19 DESEMBER
December 19, 2016
21 DESEMBER
December 21, 2016

Gebeure

1838 – Groot Trek: Voortrekkers bereik uMgungundlovu 

Vier dae na die slag van Bloedrivier bereik die Voortrekkers uMgungundlovu wat deur Dingaan verlaat en aan die brand gesteek is.

1880 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Bronkhorstspruit 

Ten einde die Britse garnisoen in Pretoria te versterk, is ’n afdeling van die voetsoldate, 94e Regiment bestaande uit 263 offisiere en manskappe, gelas om onder bevel van lt.kol. Philip Anstruther, van Lydenburg na Pretoria te gaan. Die Boerekrygsraad het egter besluit dat hierdie opmars verhinder moet word aangesien ’n konsentrasie van Britse troepemagte in Pretoria vir die Boere ’n lastige situasie kon skep. Gevolglik is komdt. Frans Joubert (Frans Held) van Paardekraal na ’n posisie oos van Pretoria gestuur om Anstruther se opmars te stuit. Toe Joubert met sowat 200 man op 20 Desember 1880 met Anstruther se afdeling in aanraking kom, het die Engelse reeds tot aan die Honderivier by Bronkhorstspruit gevorder. ’n Sekere Paul de Beer is daarop met ’n brief na Anstruther gestuur waarin hy versoek is om nie sy opmars voort te sit nie. Toe Anstruther weier om gehoor te gee het Joubert tot aanval oorgegaan. Die Slag by Bronkhorstspruit, vier dae na die uitbreek van die Transvaalse Vryheidsoorlog, het die eerste groot slag van dié oorlog geword. In ’n geveg wat slegs enkele minute geduur het, is die Britte feitlik heeltemal uitgewis, terwyl Anstruther self kort na die geveg aan sy wond oorlede is.

 

Geboortes

1866 – Ds. Pieter Gerhardus Jacobus Meiring, leraar  († 15 Mei 1938)

Pieter Gerhardus Jacobus Meiring, wat op 20 Desember 1866 op Goudini gebore is, sterf op 71-jarige leeftyd in die tuig. Tegelyk predikant van Rondebosch, redakteur van Die Kerkbode en voorsitter van die Raad van die Kerke, geniale bedienaar van die Woord, uitmuntende joernalis en geëerde kerkleier. 

1917 – Jimmy Kruger, minister en president van die Senaat († 9 Mei 1987)

Jimmy Kruger was ’n politikus en het van 1974 tot 1979 as Minister van Justisie en Polisie in die kabinet van Eerste Minister John Vorster gedien. Hy was ook van 1979 tot 1980 president van die Suid-Afrikaanse Senaat.

 

Sterftes

1914 – Jopie Fourie, ’n Boerekryger in die ABO en tereggestelde rebelleleier (* 27 Augustus 1878)

Gebore op 27 Augustus 1878 op die familieplaas Wildebeesthoek, distrik Pretoria, het Joseph Johannes (Jopie) Fourie, nadat hy in verskeie skole in Pretoria was, aan die Grey-kollege, Bloemfontein, studeer. Hy onderbreek sy studie om aan die gevangeneming van Jameson by Doornkop deel te neem en studeer daarna by die Victoria-kollege op Stellenbosch, om uiteindelik tot die kantoor van die Ouditeur-generaal van die ZAR toe te tree. In die Anglo-Boereoorlog onderskei hy hom as ’n bekwame rapportryer en onverskrokke vegter. Nooit het hy teruggedeins om die gevaarlikste take te onderneem nie. Hy word sodanig verwond dat hy aan die een kant van sy hoof sy sig en gehoor verloor. Ná die oorlog lê hy hom toe op die boerdery op die familieplaas en is hy ’n troue ondersteuner van genl. Botha en sy Het Volk Party. Genl. Beyers wou hom oorhaal om by die pas gestigte Unie-Verdedigingsmag in 1912 aan te sluit maar dit loop slegs uit op ’n kapteinskap in die Burgermag. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het hy bedenkinge oor Botha se besluit om Duits-Suidwes-Afrika aan te val maar sy aktiewe inskakeling by die protesterendes word veroorsaak deur die optr20ede van Engelssprekende gepeupel op die Krugerdagverrigtinge in Pretoria, waarby genl. Beyers verhinder is om as spreker op te tree.

Teen die einde van Oktober 1914 bevind hy hom gewapend in die veld onder bevel van genl. JJ Pienaar. Ná verskeie skermutselinge waarin die regeringstroepe swaar verliese ly, is hy op 16 Desember saam met sy jonger broer en verskeie ander by Nooitgedacht in die Rustenburg-distrik, deur ’n oormag gevange geneem. Klaarblyklik om van hulle ’n voorbeeld te maak, is ’n krygsraad op ’n oorhaastige wyse saamgestel en is Jopie en sy broer van hoogverraad aangekla omdat hulle nie as lede van die Burgermag bedank het voordat hulle die wapens opgeneem het nie. Sy broer Hannes is tot vyf jaar harde-arbeid gevonnis, terwyl Jopie die doodvonnis opgelê is. Pogings van dr. DF Malan, ds. CA Neethling en ander om genl. JC Smuts, Minister van Verdediging, op te spoor om Jopie se vonnis te versag, het misluk aangesien Smuts sy beste gedoen het om onbereikbaar te bly – vandaar die bewys van sy betrokkenheid by hierdie vonnis.

Vroeg die Sondagoggend van 20 Desember 1914 is Jopie deur ’n vuurpeleton gefusilleer. Hartroerende briewe wat kort voor sy dood in die tronk geskryf is, onder meer aan sy volk, eggenote, advokaat, prokureur en aan genl. Louis Botha, is mettertyd by honderdtalle afgeskryf en onder Afrikaners versprei. Die oorhaastige verhoor en voltrekking van sy vonnis sou die Afrikanervolk diep skok, en die verontwaardiging teen dié optrede sou tot die snelle opbloei van die Nasionale Party lei. Dekades lank sou dit heeltemal tereg teen genl. Smuts se hoof geslinger word dat hy vir die dood van Jopie verantwoordelik gehou moet word. Jopie se oorskot is verskeie kere herbegrawe maar tans rus dit in die Ou Kerkhof in Pretoria. Op sy grafsteen pryk die woorde: “Getrou tot die dood. Geoffer vir Volk en Vaderland.”

1989 – Etienne Leroux, skrywer van o.a. Magersfontein, o Magersfontein! (* 13 Junie 1922)

Etienne Leroux was ’n internasionale bekende skrywer en een van die mees prominente Sestigers, wat die Hertzogprys meer as een keer en verskeie ander toekennings vir sy skryfwerk ontvang.

1940 – Genl. Salomon Gerhardus (Manie) Maritz, Rebelleleier (* 26 Julie 1876)

Salomon Gerhardus Maritz is op hierdie dag in Kimberley gebore. Hy was ’n polisieman in Johannesburg toe hy in Oktober 1899 saam met die Boksburgkommando na die oorlogsfront in Natal gegaan het. Hy het lid van Danie Theron se dapper Verkennerskorps geword. In Februarie 1901 gaan veg hy in die Kaapkolonie en word tot veggeneraal bevorder. Hy weier om die wapen met die vredesluiting op 31 Mei 1902 neer te lê en gaan deur Duits-Suidwes na Europa. In 1914 moet hy as Rebelleleier noodgedwonge deur Angola na Portugal vlug. Uit Duitsland het hy na sy vaderland gekom, en in 1923 word hy tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis, maar is in 1924 vrygelaat. Hy sterf in ’n motorongeluk op 19 Desember 1940. Sy outobiografie My lewe en strewe het in 1938 verskyn. Hy is in die Nuwe Kerkhof in Pretoria-Wes begrawe, waar ’n granietrots met die inskrywing “Vat my hand dat ek kan opstaan vir my volk” op sy graf aangebring is.

1985 – Olaf Andresen, Duitsgebore Afrikaanse liedjieskrywer (* 14 Januarie 1902)

Olaf Hans Andresen het bekendheid verwerf met sy skooloperettes en populêre liedere soos “My hart verlang na die Boland” en “Heidelied”. Hy is in Duitsland gebore, het na Suid-Afrika verhuis en hom volkome met die Afrikanerstrewe vereenselwig en gedurende die oorlogjare as vlugteling in Mosambiek liedere vir die Ossewa-Brandwag onder ’n skuilnaam gekomponeer. 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/