19 FEBRUARIE
October 31, 2016
21 FEBRUARIE
October 31, 2016

Gebeure 

1656 – Jan van Riebeeck se seuntjie oorlede 

Anthony, die babaseuntjie van Jan en Maria van Riebeeck, het slegs twee maande oud geword. Omdat daar gedurende hierdie tyd geen predikant aan die Kaap was nie, het hy gesterf sonder dat hy gedoop is. Die sterftesyfer onder jong kinders was in die 17de eeu ontsettend hoog. Jan en Maria van Riebeeck moes reeds in Nederland hulle oudste seuntjie aan die dood afstaan. Dit is ook bekend dat van Abraham van Riebeeck, seun van Jan van Riebeeck, se elf kinders slegs drie volwassenheid bereik het. Dit was die gebruik onder die hoë amptenare van die VOC om hulle seuns na Nederland te stuur om daar onderrig te word. So het Van Riebeeck sy twee oudste seuntjies, Lambertus en Abraham, wat op 20 Maart 1660 saam met die skipper Douwe Aukes na hulle oom, Abraham Quevellerius, in Rotterdam vertrek het, nooit weer gesien nie. 

1751 – Ryk Tulbagh nuwe Kaapse goewerneur

Hendrik Swellengrebel word deur Ryk Tulbagh as die nuwe Kaapse goewerneur opgevolg.

1803 – Kaap word Bataafse Republiek

Brittanje het die Kaap die eerste keer gedurende 1795 beset. Na ondertekening van die Vrede van Amiens op 1 Januarie 1803 het die Kaap weer oorgegaan na Hollandse bestuur. Op Sondag, die 20ste Februarie, 1803 het die eerste troepe aan wal gestap en het die Kaap ’n Bataafse Republiek geword. Die volgende dag het die Hollandse vlag weer oor die Kasteel gewaai.

1813 – Die Britte se verengelsingsbeleid 

Die Britse goewerneur, sir John Cradock, het in September 1811 die leisels oorgeneem by die Graaf van Caledon as goewerneur aan die Kaap. Die Britte het n baie meer outokratiese regering in die Kaap ingestel as in sy ander kolonies. Die Kaapse goewerneur het al die wetgewende, uitvoerende en regterlike magte gehad. Sy besluite is slegs aan die Britse Minister van Kolonies voorgelê vir goedkeuring. 

Een van Cradock se heel eerste stappe was om n goewerments- kennisgewing op 20 Februarie 1813 te publiseer waarin ouers en onderwysers die noodsaaklikheid van n goeie kennis van Engels op die hart gedruk is. Hy gee n uiteensetting van die moeilikhede en nadele verbonde aan vertaalwerk in die regeringskantore. Die kennisgewing bepaal dan dat slegs persone wat Engels magtig is by nuwe aanstellings in ag geneem sal word. Ná tien jaar was daar feitlik niemand in die regeringskantore wat nie behoorlik Engels geken het nie. Geleidelik is die heel staatsdiens totaal verengels, veral deur die toedoen van lord Charles Somerset se proklamasies, wat Cradock in 1814 opgevolg het. 

1859 – Ontstaan van Turffontein 

Die plaas Turffontein in die Suid-Afrikaanse Republiek is geregistreer in die naam van Abraham Smit. In die daaropvolgende sestien jaar word dit bietjie vir bietjie verkoop. Turffontein, die eerste voorstad van die dorp Johannesburg, word in 1886 op die plaas uitgelê. 

1880 – Diamante gesteel

Diamante ter waarde van sowat 50 000 pond word uit die poskantoor in Kaapstad gesteel.

1902  Anglo-Boereoorlog: Genl. Chris Muller oorval

Kol. CW Park, wat drie kolomme aangevoer het en vergesel is van sowat 300 Nasionale Scouts en ’n kommando van gewapende swartes, verras genl. Chris H Muller in die Bothasberg, sowat 60 km noordoos van Middelburg en vang 153 burgers van kol. Trichardt se kommando; twee burgers word doodgemaak. 

1907 – Het Volk Party wen verkiesing

Generaal Louis Botha se Het Volk Party wen die algemene verkiesing in die Transvaalkolonie.

1937 – Totius in Bloemfontein deur die FAK gehuldig 

In 1937 besit die Afrikaanse volk reeds die Psalmboek in sy eie taal. Totius was die berymer. Ook met die Afrikaanse Bybel het hy die leeue-aandeel gehad. Kerk en volk is innig dankbaar, en die FAK neem die voortou om hierdie dank te bewys. En so word 1937 die jaar van die Totius-feeste met die hoogtepunt in die stadsaal van Bloemfontein op 20 Februarie. ’n Skare van 2000 vul die saal van hoek tot kant, en vader JD Kestell voer namens die volk die woord.Aangrypend is Die Volksblad se berig: 
 
VOLK VERENIG IN HULDE AAN GROOT DIGTER 
Harte Tril saam by Kestell-woord: Ons innig Geliefde Totius 
 
Voorts sê die blad: Dwarsdeur die verrigtinge was ’n warm Afrikanergees waarneembaar. Die toesprake, sang en grootsheid van die plegtigheid was van so ’n aard dat die koudste Afrikanerhart daardeur sou geroer word, en toe dr. JD Kestell met bewoë stem, ’n ferme handdruk en ’n traan van dankbaarheid in die oog, met die woorde “hoog geagte doktor, toegewyde bedienaar van die Woord, seer geliefde professor – innig geliefde Totius” die Transvaalse Vierkleur, wat ’n bronsbeeld van Van Wouw omsluier het, aftrek en aan hom ’n tjek van ruim £1 000 oorhandig, het geweldig toejuiging losgebars – ’n nasie het hulde gebring. 

 

Geboortes 

1860 – Prof. Adriaan Francken, professor in Nederlands en Frans aan die Grey-universeitskollege (tans die Universiteit van die Vrystaat) († 15 April 1949) 

Prof. Adriaan Francken is in Wyde-wormer, Noord-Holland, gebore, waar sy vader opsigter van ’n dyk was. Hy is op 15 April 1949 in Bloemfontein oorlede. In die jare 1876–1880 het hy aan die Rijkskweekschool in Haarlem sy opleiding as onderwyser ontvang. Vanaf 1880 was hy as onderwyser werksaam in Nederland. Gedurende 1882–1887 gee hy onderwys in Engeland, en toe weer terug na Nederland. In 1891 is hy as onderwyser aangestel aan die Grey-Kollege, waar dr. J Brill toe rektor was. Op 21 April 1891 het hy in Bloemfontein aangekom. In die Engelse Oorlog was hy ’n tyd lank op kommando. Met die totstandkoming van die Grey-Universiteitskollege is hy benoem tot hoogleraar in Nederlands en Frans. In 1927 het hy afgetree en is toe aangestel as bibliotekaris, ’n pos wat hy beklee het tot sy finale aftrede in 1939. Hy was een van die Afrikaanse kultuurstryders, en ’n stigterslid van die vereniging Ons Taal. Sy blyspel Susanne Reyniers (1908) was jare lank een van die weinige toneelstukke wat deur honderde gemeenskappe op die planke gebring is. Daarbenewens het hy ’n Afrikaanse grammatikaboek geskrywe. Prof. Francken was ’n kenner van die skilderkuns en die argitektuur. Hy was ’n begaafde klavier- en vioolspeler, en naas Frans, Italiaans en Duits, ook ’n kenner van die klassieke tale. Hollander van geboorte, het hy sy volle krag by die Boerevolk ingewerp. 

1878 – Emiel Hullebroeck, liedjieskrywer en toonsetter van Afrikaanse liedjies († 26 Maart 1965) 

Die Vlaamse orrelis, koorleier, komponis en sanger, Emile Hullebroeck, is op 20 Februarie 1878 in Gentbrugge in Vlaandere gebore en het ’n besondere geneentheid teenoor die Afrikaner geopenbaar. Hy het Suid-Afrika in 1920 besoek, liederaande landwyd gehou, en daarna veel gedoen om die bande tussen Vlaandere en Suid-Afrika nouer te trek. Bekende Afrikaanse liedjies soos “Lamtietie, damtietie”, “Trou”, “Vryheidslied”, “Grietjie” en “Die studentejare gaan verby”, is van sy toonsettings.

1930 – Prof. Cas Janse van Vuuren, Unisa se visekanselier van 1989 tot 1993 († 3 Junie 2014) 

 

Sterftes 

1971 – Ivanhoe Makepease (Ivan) Lombard, hoofsekretaris van die FAK (* 2 Augustus 1889) 

Ivanhoe Makepeace Lombard is op hierdie dag in die Kimberley-distrik gebore. As kind het hy die smaad en ellende van ’n Britse Konsentrasiekamp deurleef. As jong man en jong onderwyser (wat hom in Heidelberg as onderwyser bekwaam het) het hy die vernedering van Afrikaner-wees – in daardie jare aan die Rand – deurworstel toe hy die werkerstryd van 1913 en 1922 beleef het, die Afrikaner-armblankedom van die dertigerjare meegemaak het, die minagting van sy taal en kultuur ondervind het, die politieke verdeeldheid en onmag gesien het. Alles saam het daartoe bygedra dat hy en ander Afrikaners die voortou geneem het om saam te bind wat uit eie oortuiging bymekaar hoort, om daardeur die knegskap van die Afrikaner te oorwin. Hieruit het voortgespruit die stigting van die FAK en vele ander noodsaaklike organisasies.

2005 – Dalene Matthee, skryfster (* 13 Oktober 1938)

Dalene Matthee was ’n internasionaal-bekende skrywer, wie se boeke in verskeie tale vertaal en verfilm is. Sy is veral bekend vir haar reeks bosboeke, wat in en om die Knysnabos afspeel. Die eerste bosverhaal Kringe in ’n bos (1984) was ’n topverkoper en is met die ATKV-Prosaprys vir goeie gewilde prosa bekroon. Dieselfde eer val ook die bosverhale Fiela se kind (1985) en Moerbeibos (1987) te beurt. Sy skryf ook ander suksesvolle werke, soos Pieternella van die Kaap, Susters van Eva, Brug van die esels, Toorbos en die kortverhaalbundel Die Judasbok.

 

 

Bronne: 

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK. 

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel. 

https://www.sahistory.org.za 

https://af.wikipedia.org/wiki/