19 JULIE
July 13, 2015
22 JULIE
July 22, 2015

Gebeure

1848 – Andries Pretorius dwing majoor Warden tot oorgawe in Bloemfontein

1888 – Die Nieuwe Republiek word in ZAR opgeneem

Die Nieuwe Republiek, gevestig in Noord-Natal op grond wat deur Dinizulu aan burgers toegeken is, nadat hy Zinhebhu gewen het en Cetshwayo as Zulukoning opgevolg het, is op versoek in die ZAR opgeneem weens finansiële probleme en word die Vryheidse distrik.

1900 – Christiaan en Piet de Wet se rusie

Op die plaas Blesbokfontein tussen Lindley en Heilbron vra Piet de Wet sy broer, genl. Christiaan de Wet, of hy regtig dink dit het enige nut om met die Anglo-Boereoorlog voort te gaan. Die broers is ná die rusie nooit versoen nie.

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1901 – Gezina Susanna Kruger (neé du Plessis), eggenote van pres. Kruger (* 5 Mei 1831)

Met Gezina Kruger se afsterwe op hierdie dag het sy pres Kruger diep bewoë en verslae in ballingskap agtergelaat. Meer as 55 jaar lank het sy hom as troue lewensmaat in voor- en teëspoed bygestaan. Gezina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis is gebore op 6 Mei 1831 en maak as kind die Groot Trek mee in die Potgietertrek. As jong seun het Paul Kruger haar, ‘n niggie van sy eerste vrou, geken en na die dood van sy eerste vrou is hy met Gezina in Januarie 1846 getroud. Uit hulle huwelik is sestien kinders gebore. Gezina het jare lank met swak gesondheid gesukkel en etlike kere by die dood omgedraai. Toe Kruger in 1877 na Europa moes vertrek om teen die anneksasie van Transvaal beswaar te maak moes hy haar siek op Boekenhoutfontein agterlaat. Weens sy toenemende politieke bedrywighede het Kruger in 1881 besluit om permanent in Pretoria te gaan woon. In 1883 word hy vir die eerste keer tot president verkies. Ten spyte hiervan het die Krugergesin hulle natuurlike en eenvoudige huislike lewe voortgesit. As boerevrou hou Gezina melkkoeie aan op hulle groot erf in Kerkstraat en kry hulle al hul lewensbenodigdhede van hulle plaas af. Aan haar man se toenemende openbare bedrywighede het sy nie deelgeneem nie. Sy verskyn op geen foto waar die President in die openbaar verskyn nie. As tipiese Afrikanervrou van die negentiende eeu het sy dit as haar eerste plig gevoel om vir haar man ‘n rustige en warme huislike lewe te skep en ‘n goeie moeder vir hulle groot gesin te wees. Sy was ‘n knap huisvrou en bekend vir haar pragtige fyn naaldwerk.  Volgens getuienis van tydgenote was sy ‘n sagte mens, beskeie, vriendelik en altyd bereid tot opoffering. Vir die President was sy ‘n steunpilaar, en hy was afhanklik van haar toegewyde versorging. Op portrette waar sy in deftige boeredrag as Presidentsvrou verskyn is haar houding rustig en kalm, die blik in die helder oë onbevrees. Gezina Kruger was diep godsdienstig en gelowig. Saam met die President besoek sy gereeld die Gereformeerde Kerk in Kerkstraat waar hulle kerkstoele vandag nog bewaar word. Soos vir talle Afrikanervroue in hierdie jare help haar geloof haar deur moeilike tye en kry sy krag om beproewinge te verduur en te berus. Kort voor haar dood was haar laaste boodskap aan haar man dat hy sy vertroue in God moet stel. As Presidentsvrou het sy ook die smart en ontwrigting van die Engelse Oorlog beleef. Vol kommer het sy die verloop van die oorlog saam met die President gevolg. Vier van haar seuns, vyf skoonseuns en 33 kleinseuns was op kommando. Saam met duisende ander Afrikanervroue in hierdie jare, in konsentrasiekampe of vlugtend in die veld, het sy die smart beleef van mans en seuns wat gesneuwel het of gevange geneem is. Toe pres Kruger op 29 Mei 1900 in ballingskap vertrek kon sy hom weens swak gesondheid nie vergesel nie. Dit moes ‘n bitter afskeidsuur gewees het met die wete dat hulle mekaar waarskynlik nooit weer sou sien nie. Op 20 Julie 1901 het Gezina sag en berustend heengegaan. Sy was ‘n voorbeeld van die tipiese Afrikanervrou van daardie eeu, gevorm en gestaal deur die patriargale pionierslewe – vroue wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie, bekwaam en selfstandig. In haar loop ook soos ‘n goue draad dié dinge wat die Afrikanervrou van die negentiende eeu as kultuurdraer gekenmerk het: haar geloof en nasietrots wat sy as vanselfsprekend aanvaar en uitgeleef het.

1944 – Ds. David Wilcocks, Afrikaanse predikant wat tronkstraf uitgedien het vir dankgebede ná Boereoorwinnings by Colenso en Magersfontein (* 13 Februarie 1861)

Hy het aan die Victoria Kollege op Stellenbosch gestudeer en is in 1890 gelegitimeer. Hy het op Vryburg, Mosselbaai en weer op Vryburg as NG predikant gearbei toe hy in 1900 aan hoogverraad skuldig bevind is na aanleiding van sy dankgebede uitgespreek vir die Boere-oorwinnings wat by Colenso en Magersfontein 1899 behaal is. Hy is tot twaalf maande gevangenisstraf by Tokai gevonnis waar hy in die tyd onderwys gegee het. In 1903 is hy na Aliwal-Noord, 1906 na Prins Albert, 1911 weer na Mosselbaai, 1921 na Riebeeck-kasteel en van 1925 tot 1932 dosent aan die Wellingtonse Sending instituut. Hy is op 20 Julie 1944 oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/