19 SEPTEMBER
September 19, 2015
21 SEPTEMBER
September 21, 2015

Gebeure

1879 – Die telegraaflyn tussen Kaapstad en Johannesburg geopen

1914 – Begrafnis van generaal Koos de la Rey op Lichtenburg

 

Geboortes

1700 – Hendrik Swellengrebel, enigste Kaaps-Hollandse goewerneur wat in die Kaap gebore is (26 Desember 1763)

Hendrik Swellengrebel, op 20 September 1700 in Kaapstad gebore, het op hierdie dag in Utrecht, Nederland, gesterf. Hy het oor jare skitterende diens as amptenaar gelewer nadat hy op 13-jarige ouderdom vir die VOC begin werk het. Hy was die eerste en enigste gebore Kapenaar wat goewerneur (in 1739) geword het. Sy swaers was onder andere Ryk Tulbagh en ds. Franciscus le Sueur. Swellendam is na hom en sy eerste eggenote, Helena Willemina ten Damme, ook ’n gebore Kapenaar, genoem. Hy het in 1751 uit die diens getree en in Nederland gaan woon. Dorp- en gemeentestigting, ’n nuwe ankerplek, die oprigting van staatsgeboue en bestendige binnelandse groei het sy bewind gekenmerk. In 1742 het hy die verbod van 1738 herhaal dat “gestreepte esels” nie geskiet mag word nie, en dat 100 riksdaalders betaal sou word vir elk wat lewend na die Kasteel gebring word. Hy het die bewaringsgedagte dus vroeg beklemtoon.

1859 – John William Jagger, kabinetsminister en sakeman († 20 Junie 1930)

John William Jagger was ’n Suid-Afrikaanse sakeman en kabinetsminster. Hy kom in 1880 na Suid-Afrika en word ’n klerk in ’n sakeonderneming in Kaapstad. In 1883 stig hy sy eie onderneming as invoerder van weefstowwe en lê die grondslag vir die latere bekende firma met sy naam. Hy het ywerig in die ekonomie belang gestel en word ’n woordvoerder vir die handel. In 1902 of ’03 word hy lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering (waar hy ’n groot voorstander van vrye handel was) vir Kaapstad, later vir Kaapstad-Sentraal in die Unie-Volksraad. Van 1908 tot 1909 is hy lid van die Nasionale Konvensie wat die Suid-Afrika-wet opstel en die weg baan vir Uniewording. Hy word in die verkiesing van 1915 herkies as Unie-Volksraadslid. In 1921 word hy minister van spoorweë in genl. Jan Smuts se kabinet. Hy moes die ongewilde beleid van afleggings uitvoer. Hy het ruim bygedra tot die opvoedingsaak en die Jagger-biblioteek aan die Universiteit van Kaapstad is na hom genoem. Hy sterf in 1930 in die Moederstad.

1904 – Pieter Johannes (PJ) Schoeman, skrywer († 5 Julie 1988)

Pieter Johannes Schoeman is in die distrik Utrecht, Natal, gebore. Hy was een van nege broers en het as plaasseun grootgeword in die vrye natuur en in noue aanraking met die Zoeloe. Sy eerste “skoolkamer” was die veld en eers op ongeveer veertienjarige leeftyd besoek hy gereeld die skool, ’n paar jaar in Natal en later die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg, waar hy matrikuleer. Hierna gaan hy na Stellenbosch en bestudeer daar Bantoetale en Volkekunde. Hy promoveer in 1934 en is ’n tyd lank joernalis by Die Vaderland in Pretoria. Kort daarna is hom ’n pos aangebied as senior lektor in Volkekunde aan sy eertydse Alma Mater. In 1938 word hy bevorder tot hoogleraar, maar teen die einde van 1946 bedank hy en wy hom uitsluitlik aan skryfwerk. Hy het op Stilbaai gaan woon en oor ’n periode van vier jaar sy gewilde Fanie-boeke geskryf. In 1951 is hy genader om by Sangiro oor te neem as hoofwildbewaarder van die Etosha-Kaokoveldgebied in Suidwes-Afrika. Hy het die pos aanvaar en dit vyf jaar lank beklee. Sedert 1957 woon hy op Stellenbosch, waar hy al sy aandag aan skryfwerk wy. Baie bekend en gelief is sy jagverhale waarvan ’n aantal veral vir die jeug bedoel is. Só is die Scheepersprys vir Jeuglektuur deur die Akademie twee maal aan hom toegeken. In sy talle prosawerke vind ’n mens sy hartstog vir die wildernis in sy jag- en diereverhale, en intiem daarmee verweef sy simpatieke benadering van die natuurmens – die Swazi, die Zoeloe en die Boesman. Hy publiseer onder meer: Die swerwerjagter (1933), Drie jong jagters (1935), Mboza die Swazi e.a. verhale (1939), Op die groot spore (1942), Op die klein spoortjies (1944), Fanie se veldskooldae (1948), Op ver paaie (1949), Trados, die swerwerboesman (1963), Uit die dagboek van ‘n wildbewaarder (1967) en Jabula, die Zoeloe (1972).

 

Sterftes

1916 – Andries Petrus Cronjé, krygsman en staatsman (* 1 Januarie 1833)

Andries Petrus Cronjé is op Nuwejaarsdag in 1833 in die distrik Riversdal gebore. In 1839 verhuis die gesin Cronjé na die Transgariep. Hy onderskei hom van sy jeugjare af as kryger: as seun in die slag van Boomplaats op 29 Augustus 1848, en as veldkornet in die Basoetoe-oorloë. Later was hy heemraadslid, spesiale vredesregter en twee keer Volksraadslid vir Zandrivier in die  Vrystaat tot 1899. In 1895 word hy kommandant, en met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 veggeneraal. Hy het hom in verskeie groot veldslae onderskei en is deur pres. MT Steyn as lid van die Vrystaatse Regering-te-velde benoem. Op 11 Julie 1901  is hy saam met die res van die regering (met uitsondering van pres. Steyn) gevang en na Bermuda verban. Ná die Vrede van Vereeniging het hy oor New York na Suid-Afrika teruggekeer en in 1907 lid van die Wetgewende Raad van die Oranjerivier-kolonie geword, totdat hy hom in 1910 aan die politiek onttrek. Hy is op Welgelegen, in die distrik Winburg, oorlede.

1943 – Andrew Murray McGregor, predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, waarvan ’n kwarteeu in die NG gemeente Drieankerbaai, Kaapstad (* 1873)

2010 – SJA (Ina) de Villiers, skrywer van seker die bekendste kookboek in Suid-Afrika, Kook en Geniet (* 24 Februarie 1919)

Ina de Villiers was die skrywer van die Afrikaanse kookboek, Kook en Geniet, wat ook in Engels vertaal is. Daar is in 2005 geskat dat meer as ’n half miljoen Afrikaanse eksemplare verkoop is. Teen die tyd van die skrywer se dood het verkope in beide tale meer as ’n miljoen oortref, wat dit die suksesvolste Suid-Afrikaanse kookboek ooit maak. Sedert die eerste uitgawe tot die outeur se dood was die boek nooit uit druk gewees nie.

2018 – Pieter Kooij, pianis, musiekonderwyser en -resensent (* 4 September 1937)

Pieter Kooij was ’n Suid-Afrikaanse pianis en musiekonderwyser en -resensent. Sy ouers was Johan en Elizabeth. Hy het ’n BMus (Hons) graad aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en is daarna met ’n beurs na Duitsland waar hy vir 3 jaar klavier studeer het. Hy was musiekresensent by Die Burger en die Pieter Kooij-musiekkompetisie is na hom vernoem. Hy sterf op 20 September 2018 in die ouderdom van 81 aan leukemie en word oorleef deur drie susters. Sy twee broers het hom reeds ontval.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/