrit Adriaan Arnold Middelberg is te Boskoop, Nederland, gebore. Hy word groot in Amsterdam, werk ’n tyd lank in ’n Skotse handelskantoor, maar besluit tot ’n wetenskaplike rigting. Hy behaal in 1868 die diploma van werktuigkundige ingenieur aan die politegniese skool in Hannover en tree in Europa in diens van verskeie spoorwegmaatskappye. In 1890 word hy mededirekteur van die Nederlands-Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappy. Daar is reeds in 1884 met die oprigting van hierdie maatskappy begin, maar dit kom eers in 1887 met die hulp van Nederlandse en Duitse kapitaal tot stand en verkry ’n konsessie vir die bou van die Oosterspoor van Lourenço Marques na Pretoria. 

Toe in 1890 met die bou van die spoorweg begin is, word Middelberg as direkteur aangewys om in Suid-Afrika teenwoordig te wees. Nadat hy kort tydperke in Suid-Afrika werksaam was, vestig hy hom vanaf 1894 in Pretoria. Hy en sy eggenote betrek die NZASM- huis in Markstraat (tans Paul Krugerstraat). Die Middelbergs word bekend vir hulle gasvryheid en die weeklikse musiekaande wat mev. Middelberg gehou het. Middelberg het onbevooroordeeld na Suid-Afrika gekom en toon insig in die politieke probleme van die dae. Hy het veral begrip vir die vryheidstrewe van die ZAR gehad. Hierdie vryheidstrewe het saamgehang met die bou van die Oosterlyn, wat aan die Republiek ekonomiese onafhanklikheid sou gee. Met die voltooiing van hierdie spoorlyn, kon die ZAR sy goedere onafhanklik van Britse hawens in- en uitvoer, en dit sou dus aan hulle ’n groter mate van selfstandigheid besorg. Middelberg se uitstekende administrasie het die NZASM tot bloei gebring. 

Hy het ten nouste saamgewerk met die regering van die ZAR en het pres. Paul Kruger en sy Uitvoerende Raad dikwels van advies gedien. Gedurende Middelberg se direkteurskap word die Oosterspoor voltooi, aansluiting oor Johannesburg en Vereeniging met die Vrystaatse (of Kaapse) en Natalse spoorwegstelsel bewerkstellig, terwyl ’n spoorlyn in die westelike rigting oor Potchefstroom tot Klerksdorp deur die NZASM gebou word. Onder sy administrasie het nie net die ZAR nie, maar ook die hele Suid-Afrika dus ’n begin gemaak met ’n spoorwegnetwerk. In 1898 tree Middelberg met pensioen af, en in 1899 verlaat die Middelbergs Pretoria. 

Sy weeklikse briewe wat hy van 1896 tot 1899 oor al sy ondervindinge geskrywe het, het veral kultuurhistoriese belang. Hierin kom sy karakter ook duidelik tot uiting. Middelberg het die res van sy lewe in Loenersloot, naby Amsterdam, geslyt, maar het steeds belang gestel in Suid-Afrika. In die Anglo-Boereoorlog het hy ’n aandeel in Nederlandse hulpverlening aan die Boere gehad. Hy was ook as kommissaris behulpsaam met die afhandeling van die sake van die NZASM, wat na 1900 tot likwidasie oorgegaan het as gevolg van die Anglo-Boereoorlog en uit vrees dat Brittanje na die inname van Pretoria deur die Britse troepe beslag op die NZASM-fonds sou lê. Hierdie geld is teruggestuur na Amsterdam en elders in Nederland, waar dit in trust geplaas is onder die naam Zuid-Afrikaansche Stichting Moederland (ZASM), wat voortaan oor die vruggebruik van die fonds sou beskik met kulturele doelstellings – ook vir sover dit die kulturele bande tussen Nederland en Suid-Afrika aangaan. 

Middelberg het Suid-Afrika na sy terugkeer na Nederland nog twee keer besoek, t.w. in 1904 toe hy die stoflike oorskot van pres. Paul Kruger vergesel het, en weer in 1909. Hy sterf op 6 Maart 1916 in Loenersloot. 

1918 – Ds. Philippus Lodewickus (Phil) Olivier, predikant in drie gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, assistentredakteur van die Kerkbode en samesteller van Ons gemeentelike feesalbum († 26 Augustus 2008)

 

Sterftes

1922 – Benedictus de Korte, Transvaalse regter (* 28 Januarie1859)

1974 – Barend Bartholomeus (Bennie) Keet, predikant en een van die vyf vertalers van die 1933-vertaling van die Bybel (* 20 Junie 1885)

Barend Bartholomeus Keet is op Alice, Kaap, gebore. Hy het in dogmatiek aan die Vrye Universiteit van Amsterdam gepromoveer. As student op Stellenbosch het hy hom saam met dr. Tobie Müller beywer vir Afrikaans. Van 1916 tot 1919 was hy predikant op Graaff-Reinet. In die Sinode van die Kaapse kerk in 1919 word sy voorstel aanvaar dat die Bybel in Afrikaans vertaal moet word, en dat leraars Afrikaans op die kansels mag gebruik. Vanaf 1919 het hy professor aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch geword, waar hy aangebly het tot sy aftrede. Hy was ook baie jare lid van die Raad van die Universiteit van Stellenbosch, waar hy aangebly het tot sy aftrede. Hy is aangewys as een van die vyf eindvertalers van die Bybel in Afrikaans. Hier het hy belangrike werk verrig op die Ou en Nuwe Testament. Nadat die Afrikaanse Bybel in 1933 verskyn het, is hy en Totius (prof. dr. JD du Toit) aangewys om revisie van die vertaling te doen. Hierdie revisie het in 1953 verskyn. Op die gebied van die Afrikaanse teologiese literatuur het hy baanbrekerswerk verrig. In 1945 publiseer hy bv. die eerste teologiese etiek in Afrikaans, nl. Sedelike vraagstukke. Prof. Keet is op 21 Junie 1974 op Stellenbosch oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/