20 DESEMBER
December 20, 2016
22 DESEMBER
December 22, 2016

Gebeure

1838 – Voortrekkerkommando kom by Dingaan se afgebrande stat aan

1880 – Krygswet word in die ZAR afgekondig

Die gebruik om deur vervorming van ’n persoon se naam of ’n gebeurtenis, dikwels met ’n bewuste ironiese bedoeling, daardeur ’n persoon se aansien en status te verlaag of aan te dui welke afkeer daar jeens iemand bestaan, kom ook in die Suid-Afrikaanse geskiedenis voor. Dit is veral so wanneer die burgers direk geraak is, byvoorbeeld deur anneksasie. Rondom die anneksasie van ZAR in 1877 en die daaropvolgende Vryheidsoorlog het heelwat van hierdie volksetimologieë ontstaan en was dit veral Britse amptenare en militêre gesagvoerders wat die voorwerpe van Afrikaner-ironie was. Ná die onverwagte anneksasie van die ZAR deur sir T Shepstone in 1877, verwerf hy die naam Duiwel-se-Slypsteen of Die-ou-vuilis-slypsteen.

Die Kaapse goewerneur en Britse hoë kommissaris, sir Bartle Frere, wat na die Kaap gestuur is om die federasie van Suider-Afrika ná 1877 te bewerkstellig, is na verwys as Bottelbier, terwyl WE Gladstone, Britse premier tydens die Vryheidsoorlog van 1880 tot 1881, Gladsteen genoem is. Owen Lanyon, wat met die uitbreek van die oorlog administrateur van Transvaal was en om verskeie redes ongewild was, het die naam Ouwyn Langjan, gekry.

Op 20 Desember 1880 het ’n kommando onder kmdt. Frans Joubert die Britse troepe onder lt.kol. PR Anstruther, beslissend by Bronkhorstspruit verslaan. By ontvangs van hierdie nuus het Lanyon op 21 Desember 1880 krygswet (martial law) oor die hele Transvaal afgekondig – ’n daad waaraan die burgers, met klaarblyklik weinige ontsag daarvoor, die meisienaam Martjie Louw gegee het. Ook Britse amptenare en militêre gesagvoerders in die Tweede Vryheidsoorlog het deurgeloop. Met die uitbreek van die oorlog is sir Redvers Buller as hoof van die Britse magte in Suid-Afrika aangestel – spoedig was hy hier te lande bekend as Rooiversbul. Lord Roberts het Buller opgevolg en hier is, na aanleiding van sy militêre suksesse in Kandahar, Indië, na hom verwys as Roberts van Kandaar is nie Roberts van Kan-hier. Ná die oorlog toe die repatriasie van Boere-krygsgevangenes aan die gang was, is daarna verwys as rypatrys.

1900 – Kitchener-memorandum oor konsentrasiekampe uitgereik

Die totstandkoming van konsentrasiekampe in Suid-Afrika tydens die Anglo-Boereoorlog, waardeur ’n bykans onuitwisbare letsel op die Afrikanervolk gelaat is, was in hoofsaak ’n uitvloeisel van die beleid van brandstigting en verwoesting wat deur die Britse militêre owerheid in werking gestel is. Hierdeur is die nie-vegtende deel van die bevolking in die republieke by die oorlog betrek, en die Britse owerheid was van oortuiging dat die aantasting van hul vroue en kinders die Boeremagte tot oorgawe sou dwing.

Die wegvoering van vroue en kinders na kampe sou voorts ’n einde bring aan die bevoorrading van die Boeremagte deur die vroue op die plaas, alles faktore wat ’n spoedige einde van die oorlog in die hand moes werk. Vyftig konsentrasiekampe, waarin tot 110 000 mense oor ’n tydperk van minder as twee jaar gehuisves was, het gevolglik van die einde van 1900 af tot in 1902 tot stand gekom. Die inwonertal van die konsentrasiekampe was byna vier keer meer as die getal krygsgevangenes wat hier te lande en oorsee in kampe aangehou is.

Anders as in die krygsgevangenekampe waar die sterftesyfer relatief laag was, was die toestand in die konsentrasiekampe so haglik dat die sterftesyfer die hoogte ingeskiet het. Benewens die 1676 mans bo die ouderdom van 16 jaar wat in die konsentrasiekampe oorlede is, het 26 370 vroue en kinders in die minder as twee jaar omgekom.  Natuurlik het die Engelse hierdie genadelose hoë sterftesyfer aan die sogenaamde onhigiëniese leefwyse van die kampinwoners self toegedig, terwyl swak mediese dienste, ondoeltreffende huisvesting en gebrekkige voedselrantsoene as oorsake aanvanklik geheel en al buite rekening gelaat is en die moorde op klein pasiëntjies soos die graf verswyg is.

Waar dit in die kampe grootliks om ’n stryd om oorlewing gegaan het, het die kamplewe min wat opwindend was aan sy inwoners gebied. Die bywoning van kerkdienste en die beoefening van hul godsdiens was die enigste geestelike aktiwiteit waaraan die inwoners deel kon neem. Kamparbeid is nie op groot skaal bedryf nie, deels as gevolg van die probleme wat bestaan het om genoegsame grondstowwe aan die kampe te voorsien. Die gevolg was dat, behalwe die versorging van hulle gesinne, die inwoners min gehad het waarmee hulle hul nuttig kon besig hou. Vir die kinders in die kampe is skole opgerig waar hulle onderrig ontvang het. Die voertaal was egter Engels, want die Britse owerheid het hierin ’n geleentheid gesien om die Afrikanerkind te verengels. So maklik was dit egter nie om die Afrikaner van sy taal en geestesgoedere te vervreem nie. Die oorgrote meerderheid van die kampbevolking was Afrikaanssprekend en Afrikaans was die taal wat in die kampe gepraat is.

Om die lewe vir die inwoners nog meer ondraaglik te maak is in die meeste kampe afsonderlike strafkampies opgerig waarin “opstandige” vroue ’n paar dae lank aangehou kon word. Maar te midde van al die vernedering en ontbering wat hulle in die kampe moes verduur, was dit die Afrikanervrou wat enduit vas kon bly staan, en wat ter wille van onafhanklikheid hul mans en seuns aangespoor het om die stryd voort te sit.

Die veroweraar se oogmerk en laakbare wyse om deur die lyding van die vrou en kind die Boeremagte se weerstand op die slagveld te breek en hulle tot oorgawe te dwing, het nie die Afrikanervrou gebreek nie; haar dapperheid, moed en opoffering het haar in werklikheid as heldin na vore laat tree.

1911 – Die pos in Suid-Afrika per vliegtuig vervoer (tussen Kenilworth en Muizenberg)

 

Geboortes

1870 – Sir Patrick Dunn, sesde goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika († 17 Julie 1943)

Sir Patrick Duncan was die sesde goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika en die eerste bekleër van dié amp wat deur Suid-Afrika self aangewys is.

1936 – Adam Small, digter en dramaturg († 25 Junie 2016)

Adam Small was ’n skrywer en een van die belangrikste Afrikaanse verteenwoordigers van die Swartbewussynsbeweging. Small het veral bekend geword deur sy gedigte en toneelstukke. Hy is veral bekend om sy aktualiteitspoësie en die belangrike drama Kanna hy kô hystoe.

 

Sterftes

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/