Ondersteun die FAK Geskiedenisfonds
April 28, 2016
Koina se musiekinstrumente verwant aan Europa s’n
August 9, 2016

Gebeure

1900 – Anglo-Boereoorlog: Insident by Heuningspruitstasie, OVS

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Olifantsnek, ZAR

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Spitzkrans, Brandwaterkom, OVS wat tot 22 Julie sou duur

 

Geboortes

1812 – Kmdt. Lourens Jacobus (Louw) Wepener, Boerekryger († 15 Augustus 1865)

Louwrens Jacobus Wepener is op hierdie dag in Graaff-Reinet gebore waar hy by sy oom Louwrens grootgeword het. Toe sy broers die Groot Trek vergesel, bly hy in die Kaapkolonie waar hy aan die drie grensoorloë, wat tussen 1834 en 1853 plaasgevind het, deelneem. As waarnemende veldkornet toon hy reeds die dapperheid wat aan voortvarendheid grens. Hy vestig hom in 1850 op die plaas De Nek in die distrik Aliwal-Noord van waar hy aan die Agtste Grensoorlog (1850 tot 1853) deelneem en  vanweë sy uitmuntende leierseienskappe tot kommandant bevorder word. Sy simpatie het by die jong Vrystaatse Republiek gelê, en toe die Kaapse militêre owerheid gelykstelling tussen pandoer en kolonis instel, verhuis hy na die Vrystaat waar hy twee plase in die distrik Bethulie koop naamlik Constantia en Moordenaarspoort. Hy word as waarnemende kommandant aangestel, en in die Tweede Basoeto-oorlog van 1865 toon hy sy militêre vernuf toe hy met ‘n nuwe krygsplan na vore kom deur die bergvestings van die Basoeto’s met die voorlaaierkanon te bestook terwyl die burgers die steil berghange onder dekking van die kanonvuur uitklim. So slaag hy en sy manskappe daarin om die een versting na die ander te oorrompel, tot hulle in Augustus 1865 weer by die hoofmag by Thaba Bosigo kon aansluit. Nadat die eerste aanval op hierdie bykans onneembare bergvesting van Mosjesj op 8 Augustus 1865 misluk het, word die volgende aanval op 15 Augustus 1865 van stapel laat loop. Kmdt-genl Fick verleen aan Wepener toestemming om met 500 vrywilligers gesteun deur ‘n paar kanonne, die bergpoort van agter die Franse sendingstasie te bestorm. Die Basoeto-krygers probeer die aanval stuit deur groot rotsblokke teen die helling af te rol. Na ‘n anderhalfuur se gesukkel teen die feitlik loodregte kranse uit, bereik Wepener en ‘n handjievol staatmakers die bergpoort, wat met klipskanse versper is. In die laat middaguur besluit die onverskrokke Wepener om met slegs die handjievol burgers en met net pistole gewapen, die vyand aan te durf. By die eerste twee skanse slaag hulle daarin om die Basoeto-krygers terug te dwing, maar by die derde word Wepener dodelik gewond. Mosjesj was so beïndruk deur Wepener se dapperheid dat hy geëis het dat sy hart uitgesny en gebraai moet word sodat elke jong kaptein daarvan ‘n stukkie kan eet. Sy stoflike oorskot is aanvanklik op die kruin van Thaba Bosigo begrawe, maar is later deur sy seun weggehaal en op Constantia begrawe. Wepener se heldedaad het as inspirasie gedien vir die vroeë Afrikaanse gedig Ter nagedachtenis aan kmdt Louw Wepener deur FW Reitz.

Die Louw Wepener-dekorasie vir dapperheid is destyds deur die Suid-Afrikaanse Weermag uitgereik aan lede van die Weermag wat buitengwone dapperheid geopenbaar het.

1844 – Stephanus Johannes Roos, Boereveldkornet by Amajuba en in die Mapogoorlog († 28 Februarie 1883)

Stephanus Johannes Roos, Boereveldkornet by Amajuba en in die Mapogoorlog, is op Kaspersnek aan die Blyderivier gebore. Sy vader word in 1860 assistent-veldkornet van die wyk Krokodilrivier. Roos word toe in 1874, na sy vader se dood, aangestel as assistent-veldkornet. Hy onderskei hom reeds in 1876 as ’n dapper krygsoffisier in die veldtog teen Sekoekoenie. Dit was egter die beslissende slag by Amajuba (27 Februarie 1881) dat veldkornet Roos bewys lewer van sy inisiatief en manmoedige optrede. Hy was ook van die eerste manne wat die kruin bereik het. Die ZAR was in 1882 tot 1883 in die Mapogoorlog gewikkel. Terwyl Roos op 28 Februarie 1883 in die Middelburgse distrik op patrollie uit was, word hy noodlottig deur ’n vyandelike koeël getref. Kmdt. Senekal het in November 1882 op dieselfde wyse gesneuwel. Die dorp Roossenekal is na hierdie twee dapper offisiere genoem.

1858 – Mev. Geertruida Anna Kestell, eggenote van ds. JD Kestell († 15 Augustus 1943)

Geertruide Anna Kestell was die oudste dogter van die bekende prof. NJ Hofmeyr van die Kweekskool op Stellenbosch. Terwyl ds. JD Kestell predikant was op Kimberley, is hulle op 28 Februarie 1882 getroud. Dwarsdeur sy kleurryke en veeleisende loopbaan, het sy hom getrou bygestaan en versorg tot sy dood in 1941. Uit hulle huwelik is twee seuns en twee dogters gebore, onder andere die bekende Trudie Kestell, wat ‘n gesaghebbende op die gebied van kleredrag van die voorgeslagte van die Afrikaner was. Mev. Kestell is op 15 Augustus 1943 oorlede.

1861 – Johannes Gerhardus (Jan) Celliers, Boeregeneraal († 9 Januarie 1931)

Johannes (Jan) Gerhardus Celliers is op 21 Julie 1861 in Fraserburg gebore, maar vestig hom reeds as jongeling in Transvaal, waar hy in 1880/81 saam met die Marico-burgers aan die Transvaalse Vryheidsoorlog deelneem. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog was hy aan die Krugersdorpse polisie verbonde, en hy neem aktief aan die oorlog deel. Die wyse waarop hierdie Boeregeneraal die Britse kanonniers buite aksie gestel het, het aan hom wye bekendheid besorg. Hy staan ook bekend as die vader van die aanvalsmetode om in volle jaaggalop te skiet. 

1877 – Harm Oost, joernalisskrywer en politikus († 18 Mei 1964)

Harm Oost was een van die kleurrykste persoonlikhede in die wordingsgeskiedenis van die Afrikanervolk. Hy is in 1877 in Oostwald, Groningen, Nederland gebore. In die laat negentigerjare het hy na Suid-Afrika geëmigreer, hom in Transvaal gevestig en hom dadelik met die Boerevolk en sy Republikeinse staatsvorm vereenselwig. In die Anglo-Boereoorlog is hy gevange geneem nadat hy gehelp het om die Modderrivier-brug op te blaas – ’n daad wat hom amper voor die vuurpeloton laat beland het. 
Na die oorlog het hy hom saam met Gustav Preller beywer vir die opheffing van Afrikaans as kultuurtaal en daarmee die Tweede Taalbeweging begin. Sy toneelstuk, Ou Daniel, die eerste Afrikaanse drama wat in Transvaal geskryf is, is dikwels opgevoer. Hy was ’n knap joernalis en het van 1907 tot 1911 in die redaksie van De Volkstem (redakteur DJ Engelenburg) gedien. As gevolg van politieke oorwegings het hy ’n eie koerantjie, Die Week, begin, wat later deur Die Volk opgevolg is. Die koerante het die beleid van genl. Hertzog verkondig. Later, met die stigting van Ons Vaderland het Harm Oost daarvan redakteur geword, ’n pos wat hy neergelê het toe hy tot die Volksraad verkies is. Tydens die Rebellie het hy hom aan die kant van die rebelle geskaar as sekretaris en hoof van genl. De Wet se lyfwag. Hy is gevang en het 18 maande gevangenisstraf, waarvan vier maande in eensame opsluiting was, uitgedien. In 1912 het hy saam met ses ander, die onder voorsitterskap van Tielman Roos, ’n organisasie gestig om Hertzog se beleid te propageer – voorloper van die Nasionale Party. In die later jare sou Oost sy party se verteenwoordiger in die Volksraad in die kiesafdeling Pretoria-Wes word. In die Hertzog-monument in Bloemfontein vind die Afrikaner rede om Harm Oost te onthou, want dit was sy hartsbegeerte om ’n waardige gedenkteken vir hierdie groot Afrikanerleier te laat oprig. Tot met sy dood was hy voorsitter van die Hertzog-monument-komitee. 

 

Sterftes

1974 – Chris Blignaut, legendariese sanger, musikant, komponis en liriekskrywer (* 27 April 1897)

Met sy voordrag van ligte, humoristies Afrikaanse liedjies, wat hy self op die ukelele begelei het, het Chris August Blignaut groot populariteit geniet en die hele land in die twintiger-dertigerjare deurreis. Die plate wat hy gemaak het, het groot aftrek gekry en ’n groot rol gespeel om die Afrikaner se sanglus aan te wakker en hom aan te spoor om in sy eie taal te sing. Hy is op 21 Julie 1974 oorlede. Die humoristiese en platvloerse het dikwels vir Afrikaans ’n deurbraak op nuwe terreine gemaak, omdat Nederlands aanvanklik gereserveer was vir die ernstiger, dieper dinge. In ’n tyd toe populêre sang gedreig het om heeltemal te verengels en die Afrikaner gekondisioneer is om sy eie taal te verag, het Chris Blignaut se vrolike en selfversekerde sang die volk aangegryp en die besef laat posvat dat dit lekker is om in Afrikaans te sing. 

1989 – Ds. Pieter du Toit, predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, waarvan die laaste 22 jaar tot en met sy dood in NG gemeente Drieankerbaai (* 5 Augustus 1921)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/