20 FEBRUARIE
October 31, 2016
22 FEBRUARIE
October 31, 2016

Gebeure 

1657 – Eerste toekenning van grond aan Vryburgers aan die Kaap 

Op hierdie dag het die eerste “nege vrije luyden” grond aan die Kaap gekry. Die burgers kon hulle eie grond uitkies en is in twee kolonies gevestig, nl. Harmanskolonie en Stevenskolonie. Hulle moes die landbou op vasgestelde voorwaardes bevorder. Die Kompanjie sou aan die Vryburgers plaasgereedskap en trekosse voorsien, en verdere benodigdhede kon hulle op krediet van die Kompanjie koop. Dit was hulle toegelaat om vrylik handel te dryf met die skepe vanaf die derde dag dat die bote die hawe binnegekom het. Onder hierdie bedeling sou die burgers dus vrygestel word van diens aan die VOC. Die volksplanting is bevestig en volkswording is moontlik gemaak. Die Vryburgers se status het verander van werknemers tot werkgewers, en hulle sou op selfstandige wyse die beroep beoefen wat hulle nageslagte jare lank na hulle sou doen, naamlik die van boer, waaruit die eretitel Boer gegroei het. Die feit dat hulle nou grondbesitters was, het die Vryburgers in die Suid-Afrikaanse bodem laat wortelskiet; dit het aan hulle ’n eie trots gegee en later ’n nasionale gevoel en ’n gevoel van samehorigheid gekweek. Die feit dat hulle vrye burgers was, het hulle in die geleentheid gestel om later die binneland te verken en plase noordwaarts te beset om sodoende die blanke beskawing uit te dra. Hulle was nou nie meer emigrante arbeiders weg van Nederland nie – Suid-Afrika het hulle vaderland geword. Die instelling van die Vryburgers kan dus beskou word as die geboorte van die Afrikaanse volk. Hier het ons volk sy eie tuiste gevind as grondbesitters in ’n eie land. 

1803  Brittanje gee die Kaap terug aan Nederland en die vlag van die Bataafse Republiek word by die Kasteel gehys 

Ingevolge die Verdrag van Amiens, onderteken in 1802 (tussen Engeland en Frankryk), het die Britte die Kaapkolonie amptelik op 21 Februarie 1803 aan Nederland terugbesorg. Daarna is dit hernoem na die Bataafse Republiek en die vlag van die Bataafse Republiek is by die Kasteel gehys. Die Nederlanders regeer slegs drie jaar (1803-1806)Kommissaris-generaal JA de Mist en die goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop, luitenant-generaal JW Janssens, het tot ontwikkeling en hervorming bygedra. In kort is die koloniale geskiedenis van die Kaap die Goeie Hoop vanaf die eerste besetting in 1652 soos volg: Nederlandse heerskappy in die Kaapkolonie 1652-1795; Britse besetting 1795-1803; Terugkeer na die Nederlandse bewind 1803-1806; Tweede Britse besetting 1806. 

1876 – Eerste sessie van Hooggeregshof

Hoofregter FW Reitz open die eerste sessie van die Hooggeregshof van die Oranje-Vrystaat.

1892 – ’n Groot brand in Kaapstad verwoes talle geboue 

1937 – Eerste hofuitspraak in Afrikaans 

Die Engelssprekende regter, RPB Davies, lewer die Kaapse Hooggeregshof se eerste uitspraak in Afrikaans. 

1986 – Stel blanke groepsgebiede oop 

Die Suid-Afrikaanse regering stel blanke groepsgebiede in die middestad van Johannesburg en Durban vir alle rasse oop in die eerste wegbreek van die apartheidsbeleid van afsonderlike sakegebiede. 

 

Geboortes 

1877 – Prof. JD du Toit (Totius), digter, predikant en hoogleraar aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk († 1 Julie 1953) 

Jacob Daniël du Toit is meer bekend onder sy digtersnaam Totius – die naam wat sy studentevriend, BJ Esser in 1901 in Amsterdam aan hom gegee het. Sy lewe, wat vroeg in 1877 in die Paarl ’n aanvang geneem het, vind 76 jaar later ’n graf in Potchefstroom. ’n Buitengewoon vol lewe: skitterende student, Kaapse rebel saam met die Boeremagte, ’n predikant, ’n professor in Teologie, ’n Bybelvertaler, ’n volksman, ’n kerkman, ’n Psalmberymer, ’n taalstryder, ’n digter … onder sy eie mense en oorsee geniet sy werk groot erkenning: nege doktorsgrade word aan hom toegeken! Dr. JD Kestell noem hom op ’n keer namens die volk: “Ons innige geliefde Totius.” Duisende het gewag op sy boodskap soos in die stadsale van Johannesburg en Bloemfontein, by ons grootste monumente soos die Vrouemonument en die Voortrekkermonument. In sy tuisdorp het hy sy studente geïnspireer met sy lesings, en Sondae is die kerkvolk meegesleep met sy prediking. Uit die ryke verskeidenheid van Suid-Afrika se bodem, is hierdie seun van hom gevoed: die Paarl in die Boland, waar hy gebore is in die lug van die Genootskap van Regte Afrikaners, die Magaliesberge in Rustenburg se wêreld, waar die woord vryheid ’n betekenis in die gees van Paul Kruger kry, Burgersdorp in die Oos-Karoo, waar die mense taai is soos die besembosse teen die kliprante. En dan volg ons hom saam met die burgers van die twee Boererepublieke. Totius se spore gaan ook langs die hange van die Natalse slagvelde, waar hy gewondes moet versorg en lyke moet dra. Ons vind hom in die vuurlinie van Magersfontein naby Kimberley. As Kaapse rebel moet hy saam met ander voor die oorwig van lord Roberts uitwyk, en dit laat hom in Amsterdam beland. Dit is ’n beskikking wat hom ’n groot geleerde maak. Hierna kry Totius ’n woonplek op Potchefstroom, waar hy op die puinhope van die oorlog oor die hele Wes-Transvaal predikantswerk moet doen. Hier word hy professor, skryf hy sy gedigte, hier naby tussen ’n lap doringbome vertaal hy die Bybel in Afrikaans en berym hy die Psalms. Hier in Potchefstroom word twee kinders binne twee maande deur die dood weggeruk. Maar Passieblomme word gebore en Totius se verlies was die volk se wins. Die profeet van die ou hoofstad van Transvaal, het ook die profeet van die Afrikanervolk geword. Hy is op 1 Julie 1953 in Pretoria oorlede. 

1903 – Gerard Rissik, bankier en die vierde president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank († 4 Oktober 1979) 

 

Sterftes 

Geen 

 

Bronne: 

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK. 

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel. 

https://www.sahistory.org.za 

https://af.wikipedia.org/wiki/