20 JANUARIE
January 20, 2016
22 JANUARIE
January 22, 2016

Gebeure

1814 – Cradock in die Oos-Kaap gestig

1814 – Clanwilliam ontstaan

Clanwilliam was eers bekend as Jandisselsvleidorp. Die dorp se eerste naam verwys na Jan Dissel wat ’n plantkundige was en in “Renosterbosch aan de Piquetbergen” gewoon het. Die “dorp” is deur die regering in 1808 aangelê, op grond wat behoort het aan ’n mnr. S van Reenen. Op daardie stadium was dit eintlik weinig meer as ’n pos vir ’n landdros. Clanwilliam, soos ons dit vandag ken, is op 21 Januarie 1814 deur ’n kaptein Williams gestig, en as afsonderlike distrik verklaar. Die dorp is vernoem na die graaf van Clanwilliam.

Gedurende die tyd van die Groot Trek het heelwat families vanuit die Clanwilliam-, Worcester- en Swellendam-omgewing gekom. Die meerderheid Voortrekkers uit die gebied het gekom vanuit die wyke Olifantsrivier, Hantam, Onder-Bokkeveld en Onder-Roggeveld.

1860 – Gereformeerde Kerk in Oos-Kaap

Op Burgersdorp word die eerste Gereformeerde Kerk in die Kaapprovinsie gestig.

1881 – Sir Hercules Robinson arriveer in Kaapstad as goewerneur van die Kaap

1896 – Pres. Kruger stuur Jameson na Engeland om gestraf te word

1901 – Anglo-Boereoorlog: Krygsgevangenes

Die Orient neem 600 Boere-krygsgevangenes na die eiland St Helena in die Atlantiese Oseaan.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Emily Hobhouse mag konsentrasiekampe besoek

Emily Hobhouse ontvang amptelike toestemming om enige konsentrasiekamp in Transvaal en Oranjerivier Kolonie te besoek. Op die end mag sy egter geen kamp anderkant Bloemfontein besoek het nie.

1901 – Anglo-Boereoorlog

Lord Milner skryf ’n brief aan Chamberlain. Hy noem dat hy ten gunste is van beter behandeling van die Boere, maar eers as hul verslaan is.

1902 – Anglo-Boereoorlog: Veldhospitaal word aangeval

Ongeveer 250 Britse soldate komende vanaf Lichtenburg se kant val generaal De la Rey se veldhospitaal naby Leliesdal, distrik Coligny, aan. Generaal Celliers en kmdt. Viljoen verskyn op die toneel. Die Britse magte lê die rieme neer en ’n agterhoede geveg is die gevolg. Sowat 80 Britse soldate word gewond, sneuwel of word gevang. Slegs een burger het gesneuwel.

1918 – Suid-Afrikaanse Nasionale Trust- en Assuransiemaatskappy (Santam) kry sy naam

Op ’n vergadering van 5 Desember 1917 in die ou Royal Hotel in Kaapstad beplan sewe manne die Afrikaner se daadwerklike toetrede tot die ekonomiese stryd en word daar besluit om ’n Afrikaanse maatskappy te stig wat alle vorme van trustwerk en versekering kan hanteer. Die betrokkenes was mnr. CG Fichardt (voorsitter), WA Hofmeyr, CR Louw, PA Malan, FH Dormehl, AFJ Bennning en A MacDonald (sekretaris). ’n Voorlopige direksie word gekies en hulle aanvaar op 21 Januarie 1918 die naam Suid-Afrikaanse Nasionale Trust- en Assuransiemaatskappij Beperk (Santam). ’n Week later verskyn ’n gedrukte prospektus, en 200 000 aandele van R2 elk word aangebied. Op 28 Maart 1918 word Santam as maatskappy geregistreer. In 1953 word die trust- en versekeringsbedrywighede geskei en Santam-Versekeringsmaatskappy Beperk word op 29 Julie 1953 geregistreer. Die oorspronklike geregistreerde naam word op 25 Oktober 1966 verander in Santam-Bank Beperk. Santam betree ook ander gespesialiseerde finansiële terreine soos die aksepbankwese, die groeifondswese en die herversekeringswese, stig die eerste lugvaartversekeringsmaatskappy in Suid-Afrika en lê hom toe op internasionale finansies. In 1978 vind ooreenkomste met die Bankbeheerkorporasie van Suid-Afrika plaas, en verskeie bankbelange word saamgesnoer in ’n vergrote Santam-bank Beperk, met die voortsetting van die afsonderlike versekeringsbelange in Santamversekeringsmaatskappy Beperk. Santam het ook geglo dat dit die handel en nywerheid se taak is om daadwerklik en positief by te dra tot die kulturele, opvoedkundige en morele welsyn van die gemeenskap waaruit hy sy bestaan geput het, en het in 1963 begin om jaarliks ’n wedstryd vir kinderkuns aan te bied waarvan inskrywings op sy kalenders afgedruk is.

Sanlam se eerste takkantoor te Moorreesburg, geopen 1 Junie 1918

1960 – Die Coalbrook-ramp

435 Mynwerkers val toe in die Coalbrook-steenkoolmyn in die Vrystaat. Dit het aanleiding gegee tot ’n massiewe reddingspoging wat bykans drie weke geduur het om lug, water en kos by die mynwerkers te kry wat “600 voet onder die oppervlakte” vasgekeer is. Ten spyte van al die moeite, oorleef niemand hierdie ramp nie.

1969 – Suid-Afrika teken ’n verdrag met Portugal, wat namens Angola optree, oor die eerste fase ontwikkeling van die waterhulpbronne van Kuneneriviervallei.

 

Geboortes

1854 – Petrus Postma, predikant en Christelike onderwysaktivis († 4 Oktober 1919)

Ds. Petrus Postma was ’n predikant in die Gereformeerde Kerk. Hy word veral daarvoor onthou dat hy tydens sy 22 jaar lange dienstyd as predikant van die Gereformeerde gemeente Pretoria pres. Paul Kruger, ook ’n Dopper uit die Noordoos-Kaap, se kapelaan en getroue raadgewer, veral oor godsdiens- en opvoedingsaangeleenthede, geword het en baie verrig het ter bevordering van Christelik-Nasionale Onderwys.

1881 – Christiaan Rudolph Kotze, Boerekryger en predikant († 25 Desember 1950)

Christiaan Rudolph Kotze het as jong vrywilliger aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem, maar is weldra gevange geneem en na St. Helena gestuur. In 1911 is hy as predikant van die NG Kerk in Salisbury bevestig, en hy word leier van die Afrikaner se stryd vir skoolregte in Rhodesië. Gedurende sy bediening in Kimberley het hy hom sterk vir die Helpmekaarbeweging beywer, en op Tarkastad het hy Afrikaans in die kerklike lewe tot sy reg laat kom. As leraar van die moedergemeente Bloemfontein (1934–1947) het hy hom onversaag vir die breëre volksaak beywer, onder meer as medestigter van die Ossewa-Brandwag en van die Algemene Dingaansfeeskommissie van Suid-Afrika.

 

Sterftes

1997 – Jaco Reinach, rugbyspeler en atleet (* 1 Januarie 1962)

Jaco Reinach was die laaste sportman wat Springbok-kleure vir atletiek en rugby behaal het; hy was lank die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 400 meter en het twee toetsdrieë teen die Nieu-Seelandse Kavaliers gedruk. Hy is op 21 Januarie 1997 oorlede, maar sy seun, Cobus, is self ’n Springbok-rugbyspeler.

1940 – Johannes Hendrik Conradie, politikus en administrateur van Kaapland (* 10 Februarie 1872)

Johannes Hendrik Conradie is op 10 Februarie 1872 op die plaas Rietvlei in die distrik Prins Albert gebore. Hy het hom op ’n onderwysloopbaan toegelê en op 24-jarige leeftyd is hy as hoof van die Greykollege in Bloemfontein aangestel. In die Engelse Oorlog is hy deur die Britte gevange geneem, maar na ’n ruk op parool vrygelaat, waarna hy hom ’n paar jaar lank op Stellenbosch gevestig het. In 1912 is hy aangestel as superintendent van die arbeidskolonie op Kakamas. Agt jaar later, en weer in 1924, is hy, as kandidaat van die Nasionale Party, verkies tot lid van die Volksraad vir die kiesafdeling Prieska. In 1929 is hy aangestel as Administrateur van Kaapland – ’n betrekking wat hy tien jaar beklee het. As administrateur word hy onthou as ’n man wat onder moeilike omstandighede gedurende die depressiejare Kaapland se sake met buitengewone bekwaamheid gelei het – iets wat by vriend en vyand bewondering afgedwing het.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki